Die einde van die reënboog. Annelize Morgan

Читать онлайн книгу.

Die einde van die reënboog - Annelize Morgan


Скачать книгу

      Hy kyk ’n sekonde lank swyend na haar en sê dan: “Madame hoef dit nie te weet nie. U moet leer om ’n geskenk met waardigheid te aanvaar, mademoiselle.” Hy glimlag weer, lig sy hand, draai om en stap van haar af weg.

      So baie geld! dink Colette vol vreugde. Die vreemdeling moet baie ryk wees as hy sommerso geld kan uitdeel. Sy laat die muntstuk in haar roksak gly en gaan dan in die koelte van ’n boom staan om die riksdaalders te tel. Sy wil nie hê daar moet te min wees nie, madame Roubaix sal haar ’n behoorlike skrobbering gee.

      Selfs sonder die goue muntstuk is daar genoeg geld. Van die kopers het ’n ietsie ekstra gegee en nou kan sy dit na madame Roubaix neem sonder dat sy haar goue muntstuk hoef prys te gee.

      Madame Roubaix prys haar omdat sy meer teruggebring het as wat nodig was, maar gee ook nie die ekstra riksdaalders aan Colette terug nie. Sy sluit die geld in haar geldkissie toe.

      Dié aand toe sy klaar is met haar werk, wys Colette die goue muntstuk aan Oupatjie. Hy het vir haar ’n bord kos saamgebring.

      “Wil jy nou meer! Hiermee kan ek vir my ’n nuwe pyp koop, of ’n mooi snuifdosie. Ek het eintlik ook ’n nuwe hoed nodig.”

      “Daardie geld gaan nie op luukshede gespandeer word nie, Oupa. Dit gaan net so na ons geldkissie.”

      “Watwou! Jy het nie hiervoor gewerk nie en ek kan dit spandeer as ek wil.”

      Colette staan op en gaan haal die geldkissie. Sy sluit dit oop en hou haar hand na Oupatjie uit om die geldstuk by hom te neem. Hy gee die muntstuk teësinnig aan haar. Toe Colette dit in die kissie wil sit, frons sy.

      “Wat gaan hier aan? Hier behoort tien riksdaalders te wees en hier is nou net vier!” Sy kyk vinnig na die ou man wat so skuldig lyk soos ’n kat wat vet gesteel het. “Oupa, waar is die ander ses riksdaalders?”

      Hy trek ’n gepynigde gesig.

      “Ek het ’n deposito betaal op ’n mooi jas vir my. Die jas kos net dertig riksdaalders en as ons mooi spaar, kan ek dit koop.”

      Colette sug diep. “En wat van my, Oupa? Het ek nie ’n paar skoene dringend nodig nie? Het ek nie ook ’n paar goedjies nodig nie? Dis nou somer. Wat wil Oupa met die jas maak?”

      “Dis vir die volgende winter.”

      Colette skud haar kop beslis.

      “Oupa gaan die ses riksdaalders môre haal. Die winter lê nog ver in die toekoms.”

      Jerôme kry ’n treurige uitdrukking op sy gesig. “Volgende winter is ek dalk nie eens meer hier nie.”

      “As Oupa nie volgende winter meer hier sal wees nie, sal Oupa ook nie die jas nodig hê nie,” kap sy terug. As hy nou so wild en wakker gaan geld uitgee, sal hulle baie swaar kry.

      “Ek werk hard vir my geldjies.”

      “Dan moet Oupa net dié gebruik wat u self verdien het en nie myne ook vat nie.”

      “Wat gaan jy nou doen?” wil hy weet.

      “Ek gaan van nou af die sleutel by my dra. As Oupa iets nodig het, kan Oupa vir my kom vra.”

      “Jy sal my nooit ’n riksdaalder gee nie!”

      “Ek is nie so harteloos nie, Oupa, maar die geld sal net op noodsaaklikhede gespandeer word.”

      Hy snuif hard.

      “Jy is nes jou oorlede ouma,” brom hy vies.

      “Dan moet dit maar so wees, Oupatjie,” sê sy paaiend. “Ek is nie ’n monster nie, maar iewers sal ons ’n streep moet trek. ’n Jas is nie nodig nie en basta!”

      Lank nadat sy bed toe is, sit hy nog by die tafeltjie en hoor sy hom met homself praat. Haar hart wil-wil week word, maar sy besef alte goed dat as sy nou sag word, hulle baie gou geldelike probleme gaan hê. Oupa Jerôme kon nog nooit met geld werk nie en as gevolg daarvan het hy en ouma Jeanne dikwels swaar gekry.

