Sarah du Pisanie Omnibus 8. Sarah du Pisanie

Читать онлайн книгу.

Sarah du Pisanie Omnibus 8 - Sarah du Pisanie


Скачать книгу
s’n. Alles is netjies en agtermekaar. Nie die kwaaiste matrone of sersant-majoor sal hier ’n rafel of ’n skroef uit sy plek vind nie.

      Die huis is kolossaal, met die pragtigste antieke meubels en Persiese matte. Geelkoperpotte en allerhande soorte ornamente duik op die mees onverwagse plekke op. Annie kan in haar geestesoog sien hoe van daardie bakke vol blomme sal lyk.

      “Dis regtig ’n pragtige plek, Bert- . . . meneer Kruger.”

      “As ek jou op jou naam noem, sal jy my nie maar ook op my naam noem nie?”

      Annie moet sluk aan die knop in haar keel. Daar is ’n gefladder in haar borskas. Sy knik net en laat haar blik skaam sak.

      Haar skaam gesiggie met die dowwe blos wat teen haar nek opkruip, maak iets primitiefs in Bertus wakker. Hy wil haar wild in sy arms vasvang en haar soen totdat sy smeek om genade.

      Bertus aanvaar sonder teëstribbeling Kobus se uitnodiging vir ete. Kobus lag stilletjies by homself. Meneer Kruger hou hom verniet so ongeërg. Dis tog net om naby juffrou Annie te wees. Hy sien mos hoe loer hy so onderlangs na haar.

      Kobus se ma is baie ingenome met die idee van ’n vleis-braaiery en eie aan die Suidwesters, vir wie dit geen moeite of ontwrigting is nie, word die ander bure ook sommer genooi.

      Bertus kom daar aan net toe die son begin sak. Hy is groot en aantreklik en vanaand is Annie bly dat haar hare mooi blink op haar skouers hang en dat haar middeltjie dun en breekbaar lyk in die vroulike pienk rok.

      Dit word ’n heerlike, gesellige aand. Die Van Greunens is net sulke aangename mense soos Kobus se ouers. Hulle is ’n middeljarige egpaar en hulle beny Magriet en Koos omdat hulle so bevoorreg is om albei hul kinders by die huis te hê.

      Hulle eet sommer buite op die groot grasperk. Die jong mense sit op ’n kombers op die gras, terwyl die vier ouer mense ewe stemmig om ’n tafeltjie sit. Kobus het dit so beplooi dat Bertus tussen hom en Annie sit. Annie kan nie help om bekommerd te wonder wat in daardie rooi kop aan die broei is nie. Met blosende wange wonder sy of die seuns nie dalk al dieper in haar hart gekyk het as wat sy tot nou toe self wou doen nie.

      “Die vleis is heerlik, Kobus.” Sy lek haar vingers af en hou haar bord uit vir nog ’n stukkie wors.

      “Wat van nog ’n bietjie pap ook, Annie?” vra Magriet en skep ’n groter porsie as wat Annie gevra het.

      “Nee, dankie, tannie Magriet, ek eet sommer net agter die lekker aan.”

      Bertus vat die bord by Kobus en gee dit vir Annie aan. Haar vingers raak warm en intiem aan syne toe sy die bord by hom vat. Sy is dankbaar vir die donker wat die blos op haar wange verberg.

      “Ek hoor Rina en Danie Potgieter is toe eindelik geskei. Sy is glo sak en pak terug by haar ouers op die plaas.”

      Annie kan voel hoe Bertus hier langs haar verstyf.

      Mevrou Van Greunen is nie bewus daarvan dat hulle al twee gespanne na die gesprek tussen haar en Magriet luister nie.

      “Ag, nooit! Ek het nie geweet hulle het probleme nie. Hulle was dan maar vier, vyf jaar getroud.” Magriet is opreg geskok.

      “Nee, maar ek het altoos vir my ou man gesê dit gaan nie uitwerk nie. Daardie Danie is ook maar ’n losbol so groot as wat jy kan kry.”

      Annie loer onderlangs na Bertus. Sy sien hoe hy sy kakebene op mekaar klem en hoe ’n spiertjie in sy wang vinnig spring.

      “Gelukkig het hulle darem nie kinders gehad nie, anders was dit tog so ’n treurige affêre.”

      Bertus sit sy bord neer en Annie sit vinnig haar hand op sy arm.

      “Nog iets vir jou? Ek sal vir jou gaan haal.”

      “Nee wat, dankie.”

      Die nuus van Rina en Danie het darem nou te skielik op hom afgekom. Dis asof dit nie wil registreer nie. Dis seker wat Schalk hom wou vertel het.

