Skrapnel. Irma Venter
Читать онлайн книгу.temperatuur altyd bo dertig mik. Daar is ’n rede hoekom amper almal hier plakkies dra.
Die bestuurder wil my rekenaarsak neem, maar ek skud my kop. Dit bly by my. Hy trek sy skouers gelate op en maak die taxi se deur oop. Ek klim in, dankbaar vir die lugversorging. Hy gaan sit agter die stuurwiel, kyk om en glimlag breed.
“Waarheen gaan ons? Enige plek. Sê net.”
Ek wil hom die hotel se naam gee, maar bedink my. Dalk kan hy help met wat ek nou die meeste in die hele wêreld begeer.
“Ek soek ’n Coke. ’n Yskoue Coke.”
Die laaste vloeistof wat ek gedrink het, was net voor ons geland het. Die beneukte lugwaardin het die lou blikkie iewers in die kombuis gaan opdiep ná ek drie keer gevra het. As sy kon, sou sy dit seker in my skoot omgekeer het.
Ek gee vir die bestuurder ’n rol roepeenote. Hy vat die geld sonder om te frons of te lag.
“Natuurlik. Die hitte is erg as mens dit nie gewoond is nie. En die moeson wil nie kom nie. Ek’s nou terug.”
Hy spring uit die motor. Gelukkig los hy die lugversorging aan. Ek bekommer my oor my toerusting al vandat ons geland het. Rekenaars hou nie van hitte nie. Ek moet liefs my besigheid hier vinnig afhandel.
Tien minute later is die bestuurder terug. Hy maak die kattebak oop en weer toe. Hy klim in en hou ’n blikkie Coke na my uit.
“Is dit wat jy gesoek het?”
Ek neem die koeldrank en maak dit oop. Drink. Dis koud genoeg. “Heerlik, dankie.” Ek gee nie eens om dat dit net een blikkie is nie. Dalk het hy vir homself ’n fooitjie gevat.
“En nou, waarheen?” vra hy weer.
“Die Taj Mahal Palace Hotel. Colaba.”
By die hotel betaal ek die taxibestuurder en klim uit. Hy beduie hy sal my tas bring.
Ek het net ingeboek toe die concierge nadergedraf kom. “Kan ons mevrou se bagasie neem?”
“Dis juffrou. En ek het net ’n tas en ’n sak. Ek sal regkom.”
Hy frons skerp en trek sy grys das ongemaklik reg. “En die ander goed?”
“Watter ander goed?”
Hy beduie na iets agter my. “Is dit nie mevrou … juffrou s’n nie?”
Ek kyk om. Dis ’n kis Coke.
Hoeveel koeldrank het die taxibestuurder gekoop? En hoeveel is die roepee werd? Ek het nooit gekyk nie, net die eerste beskikbare vlug hierheen geneem.
Ek gooi die rekenaarsak se band oor my skouer en maak asof ek nog heeltyd weet waarvan hy praat. “Natuurlik is dit myne. Ek het vergeet. Bring dit asseblief op, ja.”
2
Die winkel waar Ranna haar kredietkaart gebruik het is lank, smal en volgepak tot bo. Pradeep & Sons, wat lyk asof dit iets van alles verkoop, is nie ver van my hotel af nie, maar dit het die taxi ’n halfuur geneem om hier te kom. Verkeersreëls beteken niks in hierdie plek nie. Wat ook al groter is, ry eerste. Of wie ook al die hardste op sy toeter lê. Groter klínk.
Die straat ruik asof iemand oorskiet-blomkool of vis in die son laat staan het. Hopelik het die winkel lugverkoeling.
Van buite af lyk dit soos al die ander winkels in die straat, behalwe dat daar geen mense binne is nie, wat seker beteken dis die perfekte tyd om in te loop. Maar ek huiwer steeds. Dalk moet ek alles net so los. Dalk moet wat gebeur net eenvoudig gebeur.
Maar ek kan nie. Daar is te veel op die spel. Te veel beloftes en te veel skuld. Te veel van hierdie ding in my bors wat aanhou inmeng met wat ’n baie eenvoudiger lewe moes wees. Ek wens ek kon dit reboot. Upgrade.
