Skrapnel. Irma Venter

Читать онлайн книгу.

Skrapnel - Irma Venter


Скачать книгу
Jagan skud sy kop heen en weer, op en af. Laat sak die rewolwer. “Waarvan praat jy?”

      “Jou pêl hier het my kredietkaart gesteel.” Sy verstewig haar greep­ en die geroggel raak erger. “Waar is dit, Nikhil?”

      “Ranna …” probeer ek keer.

      Haar vingers klem harder, dwing sy kop agteroor. Nikhil se hande baklei met haar.

      “Ranna,” sê ek weer. Ek gaan nie terug tronk toe nie, en beslis nie vir moord nie. “Hy kan jou nie antwoord as hy dood is nie.”

      Sy maak haar hand oop. Nikhil syg op die stoel neer, val dan vooroor op die toonbank. Hy hyg na asem. Vee bloed van sy gesig af. Ranna het sy neus ook bygekom.

      “Jou teef,” hyg hy.

      Haar regterhand mik weer vir sy keel, die pistool steeds op Jagan gerig. “Jou ouma het so baie moeite gedoen om jou maniere te leer, en kyk nou net.” Sy klap hom teen die kop. “My kredietkaart. Nou.”

      “Daar agter,” brom Nikhil. Hy beduie na ’n vertrek weggesteek agter ’n blou-en-wit kralegordyn. “Ek sal dit gaan haal.”

      “Jy bly net hier.” Ranna kyk na my. “Sal jy gaan soek?” Weer terug na Nikhil. “Waar is dit?”

      “In ’n metaaltrommel. Agter die sigarette.”

      Ek wip op die toonbank langs Ranna, swaai my bene oor en spring af. Hoe vinniger ons hier wegkom, hoe beter.

      Dis chaos agter in die winkel. Stapels sigaretbokse en selfone staan tot teen die dak gepak.

      Ha-bleddie-ha, Nikhil. Baie snaaks.

      Ek verloor ook my geduld met die mannetjie. Steek my kop deur die kralegordyn. “Wurg hom weer. Al wat hier is, is fone en sigarette. Waar moet ek soek?”

      Ranna gryp hom aan die skouer.

      “Wag, wag, wag. Die Dunhills, die Dunhills.”

      Ek draai terug. Dunhills. Goed. Links van my. Die stapel sigaretbokse val sonder moeite. ’n Groen trommel staan in die hoek agter dit. Dis gesluit.

      Die frustrasie en ongeduld klim in my keel op. Ek is nou rêrig moeg vir hierdie seun.

      Ek gooi die trommel op die grond neer en trap daarop met my linkerstewel. Weer en weer. ’n Sweetdruppel val op die staal toe die silwer slot uiteindelik oopspring. Binne-in is twee pakke kredietkaarte en paspoorte. Ek buk af en soek deur die kaarte tot ek die silwer een kry wat ek soveel maande gelede vir Ranna laat maak het. QS Daniels.

      Ek druk my kop weer deur die kralegordyn. “Het dit.”

      Ranna knik. “Goed.”

      Ek spring terug oor die toonbank.

      Jagan kyk na Nikhil asof hy gif is. “Ons doen nie kredietkaarte nie.”

      Nikhil snork. “Jý doen nie kredietkaarte nie.”

      Ranna klap hom weer teen die kop. “Praat mooi met ouer mense.” En toe hy haar aangluur: “Jy verdien nie dat jou ouma so oor jou worry nie.”

      Sy vat die kredietkaart by my en sit dit in haar jeans se agtersak sonder om haar oë van die mans af te haal.

      “Jy het jou kaart, fokof nou,” snou Nikhil. “En vat jou chihuahua saam.”

      My irritasie kook oor. “Hey, mannetjie, ek sal jou …”

      “Wag nou, wag nou,” paai Ranna. Sy sit haar hand op my skouer en dwing my deur toe. “Maak jy eerder seker niemand pla ons nie.”

      Die pistool skuif na haar regterhand. Sy soek blind met haar linkerhand na iets in die kant van haar rugsak. Sy haal nog ’n kredietkaart, ’n goue een, uit, haar oë vasgenael op die mans voor haar. “Ons is nog nie klaar nie.”

