Vat 'n gap. Jana du Plessis

Читать онлайн книгу.

Vat 'n gap - Jana du Plessis


Скачать книгу
winkelsentrums en geboue in Engeland is H&M se kantoor verhit, en sy weier om haar nuwe baadjie uit te trek. Dit sal haar hele uitrusting bederf!

      Net toe sy wil opstaan om die kleedkamer te gaan soek, verskyn die vrou wat haar ’n week gelede gebel het met die blye nuus oor haar portefeulje. Sy begelei Jaz na ’n vertrek waar ’n paar mense op ’n ry sit met notas, penne en glase water. Dit voel vir Jaz skoon asof sy ’n Idols-finalis is. Hulle beduie vir haar om te begin.

      Eers wys sy haar pragsketse; die paneel knik ingenome. Hulle glimlag afwagtend toe sy die H&M-sak optel. Sy haal diep asem, druk haar hand in die sak, vat die materiaal raak.

      “Look, I must just warn you … My items aren’t finished. I sort of completed this one piece, but it’s definitely not a reflection of my talent.”

      Sy trek die materiaal stadig uit, maar dan haak ’n punt aan iets in die sak. Sy glimlag verleë. Die paneel frons. Sy pluk-pluk, maar haar een en enigste rokkiehemp het toegevou soos ’n vlieëvanger wat sy prooi gevang het. Sy voel hoe die sweetkolle onder haar arms plasse word. Fokkit! Hierdie is haar groot kans en sy is besig om dit totally op te mors!

      Sy pluk nog ’n keer. Waddehel haak so aan haar rokkiehemp? Het sy ’n naald of iets aan die materiaal vergeet? Met ’n aaklige skeurgeluid kom die materiaal los en ’n item wat selfs Jaz nie in ’n kategorie kan plaas nie, kom te voorskyn.

      Sy weet sy het verloor, maar tog. “I’m so sorry! But if you look at my sketches instead, you’ll see what I actually had in mind. It’s … like … not this.” Sy wapper die materiaal soos ’n vlaggie, glimlag hoopvol.

      Die vrou wat haar gebel het, praat eerste. “You had a great opportunity here, Margaret, and you obviously didn’t take it seriously.”

      “But I …”

      Die vrou kyk Jaz stip in die oë. “How can you ever expect to be a designer when you clearly can’t even work with material?”

      Jaz sluk.

      “Please take your sketches when you leave, Miss Coetsee.”

      Toe sy en haar gekrenkte ego uit die vertrek skuifel, neem ’n jong meisie met ’n klerebalk vol oulike bloesies en dromerige rokkiehemde haar plek in. Jaz sien hoe die paneel se oë skitter toe sy die deur agter haar toetrek.

      Eers toe sy in die straat is en ’n paar trekke van haar sigaret gevat het, maak sy die H&M-sak oop om te kyk wat haar toekoms so lelik verwoes het. Aan haar mislukte rokkiehemp hang die skoenlapperhangertjie wat Jess vir haar vir haar een-en-twintigste verjaardag gegee het. Dit moes op ’n manier in die sak beland het, want die hakie wat die stukkie juweliersware aanmekaar hou, het aan die twyfelagtige klere-item geheg en gesorg dat dit met haar plukke uitmekaar geskeur is.

      Jaz kyk op na die grys, grys wolke. Probeer jy vir my iets sê, Jess? Is ek nie goed genoeg om ’n klereontwerper vir H&M te wees nie, hè? Wel, te hel daarmee!

      Sy weet daar is net een ding wat haar op hierdie oomblik sal opkikker.

      Die oproep is so onverwags soos die son wat skielik oor Oxfordstraat skyn.

      Jaz stap uit Topshop, ’n nuwe baadjie en bloes in die inkopiesak in haar hand. Sy grawe haar iPhone uit haar handsak. Moeder. Die onverwagte son verdwyn saam met die shopping high wat sy pas beleef het.

      “Hallo, Moeder.”

      Stilte.

      “Hallo, Ma, is jy daar?”

      Haar stem eggo oor die statiese lyn. Die frustrasie van oproepe uit Suid-Afrika! Sy hoor haar ma snik. Ugh, sy het nie nou krag vir Moeder se melodrama nie.

      “Wat gaan aan, Ma?”

      Seker weer een van daardie “Ek voel jammer vir myself omdat my enigste kind my alleen in Suid-Afrika agtergelaat het”-oproepe. Jaz is nou al gewoond aan Moeder se oproepe op Sondae, wanneer Moeder haar elke keer daaraan herinner dat sy stoksielalleen in Suid-Afrika is. Maar Moeder bel nie sommer in die week nie.

