Klikbek. Sidney Gilroy
Читать онлайн книгу.Stilte.
“Bart? As jy enigiets weet wat my in die ondersoek kan help, sal ek dit regtig waardeer.”
“Die Wagenaars is baie privaat, al ken almal op die dorp hulle,” sê die ou man onwillig. “Ek weet nie van ’n spesifieke rede nie. Maar Tillman Wagenaar is die spilpunt waarom die hele Rhynveld draai, en Renate is die rat wat hom vashou. Sy verdwyning is nie per abuis nie.”
Bart vee die tafel sorgvuldig af en skud die vadoek uit. Sollie kry die indruk dat die aand amptelik verby is.
“Dankie vir die ete,” verskoon hy homself.
Dan onthou hy van die inskripsie in sy kamer. “Ken jy vir Sias du Toit?”
Bart is besig om die agterdeur te sluit. Hy antwoord nie dadelik nie.
“Ek weet van hom, ja. Sy pa, Toit, boer op Klipbank, naby Onverwacht. Hy bedryf ’n vervoerbesigheid vir ekstra inkomste. Hy het laas jaar ’n nuwe trok gekoop wat ek skat Sias voor betaal het … Hoe kom jy nou by Sias uit?”
“Hy’s bekend in Bloemfontein.”
“Ja, Rhynveld se liefling-rugbyspeler en beste uitvoerproduk.”
“Ken jy hom persoonlik?”
Sollie wil hom verbeel dat ’n vlietende oomblik van skok op Bart se gesig geregistreer het.
“Nee. Hoekom vra jy?”
“Iemand het die naam Sias in my kas uitgekrap.” Hy wys in die rigting van sy kamer. “Ek het dit toevallig gesien toe ek my klere weggepak het.”
“O ja, natuurlik! Dit was Sias se kamer vir ’n rukkie.”
“Hoe so?”
“Die Du Toits het dit nie altyd so breed gehad nie. In Sias se kinderjare het dit maar broekskeur gegaan op Klipbank. Veral nadat Elsje oorlede is.”
“Sy ma?” raai Sollie.
“Ja. Tragiese storie. Sy’s oorlede met die geboorte van die tweede kind. Die kleintjie het dit ook nie gemaak nie. Toit het vir jare daarna erg rondgeval. Hy’t seker sy bes met klein Sias gedoen, maar naderhand het die werkers maar na die kind omgesien.”
Daar kom ’n veraf trek in Bart se oë. “Toit is deur vroue soos water. En drank ook. Elke naweek ’n ander flerrie wat hy op sy lorrietrips ontmoet het; hy’t destyds regoor die land gewerk. Ek dink dit was maar om van sy realiteit te ontsnap. Klipbank is stuk vir stuk verkoop tot daar vandag net ’n paar hektaar oor is.”
“So hy’t die familieplaas verloor?”
“So by so. Aan daardie kant van die dorp is daar nog net drie plase oor: Klipbank, die Jacobse se Bloustroom en die Wagenaars. Onverwacht is natuurlik die grootste van die lot.”
“Wie het die grond opgekoop?”
“Tillman, wie anders?”
“Boer Toit nog steeds?”
“Ja, maar hy was nooit veel van ’n boer nie. Hy’t destyds van die weermag af teruggekom en aangegaan asof hy nooit die grens verlaat het nie. Hy’s ’n ywerige wapenversamelaar, groot jagter ook. Ons het almal gedink Elsje sou hom tem. En dit het goed gegaan vir ’n ruk.”
“En toe sterf sy?”
“Ja.” Dieselfde verlatenheid van vroeër trek oor Bart se gesig. “Toit het net die pad gevat. As dit nie vir juffrou Madri van die laerskool was nie, sou niemand seker eens besef het dat Toit daai kind vir lang tye alleen op Klipbank gelos het nie.”
“Het Sias toe hier in die gastehuis kom bly?”
“Nee, ek het ná my aftrede die huis eers as ’n naskoolsentrum ingerig – ’n plek van veiligheid. Dis toe dat Sias hier kom bly het.”
“Dit was lank gelede,” sê Sollie.
Bart knik. “Hy was toe al ’n behoorlike bulletjie, sy maats ver vooruit … Ek het my bes met hom probeer.”
“Het julle in kontak gebly?”
Bart mik na die ligskakelaar. “Nee. Sias kom Rhynveld toe, maar besoek my nooit nie.”
Die kombuis verdonker. “Nag, meneer Mthembu.”
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.