’n Klok lui toe ek die deur oopstoot. ’n Lang, maer man kom van agter uit die winkel te voorskyn en beduie ek moet inkom. Hy het ’n skewe trek om sy mond en besonder breë skouers, asof dit die enigste deel van sy lyf is wat oefening kry. Hy lyk bekend, asof hy in ’n fliek gespeel het, maar ek kan hom nie plaas nie.
“Waarmee kan ek help?” vra hy in perfekte Britse Engels. “Ons het pragtige sari’s. Handgeweefde pasjminas.”
Hy bekyk my geskeurde jeans en stewels. Sy oë steek vas by die ses ringe – een vir elke lid van my gesin – in my regteroor. Dis die enigste juwele wat ek dra behalwe my horlosie.
“Of miskien iets van silwer? Ek het nie platinum nie.”
Ek haal die swart-en-wit-foto uit wat ek lank gelede van ’n CCTV-sisteem getrek het. Dis nie ’n goeie een nie, maar dit sal doen.
“Miskien ’n ander dag.” Ek skuif die rekenaarsak na my ander skouer. “Ek soek hierdie vrou.”
Hy neem die foto by my.
“Sy’s ’n ou vriendin. Haar ma is baie siek. Ek weet sy was hier, haar kredietkaart sê so.”
Hy skud sy kop, maar nie voor ’n senuweeagtige trek om sy mondhoeke verskyn en weer verdwyn het nie. Oë wat te vinnig wegkyk en dan terugkom.
Jackpot. Dis een van die dinge wat die tronk my geleer het. Ek ken mense sleg, maar ek kan sien wanneer hulle lieg.
Die man trek sy gespierde skouers op, maar die gebaar is stram en gedwonge. “Ek weet nie wie sy is nie.”
“Dis regtig belangrik. Haar ma is baie siek.”
Hy skud sy kop weer. Vinnig. Té vinnig.
“Ek sê mos, ek ken haar nie. Jammer.”
Hy draai om en haal ’n grys serp van die rak agter hom. “Wat van een van hierdie? Vir jou oë. Mooi oë. Baie mooi vrou. Ek sal jou ’n goeie prys gee.”
“Miskien later.”
Ek neem ’n besigheidskaartjie van die pak wat op die toonbank lê en loop uit die koel winkel die warm oggendson in.
Colaba is besig. Drie toeristebusse laai mense regs van my af, die meeste van hulle oorgewig en met groot bruin hoede, kniebroeke en wit tekkies. Die oueres onder hulle praat hard met mekaar. Klink Amerikaans.
Bedelaars en baniaanbome met wortels so dik soos telefoonpale staan die strate vol. Die lug is dik, asof mens daardeur kan sny. Die taxibestuurder het gesê dit gaan later reën. Hopelik is hy reg. Enigiets sal beter wees as hierdie hitte. Ek verkies koue. Sneeu selfs.
Ek steek ’n sigaret aan en wink ’n taxi nader. Dis elfuur en tyd om te gaan slaap. Wanneer ek opstaan, moet ek kyk waar die eerste domino in hierdie speletjie geval het.
Ek word ’n paar uur later wakker in die middel van die hotelbed waarop nog vier van my kan pas. Ná ’n Coke en ’n koue stort maak ek ’n paar oproepe.
My ma-hulle is nog okay. Selfde met my woonstel. Die derde oproep is heelwat korter.
“Alles nog reg?” Die koel asem van die lugversorger laat trek my vel saam. Ek sit kaal op die gestyfde wit linne en vryf my hare droog terwyl ek luister.
“Nie ’n beweging nie.”
“Jy weet om versigtig te wees, nè?”
Die ou man antwoord nie.
“Oom Tiny?”
“Jammer,” stel hy my gou gerus. “Dis niks. Net twee laaities wat skoorsoek met die bure se hond.”
Ek sluk verlig. “Dankie.”
“Enige tyd.”
Die foon maak plek vir die rekenaar. Dis vinnig en maklik om op die Indiese telefoonstelsel rond te snuffel. Binne ’n halfuur het ek wat ek soek. Die Sylvester Stallone-kloon – dis hoekom hy so bekend gelyk het – het sekondes ná ek daar uit is ’n oproep gemaak. Die adres lyk soos dié van ’n blok woonstelle naby die winkel.
Ek gaan haal nog ’n Coke uit die hotelyskassie en steek ’n sigaret aan. Nou