Klikbek. Sidney Gilroy

Читать онлайн книгу.

Klikbek - Sidney Gilroy


Скачать книгу
regte sleutel en druk dit bewerig in die slot. Die deur swaai oop. “Kom in.”

      Sollie moet verbyskuur met sy tas. Voor hom strek ’n enorme vertrek waarin twee dubbelbeddens en kanttafeltjies met gemak inpas. Die kussings lyk papperig en aan die voetenente van die hobbelrige matrasse lê gehekelde komberse. ’n Bedompige reuk soos van ou boeke hang in die lug.

      Bart trek die gordyne voor die venster oop. Stofspikkels dans in die dowwe lig wat in ’n baan oor die plankvloer val. “Gertie het genoem dat jy ’n polisie-offisier is?”

      Sollie knik. “Ja, ek’s ’n sersant.”

      Hy staan verleë langs sy tas terwyl Bart langsaam buk om ’n handdoek uit die hangkas se onderste laai te haal. Hy vou dit oop, skud dit uit, vou dit weer toe en lê dit dwars oor die outydse wastafel neer.

      “Van Bloemfontein af,” voeg Sollie by toe sy gasheer niks daarop sê nie. Hy onthou Brummels se instruksie dat hy moet stilbly oor die ondersoek totdat hy Renate Wagenaar ondervra het.

      “Dis al Oktober.” Bart staar ingedagte deur die venster. “Ná Junie se onverwagte reën het ons almal gedink die droogte is verby. Nou lyk dit nie meer so nie.”

      Sollie glimlag senuagtig. Wat moet hy sê? Hy weet niks van droogtes en reënval af nie. Buite trek ’n skadukleed oor die boomtoppe en huise se teëldakke.

      “Dit raak skemer,” sê hy oplaas. “Nou sal dit darem koeler word ook.”

      “Is jy hier oor Tillman Wagenaar wat vermis word?” vra Bart uit die bloute.

      Sollie kry nie kans om sy verbasing te verbloem nie. “Ek is, ja.”

      “Ek is die een wat jou laat kom het.” Bart draai na hom. “Ek was landdros op Bethlehem. Vir lank.”

      Sollie besluit om stil te bly. Laat die ou man eerder praat.

      “Toe Renate die Sondagoggend besef het dat Tillman spoorloos verdwyn het, het sy my geskakel. Ek het haar gehelp om die saak aan te meld en toe ’n paar oudkollegas gekontak. Die Vrystaat mag groot en plat lyk, sersant Mthembu, maar dis eintlik klein, en veral ons geregsdienaars ken mekaar van al die jare se saamwerk. Ek ken mense in Bloemfontein, Tillman Wagenaar ook. Die kommissaris kom oorspronklik van Bethlehem af, het jy dit geweet?”

      Sollie skud sy kop.

      “Dit verbaas my altyd as ek sy gesig in die koerant sien.”

      Sollie voel meteens soos ’n pap ballon. Hy is hierheen gestuur as ’n spesiale guns van die kommissaris af, ’n guns vir Bart Brinkman en die ryk Wagenaars. Bart moes sy teleurstelling aangevoel het, want hy keer vinnig.

      “Ons waardeer dit regtig dat jy na Rhynveld gekom het, sersant. Dipou is goed met die meeste administratiewe sake, maar iets soos Tillman se verdwyning verg ’n professionele ondersoek. Dipou is nie daarvoor opgelei nie.”

      “Wie is Dipou?” vra Sollie.

      “Die konstabel wat die satellietstasie beman. Hy’s ook die voorsitter van ’n gemeenskapsprojek en ’n leier in die ZCC-kerk in Lefelo.”

      “Is hy die enigste polisieman hier rond?”

      “Nee, daar is vyf of ses, maar hulle los mekaar af. Die meeste van hulle woon in Bethlehem, dis net Dipou en Lerato wat hier in Rhynveld is. Ons het julle vroeër verwag.”

      Sollie se wenkbroue lig. “Ons?”

      “Ek en Renate.” Bart mik na die deur. “Ek sal vir Dipou laat weet dat jy hier is.”

      “Sal ek hom kan inspan om my met verklarings en dies meer te help? Ek sal graag môreoggend al afsprake wil reël, veral met die Wagenaars.”

      “As hy nie te besig is nie, ja. Pak solank uit, meneer Mthembu. Ek maak vir ons aandete.”

      “Noem my asseblief Sollie.”

      “Reg, Sollie.” Bart wys na die gang. “Die gastebadkamer is die tweede deur van links af.”

