Skrapnel. Irma Venter

Читать онлайн книгу.

Skrapnel - Irma Venter


Скачать книгу
kyk op sy horlosie en dan na my. “Wag jy vir iemand?”

      Ek kyk om my rond. Die vertrek is leeg. As die kroegman Ghaddafi was, sou hy dit seker nou al gesê het.

      Ek haal my skouers op. “Nee. Seker nie.” Die laaste van die bier gly in my keel af. Ek staan op. “Nag.”

      “Nag.”

      Die deur slaan agter my toe. Sekondes later gaan die ligte binne die kroeg af. Net die flitsende neonteken maak die donker minder.

      Ek loop bakkie toe, hande in die sakke, nie spyt dat my tyd gemors is nie. Ek kon buitendien nie slaap nie. Ek trek die koue naglug diep in my longe in terwyl ek wonder wat gebeur het – of eerder, wat nié gebeur het nie. Hoekom het Ghaddafi my hierheen gelok? Miskien wou hy my tog net uit die gastehuis kry. Maar hoekom? Dis nie asof ek geld het nie. En gelukkig het ek al die belangrike goed by my: Mac, selfoon, beursie, notaboek. Al wat in my kamer lê, is vuil klere en ’n tandeborsel.

      Ek leef al soos Ranna, sonder wortels of iets wat my bind.

      Ranna. Fok tog.

      Ek loop om die hoek van die gebou en knik vir die veiligheidswag by die valhek. Hy salueer my halfhartig vanuit sy houthuis. By die bakkie soek ek na die sleutels, net om te versteen toe iets hards in my rug boor.

      “Moenie roer nie.”

      Die stem is dieselfde as oor die foon, oud en hoog, asof die man dit deur sy neus forseer. Wie ook al dit is, het geruisloos beweeg.

      Waar is die veiligheidswag? Of is dit hy wat nou agter my staan? Shafts is toe en ek is alleen in ’n verlate parkeerarea. Dis ’n goeie lokval, stil en uit die pad uit.

      Ek draai skuins om die man agter my te probeer sien. “Wat wil jy hê?”

      Die pistool se greep tref my in die rug, naby waar ek vanoggend geskiet is. Pyn boor langs my ruggraat af. Die dokter het gesê niks is gebreek nie, maar ek weet nie of ek saamstem nie.

      “Bly stil!”

      “Okay, okay,” paai ek. Ek kners op my tande teen die knoop in my niere en sit my hande teen die bakkie se deur. “Is jy Ghaddafi?”

      “As dit is wat jy my wil noem, ja.”

      “Hoekom het jy nie binne met my kom gesels nie? Hoekom hierdie snert?” Ek dink skielik aan iets. “Of is die kroegman ook lid van die sindikaat?”

      Die man lag droog. “Praat is nie juis my ding nie.” Die pistoolloop boor weer in my rug. “Klim in die bakkie. Ons gaan ’n entjie ry.”

      “Wat wil jy hê?”

      “Alles.”

      Weet hy nie joernaliste verdien eintlik net sakgeld nie? En ek is niks werd as ’n losprys nie.

      “Daar’s geld in my beursie, ’n paar honderd rand. Ek kan meer gaan trek,” bied ek aan. “Daar’s ’n OTM hier naby.”

      Ek wil nie in die bakkie klim nie. Enigiets kan gebeur as ons hier wegry.

      “Ek soek nie geld nie, Alex. Jy het iets baie meer waardevol wat ek wil hê.”

      “Wat?” Waarvan praat hy? Hoekom sal die sindikaat in my be­langstel?

      Hy gee ’n hoë laggie. “Jy sal gou genoeg uitvind.”

      SARAH

      1

      Eers Lagos en nou hier. En Lagos was moeilik.

      Nee, Lagos was hel. Plein, kommin hel.

      Moembai voel min of meer net dieselfde. Dis net so chaoties, arm, raserig, vuil en vrek warm soos Wes-Afrika. Ek kon die rommel in die strate sien lê toe ons geland het. En nie bietjie gemors nie, báie. Net die mense lyk anders. En die man wat my nuwe, amper leë paspoort stempel, is ten minste vriendeliker as die beampte in Nigerië.

