Skrapnel. Irma Venter
Читать онлайн книгу.Sy vat haar hand weg. “Mens raak mettertyd gewoond daaraan. Dis die lug.” Sy wys na die besige verkeer om ons. “Dis vuil.”
“Regtig?” Ek hoes weer.
Uiteindelik kan ek praat. “Ek wil twee vlugte doen. Deur ’n plek waar ons nie visums nodig het nie. En ons betaal kontant. Jou nuwe paspoort sê jy was in Hongkong. Dis dalk veiliger om van daar af Suid-Afrika toe te gaan, veral noudat jy die polisie hierheen gaan lok.”
“Niemand sal soveel oor my bodder nie.”
“Dis wat jy dink.”
Sy maak die rugsak by haar voete oop. Haal ’n bottel water uit en drink dit halfpad leeg. “Wat bedoel jy?”
“Dit was groot nuus toe jy verdwyn het, meer as wat jy dalk besef. Suid-Afrika het lank laas ’n vroulike reeksmoordenaar gehad.”
Die waterbottel vries in die lug. “Reeksmoordenaar?”
“Dis wat Interpol jou genoem het, al het hulle net bewyse vir Tom se dood.” Ek wonder hoe eerlik ek moet wees. “En die media. Hulle noem jou die Black Widow.”
Sy lig haar wenkbroue verbaas.
“Huisgenoot. Rapport. Son.”
“Dis nie baie oorspronklik nie.” Sy frons skerp. “Ek kan dit nie glo nie.”
“Die koerante en tydskrifte het gerun met die storie. Peter, Gerald, Tom, Billy – almal dood. Mans wat ek seker is jy nie eers ken nie, het biegstories oor jou vertel. Adjudant-offisier Boel de Jonghe het die cop geword wat jou amper gevang het.”
“En jy wil hê ek moet teruggaan?”
Die skuld proe bitter in my keel, ’n emosie wat my onkant betrap. Dis tog nie asof ek en Ranna vriende is nie.
“Huh-uh,” antwoord ek tog. “Ek het jou al gesê: ek weet nie wie anders om te vra nie. Niemand anders gee genoeg om vir Alex om dit te doen nie. En ons praat van ’n sindikaat hier, nie een ou nie. Die odds is nie juis goed nie. Buitendien, Alex se ma … Sy is vas oortuig jy’s die enigste een wat kan help. Dalk sou ek nie eers hier gewees het as sy nie gevra het nie.”
“Tannie Sophia? Dis die eerste keer dat jy dit noem.”
“Ek het nie gedink dis nodig om jou af te pers nie.”
Sy lag kortaf.
Ek sug. “Tannie Sophia like jou. Sy sê as jy Alex se pa op sy plek kon sit, kan jy enigiets doen. Sy praat nou nog oor die dag toe jy Francois Derksen platgeslaan het.”
“Is sy okay?”
“Sy is, behalwe vir hierdie gemors. Alex is al wat sy het. Jy behoort dit te verstaan. Jy en jou ma was lank alleen ná jou pa se dood.”
Ranna kyk weg, knik dan halfhartig. Sy maak haar rugsak oop en bêre die water. “Jou instink was reg, jy hoef nie vir tannie Sophia as troefkaart te gebruik nie. Om jou te hoor vra vir hulp is amper genoeg. En Alex … nou ja.” Sy vee oor haar voorkop en haal dan diep asem. “Ek hoop hierdie vrou se papiere is goed. Regtig goed.”
“Sy’s die beste wat daar is. Ek gebruik haar gereeld.”
“Dan soek ek nog ’n stel dokumente sodra ons in Suid-Afrika is. Voor ons enigiets anders doen.”
“Hoekom?”
“Vir ingeval ek vinnig moet wegkom. En as iemand al die geld uit my bestaande rekeninge kan loskry en na die ander filter, sal ek bly wees. Die situasie is ernstiger as wat ek gedink het.”
“Dit gaan tyd mors. Aandag trek.”
“Dis ses weke later, Sarah. Ses dêm weke in die hande van ’n goudsindikaat! ’n Uur of twee gaan nie ’n verskil maak nie. En as ons in Joburg land, is ons in elk geval naby jou kontak. Ons kan vinnig wees.”