      Annie se hart ween vir hom. Arme mens! Hoekom moet Rina nou juis in sy lewe terugkom en alles weer kom oopkrap? As sy hom een keer in die steek gelaat het vir ’n ander man, sal sy dit weer doen. Hy sal haar nooit weer kan vertrou nie. Hoekom juis nou? Sy en die seuns begin nou net vordering maak. As Rina ’n jaar later teruggekom het, het hy dalk ’n ander perspektief op die lewe gehad.

      Sy wens sy kan hom troos en vir hom sê sy weet van Rina; dat sy hom wil help, hom teen Rina sal beskerm. Sy moet egter doodstil sit en hom alleen met hierdie stryd los.

      Bertus kyk af na die stil gesiggie hier langs hom. Rina se beeld was altyd so helder in sy gedagtes, maar vanaand kan hy dit glad nie onthou nie. ’n Fyn gesiggie omraam met lang, bruin hare skuif gedurig voor die ander bekende beeld in.

      Hy sal eers weer vir Rina moet sien om te weet hoe hy voel. Hy sal haar nooit weer vertrou nie! Hy verkies die eensaamheid en verlange en die gevoel dat niemand omgee nie.

      Hy glimlag af na Annie se bekommerde gesiggie. Sy het so ’n fyn aanvoeling vir iemand anders se gemoedstoestand. Sy het seker nou aangevoel dat hierdie nuus iets met hom te doen het.

      Dankbaar sien Annie hoe hy later weer ontspan en gemaklik agteroor leun terwyl hulle koffie drink.

      Pieter staan op en trek Sandra aan haar hand op.

      “Kom ons gaan stap ’n entjie met die pad langs. Ons moet ’n bietjie van hierdie kos probeer verbrand. Ons sal nooit vannag kan slaap nie.”

      “Ja, dis ’n goeie plan.” Kobus is dadelik by. Pieter kyk vies na hom.

      “Niemand het jou saamgenooi nie. Moenie so ’n ou pretbederwer wees nie!”

      Sandra druk blosend haar kop teen Pieter se skouer vas en dit laat die ander skater van die lag.

      Annie staan op en stof die grassies van haar rok af.

      “Ek dink ’n stappie is net wat ons almal nodig het. Ons drie sal in die teenoorgestelde rigting stap, Pieter.”

      Bertus bly egter sit en Annie hou haar hand uitnodigend uit. “Kom, stap saam! Dit sal heerlik wees.”

      “Nee wat, ek is te oud vir sulke speletjies. Stap jy en Kobus maar.”

      “Ag, kom, moenie vir jou soos ou Metusalag hou nie.”

      Sy vingers sluit warm om hare toe hy gemaak verontwaardig opstaan.

      “Julle het deesdae geen respek vir my nie.”

      “Ons het, meneer. Ek weet nie van juffrou nie, maar ons sal niks waag nie!”

      “Hm! Dis sommer ’n storie vir jou pa se ore. Wanneer ons by die skool is, waag julle glad te veel. Ek was net te besig om julle ’n bietjie kort te vat.”

      “Jy moet laat ek agterkom die kinders raak jou oor, buurman. Ek sal my hulp moet kom aanbied,” lag Kobus se pa.

      “Nee, oom sien mos hoe gaan dit. Die onderwyseres het nie vir my respek nie, en sy leer die kinders ook so.”

      Annie hoor die tergklank in sy stem. Sy hand omvou hare nog steeds en dit wil haar laat lag en sing van die warm vreugde wat haar skielik so lig en vrolik laat voel.

      Sy trek versigtig haar hand uit syne. Die ondeunde

       Kobus staan hulle met valkoë en dophou. Hulle stap ver met die plaaspad langs en Kobus is vol kwinkslae.

      “Wat betaal meneer my as ek nou verdwyn?” Hy gaan staan laggend in die middel van die pad. “Ek reken nou so: Pieter wil my nie saam met hulle hê nie, so meneer sal ook seker graag van my ontslae wil raak.”

      “Ag, Kobus, nou is jy darem baie stuitig!” Annie wens die aarde wil oopgaan en haar insluk. Sy loop sommer vinniger sodat sy ’n tree of wat voor hulle kan kom.

      “Ek moet eers hoor wat jou prys is. As dit nie te hoog is nie, kan ons altyd besigheid doen,” klink Bertus se diep stem agter haar op.

      Annie wag nie vir nog sulke lawwighede nie, maar begin vinnig met die stofpad langs


Скачать книгу