      Twee weke later is Colette en Jerôme nog by die Goue Kat. Elke aand bring die ou man vir sy kleindogter ’n bord kos en dus gaan dit veel beter. Anna het by madame Roubaix gaan kla oor die kos, maar die hospita het die ou man gelyk gegee. Gratis kos was deel van hulle ooreenkoms. Buitendien besef sy maar alte goed dat sy nie weer iemand só goedkoop in diens sal kan neem nie.

      Oupatjie is nog baie ongelukkig oor die jas. Die handelaar het hom net vyf riksdaalders teruggegee en daarvan het hy toe vir hom ’n nuwe snuifdoos en ’n rolletjie pruimtabak gaan koop. Die res van die geld het hy vir Colette teruggebring.

      Van die aantreklike vreemdeling is daar nou geen teken meer nie. Dis net nog die goue muntstuk wat haar elke keer aan hom herinner.

      Toe sy jonger was, het sy dikwels van die wêreld van die rykes gedroom. Sy het haarself gesien in kosbare sy en fyn kant getooi. Sy het gedroom van ’n duur rytuig waarvoor daar vier spogperde ingespan is. En op feesdae sou hulle koppe met pluime versier wees. Daar sou ’n galante edelman aan haar sy wees met edelgesteentes in die gespes op sy skoene en in die speld in sy krawat.

      Dit was alles maar net drome, maar dit was lekker drome. Die werklikheid, het sy baie gou agtergekom, is heeltemal anders. Geen edelman sal met ’n arm meisie trou nie. Die beste sou wees as sy liewer haar voete op die aarde hou en soek na ’n hardwerkende man wat vir haar en hulle kinders kan sorg.

      ’n Swierige rytuig is ook nie vir haar bedoel nie. Dit sal ’n nuttige rytuig moet wees met twee sterk perde voor ingespan.

      Sy sal aan haar wit gestyfde voorskote en gemaklike stewels gewoond moet raak. Sy sal ’n deugsame vrou moet wees en sonder die fynere dinge moet klaarkom. Sy sal geen juwele besit nie en ook nie ’n spinet waarop daar in ledige uurtjies musiek gemaak kan word nie.

      Daar is tien riksdaalders en die goue muntstuk in die geldkissie. Dis maar ’n armsalige skat. Daarmee kan sy skaars een van die tabberds van die deftige vrouens bekostig.

      Oupatjie koester egter ander gedagtes. Hy bekyk die gereelde besoekers van die eethuis vanuit die kombuis. Volgens hom het dit tyd geword dat Colette begin dink aan ’n man. Dan sal sy nie meer die beurs so nougeset bewaak nie.

      Een aand haal hy dié onderwerp op.

      “Dis tyd dat jy aan trou dink.”

      Sy verstik byna. “Nou wat laat Oupatjie aan só iets dink? Ek ken dan geen man nog hier in die Kaap nie!”

      “Dis juis die probleem. Jy kyk nie eens om jou rond nie. Het jy dan nog nie gesien hoe party van die mans jou aanstaar nie?”

      “Ai, Oupa, is dít nou ’n rede om ’n trourok nader te sleep?”

      Hy laat hom egter nie afskrik nie.

      “Daar is so ’n jong man wat elke dag daar by die deur sit. Hý lyk nie te onaardig nie.”

      “Hy is ’n Hollander en werk by ’n leerlooiery,” antwoord sy onbelangstellend.

      “En wat is daarmee verkeerd?”

      “Hy is reeds getroud.”

      Oupa snuif hard.

      “Nou ja, wat van die een wat elke keer hoenderbredie bestel – of dit nou op die spyskaart is of nie?”

      “Hy is ’n oujongkêrel,” antwoord sy.

      Toe sy die ou man se blink ogies sien, voeg sy by: “Maar hy pruim en sy tande is al geel van die tabaksop. Hy het ook ’n yslike vrat op sy oor.”

      “Maar hy het dalk geld,” kap hy terug.

      “Dit mag so wees, maar hy spandeer dit nooit. Die vrou wat met hom trou, kry ’n baie suinige man.”

      “Nou wat van –”

      “Luister, Oupa,” val sy hom in die rede. “Laat my tog toe om my eie man uit te soek? Dis seker nie te veel gevra nie?”

      Hy snuif hard.

      “Julle


Скачать книгу