Skrapnel. Irma Venter
Читать онлайн книгу.neem vyf minute om aan te trek.
Ek kry dadelik warm. Al is ek nog net ’n paar uur in Moembai, weet ek die sweet gaan my aftap sodra ek by die hotel se deur uit is. Ek kyk buitentoe, die hemel in. Daar gebeur niks wat gaan help nie. Daar is nog geen teken van reën nie. Steeds hang die wolke roerloos, hoog oor die stad, asof hulle vir iets, of iemand, wag.
Ek draf die trappe twee-twee af, tot in die hotel se voorportaal. Buite staan die taxi’s in ’n ry. Die hotel se deurwag maak die voorste een se deur vir my oop en beduie vir die bestuurder waarheen ek op pad is. Hierdie keer neem dit langer as ’n halfuur om daar te kom.
Hier is te veel mense in hierdie plek, besluit ek. En te veel motors. Skielik verlang ek na Pretoria en sy donderstorms. Na my huis en my tuin en my rekenaars en my lugversorging. Na die relatiewe stilte en vrede voor hierdie hele drama begin het. Die beheer wat ek gehad het.
Die taxi laai my voor ’n teewinkel af. Die bestuurder, sy baard so lank soos my arm, beduie ek moet uitklim. Hy jaag die enjin ongeduldig aan.
Ek skud my kop. “Dis nie die plek nie.”
Die gryskopman knik sy kop beslis. “Ja.”
“Is jy seker?”
“Ja.”
“Hoeveel skuld ek jou?”
“Ja.”
Ek het so gedink: hy kan nie Engels praat nie. Ek skil ’n paar roepeenote van die rol in my hand, omtrent dieselfde as vir die vorige taxirit, en mompel sarkasties dankie, al sal hy ook nie weet wat dit beteken nie.
Die teewinkel is piepklein en besig. Ek haal diep asem en loop in. Ek haat klein spasies. Haat baie mense. Haat mense wat ek nie ken nie. Hulle reuk. Hulle lywe wat al die plek om my vat.
Binne is daar ’n handvol plaaslike klante wat met groot geduld om ’n groep Chinese toeriste en hul rooi sambrele beweeg. Dit help ook nie dat daar drie winkelassistente is nie. Dit maak die plek net voller.
Die gedruis van die stemme om my word harder en harder.
Kan nie.
Ek storm uit, tot op die sypaadjie, en gaan staan met my rug teen die winkelvenster. Skep verlig asem. Ek gee nie eens om vir die reën wat skielik halfhartig begin val nie. Ek kyk op na die wolke en probeer van die mense vergeet.
Hierdie kan nie moesonreën wees nie. Nie soos ek dinge verstaan het nie.
Vyf minute later staan ek steeds voor die teewinkel en wonder wat om te doen. Ek was reg oor die reën; dit het reeds opgedroog. Ek staan twee tree terug, tot op die rand van die sypaadjie, en kyk weer na die geboue voor my. Die bome. Die mense.
Langs die teewinkel is ’n elektronikawinkel en langs dit ’n presiese duplikaat, buiten die naam en ’n ander kleur voordeur. Onder die teewinkel se naambord verseker ’n handgeverfde teken my dat ek wel in Lamington Road is.
Dis die regte plek, maar hier is geen huise nie, net ’n lang ry winkels. Behalwe as …
Ek gee ’n tree terug, tot op die teer. Die druppels van die bome op die sypaadjie los groot, ronde vlekke op my T-hemp. ’n Ongeduldige toeter skel dat ek moet padgee. Ek spring drie tree regs. ’n Man op ’n motorfiets volgelaai met mandjies skud sy kop en glimlag dan onverwags.
Ek kyk weer op. Bokant die winkels, verby die digte bome, is daar drie verdiepings woonstelle, groen en swart van die besoedeling en muf. Dit moet die plek wees, maar hoe kom ’n mens daar?
’n Ent verder af met die sypaadjie kry ek waarna ek soek: ’n stegie weggesteek agter ’n geroeste, halfoop traliedeur. Dit lyk asof daar trappe aan die punt van die donker gang is. Ek gaan staan voor die hek. Kyk vlugtig rond. Ek het verwag om meer aandag te trek, maar ek is net nog een van ’n spul toeriste wat luidrugtig by die winkels in- en uitbeweeg.
Ek loop by die stegie in. Draf op met die trappe. Die vrot reuk van die tropiese stad en sy rommel is nog erger hier binne as op straat.
