Klikbek. Sidney Gilroy

Читать онлайн книгу.

Klikbek - Sidney Gilroy


Скачать книгу
het, sy span het die liga se eindstryd gehaal. Die toekoms lê oop voor sy seun. Toe hy daardie ouderdom was, het hy pas Klipbank en ’n berg skuld by sy oorlede pa geërf. En waar het dít hom laat eindig?

      “Ons verkoop lugtyd en hout by die hoofkamp, meneer,” onderbreek die wag sy gedagtes.

      Hy prop die selfoon terug in sy sak. Renate was baie spesifiek: geen kontak met die buitewêreld nie, slegs anonieme sms-boodskappe op die afgespreekte tye. Hy sal sy foon moet afskakel. Om die waarheid te sê, hy’s nie eens veronderstel om sy eie simkaart in die ding te hê nie.

      “Wil meneer kom kyk?” Die wag hou die tentflap opsy.

      Toit inspekteer sy blyplek vlugtig. Binnekant ruik dit na warm plastiek, modder en vis. Daar’s nie veel te sien nie: twee kampbeddens wat deur ’n riettafeltjie geskei word, muskietnette wat uit die dak hang.

      “Dankie,” sê hy, en besef dan waarvoor die wag skimp.

      Hy gee drie ekstra note saam met die fooitjie. “Sorg dat daar elke aand voor skemer twee bondels hout by my vuurmaakplek is. Droë hout.”

      Die wag verkas met ’n glimlag en Toit begin sy rugsak uitpak. Seep. Blikkieskos. Sitronellakerse. Indian Tonic Water. Flitslig. Klere vir twee weke. Vuurhoutjies. Sonroom. Pynpille. Vier bottels brandewyn. Vleis in die koelboks. Meel. Chakalaka. ’n Pampoen. Biltong.

      Hy tree terug, beskou sy proviand. Ja-nee, hy sal oorleef. Nou moet Renate en die ander net hul kant bring. Fok weet, Tillman het Vrydag sy gesig gesien.

      Die wag keer terug met twee bondels hout.

      “Ons het elke aand iemand aan diens, meneer,” sê hy toe hy dit langs die tent neerlê.

      “Ekskuus?”

      “As meneer in die nag wakker word van ’n geraas of iemand oor die houtplanke hoor loop … dis die nagwag.”

      “Reg,” sê Toit.

      Hy is self van plan om op die uitkyk te wees vir indringers. Renate Wagenaar is tot enigiets in staat. Sodra die wag hom in vrede laat, sal hy die .306 en die rollie onder die trok se sitplek gaan uithaal.

      Hy skop sy skoene uit, strek hom uit op die kampbed. Wat ’n jammerte dat hy nie ’n bokkie of twee vir die kole mag skiet nie. Die reservaat is glo propvol wild. Dalk kan hy visvang, peins hy terwyl hy hom gemaklik maak. Die enkelbed is knap vir sy groot lyf.

      Hy haal sy selfoon uit en tik vinnig: ONS HET JOU MAN. WIL JY HOM WEER LEWENT SIEN?

      Hy stuur die boodskap, tel tot by sestig en skakel die foon af, presies soos hy en Renate afgespreek het. Hulle plan beter werk, en gou ook.

      Maar hy gaan nie honderd persent by Renate se opdragte bly nie. Haar man moet nog vir Elsje se dood boet. In sý plan eindig Tillman Wagenaar nie ses voet onder die kluite nie. Hy wil hê Tillman moet ly. Daarom gaan hy hom aan die lewe hou, maar ver weg van al die rykdom waaraan hy gewoond is.

      Hoofstuk 8

      Op pad na Huis Brinkman trek Sollie die Corolla van die pad af. In die leë parkeerarea langs Laerskool Rhynveld sit hy en tob. Wat gaan hy doen as die gastehuis se mense ook so agterlik uitdraai soos die twee by die hotel?

      Hy oorweeg weer die township. Dalk is daar iemand wat kamers verhuur. Hy kan by ’n straatsmous of spaza shop probeer uitvis.

      Nee, dis te moeilik in ’n vreemde plek. Hy onthou nog té goed hoe hy en sy ma destyds gesukkel het toe hulle uit Bloemfontein na Batho moes trek. Dit was 1986 en die hele land was in ’n ystergreep van vrees en wantroue.

      Almal het Sollie en sy ma vermy, dalk oor die verbande om sy kop. In die eenslaapkamerhuisie het hy elke dag gewens hulle kan terugtrek na die Steyns se huis. Terug na die buitekamer sonder venster agter die garage. Terug na die rustige woonbuurt met sy teerstrate, blomme op die sypaadjies en gesnyde grasperke. Die ruim erf, die diep spens agter die kombuis, die swembad in die koel tuin wat die somers draaglik maak, en in die winter warm water uit die kraan.

