Skrapnel. Irma Venter

Читать онлайн книгу.

Skrapnel - Irma Venter


Скачать книгу
beteken dit iemand anders weet dalk ook, en dis nie goed nie.”

      “Jy vertrou my nie.”

      “Nie vir ’n oomblik nie.”

      Sy loop in die gang af en klop aan Amita se deur.

      Ek gaan staan langs haar en probeer lyk asof ek daar hoort – asof ons ou vriende is – maar ’n prentjie steek in my kop vas. My pa is lief vir Laurel en Hardy, die onpaar komediante van die 1930’s; hy kyk nog gereeld na hulle op DVD. Ek kan nie help om te dink dat ons soos Laurel en Hardy lyk nie. Ranna is oor die ses voet lank en ek trek amper by haar skouers, selfs met my stewels aan.

      Dis jammer ek kon nog nooit die kuns vervolmaak om op hoë hakke rond te trippel nie. Dalk sou my lewe baie anders gewees het as ek dit geleer het pleks van hoe rekenaars werk.

      Ranna klop weer.

      Uiteindelik gaan die deur oop. Amita se gesig sê wat ek nou net gedink het.

      Ha-ha. Baie snaaks.

      Dit pla Ranna min. “Hallo, Amita. Hoe gaan dit?”

      “Goed.” Die ou vrou wys na my. “Sy’t jou gekry.” Sy klink effens verbaas, asof sy van die begin af geweet het ek is moeilikheid.

      “Sy het,” antwoord Ranna. “Dankie vir die waarskuwing. Dit het baie gehelp.”

      “Dis niks nie.” Die ou vrou vou haar hande oor haar groen sari, haar oë vraend.

      “Amita, ek soek vir Nikhil.” Ranna glimlag vlugtig, maar dis yl en gedwonge. “Wanneer laas het jy hom gesien?”

      “Hy was netnou nog hier. Hoekom soek jy hom?”

      “Ek wil hom ’n guns vra.”

      “Hy’s seker by Jagan se winkel.” Amita sug. “Maak nie saak hoeveel keer ek raas nie, hy gaan heeltyd soontoe. Ek wens hy wil universiteit toe gaan, of gaan werk. Iets met sy lewe maak. Hy’s so anders as Karishma.” Sy trek haar skouers vies op. “Wat moet hy vir jou doen?”

      Ranna glimlag weer. “Ek gaan bietjie weg. Met vakansie, op na die berge toe. Saam met Petra.” Sy beduie met ’n duim in my rigting. “Ek wil hê hy moet my woonstel oppas, en ek weet Ka­rishma is besig.”

      Amita skud haar kop. “Dit gaan jou baie geld kos. Hy doen niks verniet nie.”

      “Dis okay, ek sal hom uitsorteer.” Ranna se oë word hard, maar steeds glimlag haar mond.

      Ek voel amper lus om die ou vrou te waarsku, maar besluit daarteen.

      As Amita weet Ranna se bedoelinge is nie eerbaar nie, wys sy dit nie. Sy knik beslis. “Ek wens jy wil. Wanneer jy hom kry, sê hy moet huis toe kom. Jagan is sleg vir hom.”

      “Ek sal so maak.”

      Ranna leun vorentoe en druk die ou vrou teen haar vas. Anders as met die glimlag bedoel sy dit. Ek waai halfhartig.

      Net voor ons by die trappe afloop, draai Ranna terug na waar Amita ons steeds staan en dophou. “Sê totsiens vir Karishma.” Sy huiwer ’n oomblik, die emosie in haar woorde amper tasbaar. “Jammer ek verdwyn sonder om te groet.”

      3

      Op die sypaadjie, met mense wat links en regs om Ranna spat soos sy deur hulle storm, draai sy ongeduldig na my. Sy beduie ek moet vinnig maak.

      “Jagan se selfoonwinkel is soontoe. Vyfhonderd meter.” Sy wys straatop.

      Mans in wit geklee skuur verby my op die sypaadjie. Ek probeer myself kleiner maak.

      Dis die ding van lank wees: mense hou hulle afstand. Ranna staan in haar eie vakuum. Stil. Broeiend. Onweerstaanbaar om dop te hou, nes die weer.

      Ek kyk op. Die wolke is steeds daar, maar g’n reën wil val nie. Die sweet stroom teen my rug af en ek is verby geïrriteerd.