Op die eerste verdieping begin ek van links na regs soek. Dit neem my drie minute om te weet ek gaan nooit die plek kry nie. Hier is geen nommers op enige van die deure nie. Wat nou? Moet ek regtig iemand se hulp vra?
Die deur naaste aan my staan effens oop. Ek klop sag, dan harder. Niks of niemand roer binne die woonstel nie. Volgende een. Nog een. Dieselfde stilte heers orals. By die vierde woonstel maak ’n vrou in ’n groen sari uiteindelik oop. Sy wil die deur dadelik weer toeslaan, maar ek druk die foto tot in die opening voor sy dit kan doen.
“Ek soek na hierdie vrou,” beduie ek. “Asseblief. Dis dringend. Haar ma is baie siek.”
Die ou vrou met die lang grys vlegsel kyk van my na die foto. Sy is net so kort soos ek. Diep lagplooie lyk asof hulle al jare lank om haar oë lê. ’n Rooi kol versier haar voorkop.
“Jy lyk nes my kleindogter.”
Sy beduie met ’n wysvinger, dikgeknoop van artritis, na my rooi hare wat ek gewas en net so gelos het om droog te word, en dan die stewels wat tot by my knieë kom. Die gebleikte, geskeurde jeans.
“Ek wens sy wil beter aantrek.”
Ek sweer sy lag vir my. Ek hoes ongemaklik.
“Jammer,” bied ek aan, al weet ek nie hoekom nie. “Dis dringend,” sê ek weer. “Haar ma is siek.”
Die ou vrou staar na my asof sy wonder wat ek regtig hier soek. Ek weet nie wat om te sê nie, hoop maar die pleitende kyk in my oë is genoeg.
Uiteindelik beduie sy na die woonstel in die hoek, links van haar. “Dis hare, maar sy’s nie nou daar nie.”
Die verligting spoel deur my. Dankie tog.
Ek kyk na die woonstel in die hoek en weer na die ou vrou. Dit klink soos ’n geleentheid wat ek moet gebruik. “Is jy seker sy’s nie tuis nie?”
Die ou vrou rol haar oë. “Dis moeilik om haar te mis. Dit maak my nek seer net om na haar te kyk. En my kleindogter is mal oor haar, so sy’s meer daar as by haar eie huis. Ek sou geweet het as sy daar was.”
Ek knik my kop. Dis goeie nuus. Baie goeie nuus.
Die ou vrou verdwyn in haar woonstel, maar iets vertel my haar ore sal gespits bly. Sy was net ’n bietjie te agterdogtig teenoor my.
Wat is my opsies? Ek kan later terugkom, wanneer sy hier is, of ek kan by die woonstel – ín die woonstel – wag.
Ek loop soontoe. Met elke tree kyk ek oor my skouer. Die ou vrou se deur bly toe. My hand rus op die deur se blink koperhandvatsel, skoner as die ander. Dit beweeg maklik, geluidloos.
Die deur is nie gesluit nie. Hoekom nie? Is sy tuis? Het die ou vrou gejok?
Ek stoot die deur oop en loop stadig in. My stewels maak sagte skwiekgeluide op die wit teëlvloer.
“Ranna?”
Geen antwoord nie.
Ek loop tot in die middel van die vertrek, net om verbaas te gaan staan. Alex het gesê Ranna is nie huislik nie, maar hierdie is ondenkbaar.
Dis duidelik hoekom die deur nie gesluit is nie: die eenvoudige woonstel is leeg. Wel, amper leeg. ’n Dubbelbed staan in die een hoek, by die venster. Die beddegoed is skitterwit, net soos die vloer. Daar is niks teen die nuutgeverfde mure nie, en geen teken van die boeke waarvoor sy blykbaar so lief is nie. ’n T-hemp hang aan ’n stuk draad wat voor die venster gespan is. ’n Mikrogolf staan bo-op ’n klein yskas naby die badkamer, wat niks meer as ’n hokkie is nie. Die blou stort en toilet is skoongeskrop. ’n Tandepastabuis lê op die kant van die wasbak. Daar is nie ’n handsak, rugsak, paspoort of kamera in sig nie.
Die sug ontsnap voor ek dit kan keer. Dalk is hierdie net nog ’n Lagos. Dalk is sy lankal weg.
Weet sy ek soek haar? Of is die polisie op haar spoor? Dalk het hulle ook uitgevind van die kredietkaart met die nuwe naam wat ek verlede jaar vir haar gegee het. Dat sy dit gebruik het.
Ek