      In Batho moet hulle water in ’n konka kook. Hier trek die bure hul vensters dig, selfs in die dag. Hulle ook. Hier is net sinkplate, stofstrate wat in modderpoele verander as dit reën en onvriendelike gesigte. Hier kyk hy af as mense na hom staar. Sy nuwe gesig maak dat hy homself nie meer in ’n spieël herken nie. Ook sy stem is vir hom vreemd, want hy hakkel nou. Veral as ander se oë brand op die opgehewe rif wat oor sy wang loop.

      Hy het sy ma oor en oor gevra dat hulle moet teruggaan. Hy wil nie hier wees nie. Hulle hoort nie hier nie. Hy wil terug wees in sy ou skool waar almal sy taal praat – Afrikaans. Terug na waar sy ma en hy waardeer word. Wilhelm, sy vriend, is soos sy broer. Die Steyns sal hulle terugneem.

      Maar sy ma bly ferm en afsydig in haar verset. Dis beter dat hulle hier woon, sê sy telkens, tussen hulle eie mense. Hy kan dit nie verstaan nie. Dit voel dan nie soos sy eie mense nie. Eers baie later, ná haar dood, het hy besef dat hy en sy ma ewe veel in Batho uitgestaan het. Sy was bruin en Afrikaans, hy swart en Afrikaans. Daarby die letsel wat hom outomaties soos ’n tsotsi laat lyk het.

      Hy het nooit na die Steyns in Bloemfontein teruggekeer nie, maar sy ma het steeds elke dag gegaan om Wilhelm se ouers se huis skoon te maak.

      Met ’n sug skakel hy die Corolla weer aan.

      Hy vind die gastehuis maklik. Met die wye stoep lyk dit soos al die ander huise in Rhynveld. ’n Denneboom gooi skadu tot teen die voordeur. Drie keer klop hy aan die loodglaspaneel. Niks nie.

      Hy klop weer, hierdie slag teen die houtraam. ’n Kat met ’n gryserigheid aan sy kennebak verskyn uit ’n blombedding, vleg sy lyf tussen Sollie se kuite deur. Toe hy afbuk om die dier te liefkoos, trek hy sy hand vinnig terug. Daar sit net riffeltjies vel waar die kat se ore moet wees. Dis afgesny of afgesit.

      Agter die voordeur kraak vloerplanke. Die kat spat dadelik weg. ’n Sleutel knars in die slot en ’n bejaarde man groet Sollie vriendelik.

      “Bart Brinkman,” stel hy homself met ’n hees stem voor.

      “Sollie Mthembu.” Die hand wat slap om syne vou, bewe effe.

      “Kom, ek gaan wys jou waar’s jou kamer.”

      Sollie soek na tekens van ander mense in die huis. Geen troufoto’s teen die mure nie, geen handsak of speelgoed wat rondlê nie, geen varsgeplukte blomme in ’n vaas nie. Afgesien van die verbleikte prente in die voorportaal is die gastehuis se mure leeg. Die eienaar van Huis Brinkman moet ’n oujongkêrel wees.

      Sollie skat hom in sy laat sestigs, dalk vroeë sewentigs. Sy grys hare is nog welig, en hy dra dit met ’n olierige kantpaadjie tot agter sy ore ingevou. ’n Geruite hemp se lang moue hang oor knobbelrige hande. Hy beweeg stadig maar beslis, knip-knip sy oë agter dik brilglase.

      Dís hoe sy baas se ouer broer moet lyk, dink Sollie. Maartin Brummels en Bart Brinkman sal tien teen een skitterend oor die weg kom.

      Die huis is baie groter as wat dit van die straat af lyk. ’n Dik tapyt strek in die gang af en verdwyn in wat seker die kombuis moet wees. Aan die regterkant is ’n formele sitkamer en televisiekamer. Die vensters strek van kniehoogte tot teen die dak en word geraam deur breë houtpanele. Uit die gang se linkerkant loop verskeie deure. Almal is toe.

      “Ek waardeer die feit dat meneer op sulke kort kennisgewing kan help,” probeer Sollie ’n gesprek aanknoop toe Bart voor een van die deure gaan staan.

      “Bart, asseblief. Noem my Bart,” sê die ou man terwyl hy deur die bos sleutels in sy hand soek.

      “Dis ’n baie mooi huis wat jy hier het.” Sollie praat harder as gewoonlik, want Bart dra ’n gehoorapparaat agter beide ore.

      “Dankie.” Die ou man glimlag vlugtig. “Die plek is so groot en dis net ek hier. Ek verhuur die kamers uit as daar veilings, begrafnisse of troues op die dorp is. Sulke tye is ek gewoonlik vol.”

      “Jy moet op Airbnb adverteer, dan sal jy besiger wees. Ek het op Google gesoek vir slaapplek, maar net die hotel het opgekom.”


Скачать книгу