      “Wat?” Nikhil kyk van haar na die Glock. “Moenie nou …”

      “Bly stil,” sug Ranna. Sy sit die kaart op die toonbank neer. Skuif die pistool terug na haar linkerhand. “Jy gaan hierdie een gebruik.” Sy kyk na my en vra in Afrikaans: “Hoe lank voor ons hier wegkom?”

      “Oormôre.”

      “Viëtnam toe?”

      Wat? Dan merk ek hoe Nikhil sy ore spits. Viëtnam klink die­selfde in Engels en Afrikaans. Ranna wil hom dit laat hoor, laat onthou.

      So, dit was nog heeltyd haar plan. Uiteindelik weet ek ook wat aangaan. En dit beteken sy neem my ernstig op oor Alex.

      “Ja,” speel ek saam. “Halong Bay.”

      Sy kyk terug na Nikhil. “Oor drie dae gaan jy iets groots met hierdie kredietkaart koop. Geskenke.” Sy skuif die kaart met die naam R Abramson tot voor hom.

      Dis haar ou kredietkaart. Nikhil kan nie weet wat dit beteken nie. Arme sot. As die polisie wakker is, gaan hulle hom opspoor net ná hy dit gebruik het. Ranna is besig om ’n vals spoor te lê sodat ons makliker in Suid-Afrika kan insluip.

      Nikhil draai die kaart om en om in sy hande. “Hoekom?” Sy stem is agterdogtig. “Wie s’n is dit? Wie is Abramson?”

      “Maak nie saak nie. Jy gaan vir Karishma ’n kamera koop, en vir Amita ’n nuwe sitkamerstel. En as daar iets oor is, kan jy vir jou koop net wat jou hart begeer.”

      “Hoekom?”

      “Want ek wil vir hulle dankie sê. Jy weet hoeveel keer ek daar geëet het.”

      Ek kyk ongeduldig op my horlosie. Dis tyd om aan te beweeg.

      “Ons moet gaan. Kom,” moedig ek Ranna aan.

      Sy knik en begin stadig agteruit loop. Ek skuif die kratte voor die deur weg.

      Ranna beduie met die pistool na Nikhil. “Oor drie dae, hoor jy? Anders vertel ek vir jou ouma en die polisie waarmee jy en jou vriende besig is. Drie dae.”

      Die glasdeur klap agter haar toe. Ons loop vinnig, skuins oor die straat. Ranna gaan staan en wink ’n taxi nader. Dankie tog. Ek het begin dink ons gaan orals heen loop.

      “Dink jy hy gaan na jou luister? Oor die drie dae.”

      “Ons het seker so twee dae. Amita is ’n formidabele vrou. Nikhil is versigtig vir haar.”

      ’n Taxi stop met skreeuende bande. Dalk is taxi die verkeerde woord. Dis eintlik ’n driewielmotorfiets met ’n sitbank agter die be­stuurder, toegespan met ’n swart seil.

      Ranna klim in en beduie ek moet volg. Ons sit styf teenmekaar in die klein spasie. R16 miljoen rand in beleggings en ek kan nie ’n taxi met lugversorging of ’n groter agtersitplek kry nie.

      “Gaan ons regtig eers oormôre waai?” vra sy.

      “Ek dog jy’s nie eintlik haastig nie.”

      “Sarah.”

      “Ja, goed. Ek het in die kafee gecheck. Al die onmiddellike vlugte is vol. Ek moes seker vooruit geboek het, maar ek het nie gedink ek sou jou so vinnig in die hande kry nie.”

      “En om op die lughawe te wag gaan aandag trek.”

      “Jip.” Ek hou my rekenaarsak op my skoot vas. Sweet loop soos water teen my rug af.

      “Probeer jy ’n direkte vlug boek?”

      “Die vrou wat jou papiere gedoen het is goed, maar ons moet mooi oor daai een dink.”

      “Ek dog jy doen al die paspoorte,” sê Ranna verbaas.

      “Nee. Ek help, en ek kan baie mét dit doen, maar ek maak dit nie self nie. Paspoort, ID, bestuurderslisensie – dis ’n ander skill. Die beste is as mens blanks van Binnelandse Sake of die regering se printers kry. Daarvoor het jy kontakte nodig. Dit werk selfs beter as jy tyd het, soos om met vervalste papiere vir die primêre goed soos paspoorte aansoek te doen. Dan is dit absoluut legit. Jy weet, soos om ’n geboortesertifikaat te gebruik om ’n ID en dan ’n paspoort te kry.


Скачать книгу