Sy dink ’n oomblik na. “Buitendien, Alex is in die moeilikheid, maar dit beteken nie hy het my vergewe ná ek verlede jaar uit Suid-Afrika weg is nie. Om hom te help beteken nie ons twee sal bloot aangaan waar ons laas opgehou het nie. Alex is kwaad vir my, en jy weet dit. Hy los dinge op. Ek …” Sy lag bitter. “Ek hardloop weg.”
Sy skuif die rugsak by haar voete rond, staar daarna. “Sodra ons hom het, moet ek verdwyn. En nie met dieselfde paspoort as waarmee ek in die land ingekom het nie.”
Ek bly stil. Hoe kan ek instem om dit te doen?
“Jy weet ek is reg,” hou sy aan. “Dis nie … Alex is steeds …”
Sy draai haar kop weg, kyk na die verkeer langs ons. “Ek sal enigiets doen om hom te help, maar ek moet myself ook help. Anders is ek net weer daardie vrou wat wegkruip in Dar es Salaam. Die een in my pa se studeerkamer.”
“Dis tyd wat ons …”
“Ek wil nie voorwaardes stel nie, Sarah, maar ek gaan nie toegesluit word vir die res van my lewe nie.”
“Goed dan,” gee ek onwillig toe. “Ons maak so. Maar daarna gaan ons direk na Alex toe – hoe vinniger, hoe beter.”
Ek sit my sonbril op voor sy iets kan sien wat my dalk verraai.
Sy mag nie weet dat sy nooit die kans sal hê om daai nuwe paspoort te gebruik nie.
RANNA
1
My pa roep my.
Dis vreemd. Hy is dood, is hy nie? Ek het hom doodgemaak toe ek elf was.
Of het ek?
“Isabel?”
Hy gebruik my eerste naam. Die een wat ek haat. Die naam wat hy besluit het om my te doop. Sy ma se naam.
Kan dit regtig hy wees?
“Isabel!”
Dit ís sy stem. Hy is in die sitkamer, soos altyd hierdie tyd van die aand, maar iets is anders. Hy is bang. ’n Mens kon dit aan die etenstafel sien. Hy het twee keer gaan kyk of die agterdeur gesluit is, en die gordyne toegetrek nog voor dit donker was. Seker gemaak sy tas staan reg by die deur vir wanneer hy vanaand vir besigheid moet ry.
Ek weet nie waarvoor hy bang is nie. Ek en my ma is gewoonlik bang vir hóm.
Miskien is hy siek. Hy het by die tafel oor sy bors gevryf. Dalk is dit ’n hartaanval. Of ’n beroerte. Dis mos wat mens kan kry as jy te veel sout eet. En hy is altyd besig met die sout. Nog, nog, nog.
As hy siek is, maak dit hom nie minder drink nie. My ma tel gewoonlik die glase brandewyn. Dis hoe sy weet om vir my te sê om te gaan slaap, maak nie saak hoe laat dit is nie. Ek het ook geleer om te tel. Die glas in sy hand is nommer vyf, een voor ek kamer toe moet gaan. Dit moes nou eers drie gewees het. Die TV-nuus het nog nie begin nie.
“Isabel, magtig. Ek praat met jou!” roep hy weer.
Ek loop sitkamer toe.
Hy sit in sy leunstoel, sy bene uitgestrek voor hom. Toe hy my sien, sit hy die glas op die koffietafel neer en beduie ek moet naderkom.
My ma sit op die bank langs sy stoel. “Sê nag vir jou pa.” Sy kyk na my met oë wat waarsku ek moet maak soos sy sê, en knik dan haar kop in my kamer se rigting.
“Nag.” Ek draai om en skarrel in die gang af.
Halfpad na my kamer stop sy stem my. “Waarheen is jy op pad?”
Ek het van sy stem gehou toe dit nog stories gelees het, maar dit gebeur nie meer nie. Nie vandat ek vyf geword het nie – ses jaar gelede. Ek onthou dit goed, want ek is mal oor stories. Deesdae lees ek self, maar lankal nie meer sprokies nie.
Ek loop stadig terug en gaan staan in die deur. Kyk na my ma. Sy beduie ek moet antwoord.
“Ek gaan slaap. Nag.”
My pa staan op, die brandewyn vir ’n oomblik vergete. “Nee.