      Ek was negentien ure in Lagos toe ek agterkom sy is al weke gele­de weg. Wéke. Net die skielike waarskuwing dat sy haar kredietkaart in Moembai gebruik het, het my van ’n uitgerekte soektog gered. Hoe sy in Indië gekom het, weet ek nie. Sy moet kontant betaal het vir haar kaartjies. Busse gehaal het. Geryloop, geswem en oor grense gesluip het. Dalk het sy selfs ’n nuwe paspoort in die hande gekry. Die vrou weet van weghardloop en verdwyn, dit gee ek toe.

      Ek is gelukkig dat sy haar kredietkaart gebruik het. Vir maande lank het sy niks daarmee gekoop nie. Sy moet desperaat gewees het om dit uit haar beursie te haal. Sy is tog slimmer as dit.

      Iets moet gebeur het, ’n krisis of ’n ding. Of dalk is haar kon­tant op. Die paar duisend dollar wat sy gehad het, kan nie vir ewig hou nie.

      “Juffrou?”

      Die stem skok my terug na die bedompige lughawe.

      “Ja?”

      “Wat maak jy in Moembai?” vra die middeljarige man agter die toonbank, seker vir die tweede keer.

      Die sweetvlekke onder sy arms lyk soos kaarte van Afrika. Agter my wemel dit van warm, geïrriteerde toeriste, al is dit die middel van die nag. Daar hang ’n versmorende hitte oor die plek, amper soos ’n nat kombers. Dit maak mens lui, te moeg om te beweeg. En ek weet daar wag veel erger daar buite.

      Ek trek die rooi T-hemp weg van my lyf in ’n poging om af te koel. Droog my handpalms aan my jeans af. My voete in die diksool-motorfietsstewels voel asof dit aan die brand is. Dis seker wat mens verdien as jy bietjie lengte probeer wen.

      “Ek kom kuier. Vir ’n vriendin,” antwoord ek hom uiteindelik. Onthou selfs om te glimlag.

      “Dit klink lekker. En hoe lank gaan jy hier bly, juffrou De Frei­tas?” Die beampte blaai tot hy my visum kry en bestudeer dit versig­tig.

      Ek hou my asem op. Die paspoort is ’n goeie vervalsing, maar mens weet nooit. “Omtrent ’n week.”

      Hy lig die groen boekie om beter te kan sien en kyk van my na die foto. Uiteindelik maak hy dit toe.

      Ek sluk aan die droogheid in my keel. Ek het ’n Coke nodig. En ’n sigaret. Hoe gouer hoe beter.

      Die man skuif die paspoort oor die vuilwit toonbank. Ek wil dit vat, maar sy hand bly daarop rus.

      “Dis binnekort die fees van Lord Ganesh. As jy lank genoeg bly, sal jy dit alles kan beleef. Dis baie kleurvol.” Sy snor wip soos hy glimlag.

      Ek wil vra wie Ganesh is, maar onthou vaagweg iets van ’n Hindoe-olifantgod. Ek glimlag weer. Wonder hoe mense dit die hele tyd doen.

      “Wie weet, dalk is ek gelukkig. Totsiens.”

      Hy knik ingenome en wuif vir die volgende passasier om vorentoe te kom, salig onbewus van die $30 000 en twee vals paspoorte in my bagasie.

      Buite die lughawegebou is dit maklik om ’n taxi te kry. ’n Swart-en-geel motor rem skerp toe die bestuurder my raaksien waar ek staan en rook.

      ’n Gesette, ouerige man spring uit en draf na my toe. “Taxi?”

      Ek oorweeg of sy boksie my rekenaarsak en tas sal kan vat. Lyk darem so. “Okay.”

      Hy glimlag breed en buig effens. “Jy’s welkom.”

      ’n Soortgelyke taxi stop agter syne net toe die bestuurder my tas in die kattebak laai. ’n Veel jonger man kom aangedraf.

      “Mevrou? Taxi.”

      Ek skud my kop en beduie na die bestuurder, wat lyk asof hy gereed maak om te baklei. “Ek het reeds een, dankie,” sê ek beslis en trap die Stuyvesant dood.

      Steeds kyk die jonger man na my.

      “Nee,” sê ek harder. “Néé. Regtig. Als reg.”

      Hy blaas onwillig die aftog.

      Lagos het my ’n paar dinge geleer. Soos: jy moenie onseker klink in ’n vreemde land nie, veral nie as jy ’n vrou is nie. Sê ja en nee met oortuiging. En moenie ’n


Скачать книгу