      “Is daar iets fout, Ma?”

      “J-jasmyn, ek …”

      O jinne, Moeder sukkel nie gewoonlik om te praat nie.

      “Mamma, wat is dit?”

      Jaz se hart slaan bollemakiesie. Iemand is dood. Haar pa. Haar kat. Sy stop. Iemand loop in haar vas en vloek toe hy verbyloop. Blerrie mense in Oxfordstraat. Sy beweeg na ’n systraat.

      “Ma, bedaar asseblief en sê vir my wat aangaan.”

      Haar ma haal asem deur haar tande in – Jaz het al een keer dié gebaar gesien, dit kan niks goeds beteken nie – en blaas dit stadig uit. “My kind, ek … ek het slegte nuus.”

      Jaz maak haar oë toe. Berei haar voor op die ergste. Kan hierdie dag enigsins erger raak?

      “Pa se vrou is swanger.”

      Wát? Is dit al? Jaz se oë spring oop. “Bernadine is swanger?”

      Moeder weier om haar eksman se vrou op haar naam te noem. Sy begin weer snik.

      “Moeder, relax, dis nie die einde van die wêreld nie.” Daar is belangriker goed waaroor ek op die oomblik worry, wil sy byvoeg. “Dit sou seker een of ander tyd gebeur het, Ma. Bernadine is mos iets in die dertig en Pa is haar eerste man, so dit maak seker sin.” En dankie dat Ma vra hoe dit met mý gaan.

      “D-dis nie al nie …”

      Jaz sug. Sy weet Moeder sukkel om daaroor te kom dat haar eksman ses maande ná hulle egskeiding weer getrou het – Jaz was daar om haar te sien ly – maar dis ook nou al ’n jaar of wat later. Sy wat Jaz is, hanteer die situasie op haar eie manier. Solank sy haar pa en sy nuwe jong vrou nie hoef te sien nie, is sy oukei.

      “Ja, Moeder?”

      “Jou pa wil al sy geld terughê …”

      Wag ’n bietjie! “Ek verstaan nie? Van watter geld praat Ma?”

      “Alles! Hy soek alles terug!” Moeder klink nou kwaad.

      “Maar jy het mos jou eie geld, Ma, met die besigheid en als?”

      “Ha! ’n Mens sou so dink, ja, ná al die jare se harde werk en bloedsweet.”

      Jaz kan nie onthou dat sy een keer haar ma sien bloedsweet het nie, maar wat weet sy? Sy was onder die indruk dat Moeder se eksklusiewe salon baie goed vaar. Celebrities koop dan haar skoonheidsprodukte, soos sy gereeld vir enigiemand vertel wat wil luister.

      “My kind …”

      Moeder huiwer. Dis nie aldag dat Moeder Jaz “my kind” noem nie. Nou begin sy stres.

      “Jou pa het elke maand vir my ’n toelaag gegee. Vir die huis, vir die salon, vir jou universiteitsgelde, jou sakgeld, al jou uitgawes …”

      Haar uitgawes. Hmmm. Sy wonder hoeveel van die omkoopgeld oor is op die kredietkaart wat haar pa haar gegee het voor sy na Engeland gekom het.

      “Hoekom wil hy sy geld terughê net omdat Bernadine swanger is?”

      “Daar’s glo komplikasies met sy vrou se swangerskap. Dit gaan Pa ’n groot klomp geld kos vir allerhande toetse en sonars en bla-bla-bla.”

      Jaz kan haar ma se bitterheid in elke woord hoor.

      “Beteken dit my sakgeld gaan ook nou opdroog?” Sy probeer haar stem gelykmatig hou – sonder sukses. “Dan moet ek maar opsnork hier in Engeland?”

      Haar ma trek haar asem vinnig in. “Maretha, hoe kan jy so selfsugtig wees? Wat van jou arme ma? Hoe gaan ek elke maand my gesigbehandeling en haarprodukte bekostig? Om nie eens te praat van my klere nie! Ek moet goed lyk vir my kliënte, dis wat van ’n gesiene besigheidsvrou verwag word.”

      Jaz se bloed bruis. “O! So terwyl Ma worry oor Ma se highlights en naels, gaan ek vrek van die honger duisende kilometer van die huis af.” In ’n land waar ek nie eens ’n blerrie werk kan kry nie!


Скачать книгу