      “Kom ons vat ’n taxi.”

      Ranna trek aan haar blou linnehemp sodat die lui, warm wind tussen die materiaal en haar vel inwaai. Iewers het sy son ge­vang, haar maag is neutbruin. Sy vee ’n hand deur haar swart krulle, haar arm swaar met silwerarmbande, haak die Ray-Bans voor uit haar hemp en sit dit op. ’n Toeris, Japannees of Chinees, gaan staan. Staar na haar en neem ’n foto. Kyk dan na my. Hy beduie vir die vrou langs hom met ’n hand bo sy kop. Sy lyk minder beïndruk.

      “Ons loop,” sê Ranna skerp toe hy weer sy kamera lig. “Dit sal vinniger wees.”

      “En warmer.”

      “Jy sal oorleef.” Sy waai ’n waarskuwende vinger vir die toeris en trek weg met lang treë.

      “Ek sal jou kredietkaart stop,” bied ek aan.

      Het sy gehoor wat ek oor Alex gesê het, dat hy vermis word? Het ek my misgis met haar? Met haar en Alex se verhouding? Soos hulle verlede jaar gepraat het, kon ek sweer hulle was die eerste mense op aarde om lief te raak vir mekaar.

      “Ek wil my kaart terughê.”

      “Hoekom?” Ek draf om by te hou. Gooi my rekenaarsak oor die ander skouer.

      Twintig meter verder is dit duidelik sy gaan nie antwoord nie.

      “En dan? Wat dan? Wat as ons die kredietkaart het?” hou ek aan. Hierdie vrou maak my die moer in.

      “Dan gesels ons oor Alex.” Sy ontspan bietjie en verslap haar pas.

      Dit klink darem beter.

      Ons loop in stilte verder. Ek volg kort op Ranna se hakke. As ek haar hier verloor, kry ek haar nooit weer nie.

      Ons stap deur skares mense en verby groepe taxi’s en vragmotors wat nêrens heen gaan nie. Die toeriste word minder, en verdwyn dan uiteindelik. Ek hou my asem op elke keer as ’n hoop rommel in sig kom. Daar is definitief meer as gemors binne die stapels papiere en plastiek. Dit ruik soos …

      Ek sluk en sluk weer. Dis asof die reuk in my longe intrek. Ek hoes asof ek dit kan uitkry.

      Ons draai links. Regs. Verby ’n seuntjie sonder arms. ’n Bloedjong vrou met ’n kind op die heup wil-wil vir Ranna stop, maar iets in die lang vrou se oë maak dat sy eerder omdraai en by iemand anders bedel. Ek loop vinnig verby en volg Ranna om ’n hoek.

      Voor my swenk sy skielik regs. Ek wil volg, maar gaan staan dood­stil toe die swart kraaloë van ’n bees met lang grys horings voor my opdoem.

      “Bliksem.”

      Ranna gaan staan. Kyk om en lag. “Dis okay. Loop net om.”

      “Hier’s ’n bul in die pad. In die middel van die stad, in die middel van die donnerse sypaadjie.”

      Skielik is ek weer kwaad. Onredelik, woedend kwaad. Ek smag na die orde van 0’e en 1’e. Kodes en programme wat doen wat jy vra.

      “Eintlik is dit ’n koei,” sê Ranna.

      “Ek gee nie ’n hel om nie.”

      “Dis hare.” Ranna wys na ’n maer vrou in ’n uitgewaste blou sari wat langs die koei sit. Haar lang grys hare hang tot laag op haar rug.

      “Dis okay,” praat Ranna weer. “Diere is spesiaal hier. Jy sal om die koei moet beweeg, nie andersom nie.”

      Hoekom kan die bees nie om mý stap nie?

      Genoeg. Ek vee die sweet van my voorkop af en swaai die rekenaarsak tot op my stewels se punte. Haal my sigarette uit.

      Ranna stoot haar sonbril tot op haar kop. “Wat maak jy? Loop net om. Daar’s ’n kafee oorkant Jagan se winkel. Jy kan daar rook.”

      Ek steek die Stuyvesant aan en trek die rook diep in my longe in. Die koei gee ’n tree nader.

      “Stop net daar as jy nie steak wil word nie.” Ek waai die sigaret in die bees se rigting.

      Die ou vrou wat ons dophou, begin lag.

      Ranna


Скачать книгу