      Toe die ou man buite hoorafstand is, trek Sollie die kamerdeur agter hom toe. Hy voel vreemd al vandat hy hier aangekom het en die gevoel irriteer hom soos ’n klippie in sy skoen. Selfs al betaal hy vir sy verblyf, voel dit asof Bart Brinkman hom ’n guns doen om hom hier te laat bly. Boonop moet hy as’t ware onder die ou man se instruksie werk, met die kommissaris wat uit Bloemfontein ’n oog oor hom hou.

      Hy tel sy tas op die bed en rits dit oop. Die gevoel van sy bekende goed – sy klere en badkamersakkie – laat hom effe bedaar. Maar toe hy die hangkas oopmaak, voel dit weer asof hy oortree. Die spasie is nie heeltemal leeg nie. Daar is baadjies en hemde aan hangers en onder dit lê ’n paar weermagstewels. Als ruik na motgif. Hy lig die ekstra kussing wat op ’n rak lê tot heel bo in die kas. Agterin lê drie fotoalbums en toe hy hulle ook oplig, vou die boonste een oop. Wit mense staar uit dowwe kiekies na hom terug. Hy maak die album vinnig toe.

      Terwyl hy sy goed uitpak, karring die vreemde ongemak steeds aan hom. Dit voel asof hy nie hier mag wees nie en hy verstaan nie hoekom hy so voel nie. Hy was tog al tevore in wit huise. Telkens as deel van ’n span saam met wie hy rondgekrap, gesif en gekiek het nadat die lyke verwyder is. En hy en sy ma het drie jaar lank by die Steyns gebly, amper onder een dak.

      As polisieman het hy al dikwels in ’n wit slagoffer of klaer of getuie se voorhuis gesit. Maar hierdie is anders. Hier is nie liggaamsdele, patroondoppies of moordwapens nie. En hy is saam met die meester van die huis, nie saam met sy ma gerelegeer na ’n beknopte buitekamer nie. Hier is nie ’n geroeste stortkop wat deur die nag drup of ’n gevlekte toilet met ’n pak koerantpapier op die vloer nie. Hier het hy ’n kamer en ’n bed en ’n handdoek en alles wat daarmee saamgaan.

      Die gewaarwording bekruip hom: selfs al was hy nie in die polisiediens nie, kon hy ’n kamer in Bart Brinkman se huis gehuur het. Hierdie het niks met sy werk te doen nie. Geld het vir hom ’n plek gekoop in ’n wit huis, soos sy ma se deurgewerkte hande destyds daarvoor betaal het in die Steyns se huis. En steeds voel hy onwelkom.

      Daar is nie omdraaikans nie, besef hy dan. Die pes is in sy eie kop. Dalk as hy vir Nyandi skakel, sal hy beter voel.

      “Dumela moo mohatsa’ ka,” beantwoord sy haar selfoon. Haar stem klink blikkerig en ver.

      Hy vergeet skielik wat hy wou sê. Die besef dat hy nog nooit weg van haar was sedert hulle troue nie, tref hom soos ’n hou op die bors.

      “Sollie, is jy daar?”

      “Ja, dis ek.”

      “Ek is bly. Is jy veilig?”

      “Ek is veilig, ja. Warm. Dis vrek warm hier.”

      “Hoe lyk die hotel?”

      “Hulle was vol.”

      “En nou?” vra sy onseker.

      “Ek het plek in ’n gastehuis gekry.”

      “Dis goed!”

      Hy kan die glimlag in haar stem hoor en meteens ontspan die knope in sy skouers en nek. Hulle praat oor die dag, en toe hy vyftien minute later aflui, laat sy ’n bekende teer gevoel in sy hart.

      Nou moet hy klaar uitpak.

      Die kas se binnekant is vol stof. Sy klere gaan vuil word, hy sal dit moet afvee. Hy lig die eerste rak uit die kas. Toe hy die plank omdraai, vang sy oë die growwe letters in die hout: SIAS WAS HERE. En ’n datum.

      Sias du Toit?

      Hy moet op sy vingers tel. Die inskripsie is meer as twaalf jaar oud.

      Sollie vind Bart in die kombuis. Dit ruik na vleis wat gebraai word. Hy is doodhonger, besef hy weer.

      “Het jy reggekom in die badkamer?” Bart kyk nie op van die kospotte nie. “Die warm water vat ’n rukkie om deur die pype te vloei.”

      “Ek het, dankie,” lieg Sollie. Hy het nie kans gesien vir die beknopte stort en oorblyfsels van ’n vorige gas nie: die verbleikte waslap,


Скачать книгу