Klikbek. Sidney Gilroy
Читать онлайн книгу.is daar goeters gepak. Oranje plastiekhouers, ’n paar potplante, ’n ou koffiemeul, koekblikke met prentjies van kinders wat aan lekkernye smul. Dis deurmekaar en oudmodies, maar darem skoon.
Bart beduie hom na die tafel en hy skuif agter die blou eetstel in. Op die borde arbei werkers in die lande. Hulle lyk amper soos die Hollanders wat vanmelewe in die Kaap aangekom het: punterige hoede, stywe sokkies om die kuite, met wynvate en wingerde. Die messe en vurke se ivoorhewwe is vergeel en vol barsies.
Bart sit skottels op die tafel neer. “Dis skaapvleis. Ek hoop nie jy gee om nie?”
Sollie lag breed. “Jy grap seker! My enjin hardloop nog heeldag op twee keffie-pies. Skaapvleis klink soos koningskos.”
Die maaltyd lyk soos ’n meesterstuk. Stoom krul uit geel pampoenskywe, die kaneel en suiker daarop tot karamel gesmelt; bruingebraaide skaaptjops vorm halfmane in die erdeskottel; glaserige aartappels verdrink in ’n geurige bruin sous.
Vir lank is daar net die geklingel van eetgerei teen porselein. Bart was duidelik ook honger. Om saam met ’n vreemdeling te eet bevestig ’n sekere gemeenskaplike geneentheid, sodat Sollie kan voel hoe hy effe ontspan.
“Van waar af is jy?” vra Bart toe hy sy bord terugstoot.
“Bloemfontein.”
“Nee, ek bedoel voor dit. Of het jy daar grootgeword?”
“Matatiele.” Sollie sit die skoongeëte been netjies op sy bord terug. “Maar ek het in Bloemfontein grootgeword, by my ma.”
“En jou pa?” pols Bart.
“My ma het my eintlik maar alleen grootgemaak.” Sollie kyk na sy hande wat blink van die vet, soek rond vir ’n vadoek, wat sy gasheer aangee.
“En jou gesig? Hoe het dit gebeur, as ek mag vra?”
Die vraag was onverwags. Teen sy wil knoop Sollie se tong.
“H-h-hô …” struikel hy oor die woord.
“Ek is vreeslik jammer,” maak Bart verskoning. “Dis so ’n prominente letsel dat ek moes wonder …”
“N-… néé, Bart. Dis niks nie.” Sollie neem eienaarskap van sy tong. “Jy het my net onkant gevang.”
“Ek is steeds jammer. Dit was regtig onvanpas van my.”
Sollie maak ’n handgebaar. “ ’n Hond het my gebyt toe ek nog heel k-k-klein was.”
“Dit moes ’n groot hond gewees het?”
Dit lyk of Bart wil hê hy moet uitwei, maar hy wil nie daaroor praat nie.
“En jy?” systap hy die ou man. “Is jy hier op Rhynveld gebore?”
“Nee!” ’n Kort laggie. “Glo dit of nie, ek is ook ’n stadsmens.”
“Hoe het jy dan hier beland?”
“Destyds toe ek as landdros aangestel is, was Bethlehem se industriële gebied nog in aanbou. Die plek het geblom en blyplek was skaars. Rhynveld was die naaste dorp. En oor die veertig jaar later is ek nog steeds hier. Die plattelandse lewe is goed vir jou.”
“Die mense, bedoel jy?”
Bart staan op, loop na die wasbak en draai die krane oop. Met ’n sug buk hy om die seep uit te haal. Sollie dra die vuil skottelgoed aan.
“Wel, ek sou nie sê ek is met ope arms ontvang nie. Eerder dat ons almal in Rhynveld naby aan mekaar leef … Maak dit sin?”
“Almal weet alles van mekaar af?”
“Einste. Min word hier gesê of gedoen sonder dat dit die bostelegram haal. Altyd maar ’n stertjie wat aangelap word.” Bart skakel die ketel aan. “Só is ons gemeenskappie nou maar gemaak en gelaat staan.” Hy beduie na die yskas. “Sal jy vir ons die melk uithaal?”
Sollie gehoorsaam.
“Ja, sulke dorpies is nougeset en vol skinderbekke. Maar steeds weet niemand in Rhynveld waarheen Tillman Wagenaar verdwyn het nie?”
Bart draai swyend weg om koppies uit te haal. Sollie kan voel die atmosfeer in die kombuis het verander.
“Is ek verkeerd?” vra hy toe Bart sy koffie aangee. “Weet iemand hier wél waar Wagenaar is?”
“Renate wil nie hê dit moet uitkom dat hy weg is van Onverwacht nie.” Bart kom sit oorkant Sollie by die tafel. “Hoe seker kan ons wees dat hy vermis word?”
“Wie, Wagenaar?”
“Ja.”
“Niemand kan hom opspoor nie,” sê Sollie verbaas. “Sy bankkaarte word nie gebruik nie. Sy selfoon is af. Sy voertuig is weg. Sy familie is bekommerd en het hom as vermis aangegee. Het jy dan nie sy vrou se verklaring gelees nie?”
“Natuurlik het ek.” Bart teug aan sy koffie. “Maar weet Renate ooit wat die waarheid is? Het Tillman nie dalk net die pad gevat nie?”
Sollie dink ’n oomblik. “Hoeveel roetes is daar na en van Onverwacht?”
“Een,” sê Bart dadelik. “Sedert Lente se geboorte … die Wagenaars se dogter.”
“Ek sien. En voor dit? Was daar ander ingange?”
Bart knik. “Verskeie. Onverwacht is ’n laslapkombers van ander mense se ongeluk en mislukking. Op die hele eiendom staan daar seker vyf of ses huise leeg.”
“Hoe so?”
“Dis huise en store wat oorgebly het nadat Tillman, en sy pa voor hom, die grond opgekoop het. Die plaas was nie altyd die kolos wat hy nou is nie. Dit het tyd gevat.”
“En geld, sekerlik?”
“Hope. Maar daarvan het Renate en Tillman oorgenoeg.”
Sollie frons. “Boer hulle dan as ’n span saam? Ek het net sy naam op Google raakgeloop. Renate word nie een keer genoem nie.”
Die laggie wat Bart deur sy neus forseer, klink eerder soos ’n snork. “Tillman boer. Renate bestuur.”
“Die plaas?”
“Die plaas. Tillman. En alles en almal wat op, in of naby Onverwacht is.”
Hy staan op en draai na die wasbak, begin die skottelgoed was.
“Terug by jou oorspronklike vraag,” praat hy verder oor sy skouer. “Dis juis Renate wat seker gemaak het dat die plaas net een ingang het. Soos die pad na Kanaän, geplavei van die grondpad af, die hele drie kilometer tot by haar voordeur. Al die ander grondpaaie word gebruik, ja, maar daar is stewige hekke en in baie gevalle dubbele heinings om die gepeupel uit te hou.”
“So wat jy eintlik sê, is dat daar net een pad vir Tillman was as hy van die plaas af wou verdwyn.”
“Wat laat jou dink hy wóú verdwyn?” vra Bart skepties.
“Ek oorweeg al die opsies. Het Wagenaar rede gehad om te wou verdwyn?”
“Almal het ’n rede om te wil verdwyn, sersant. Moenie ’n fout maak nie, ek is nie Renate se vriend nie. Ek twyfel of sy werklik vriende in hierdie dorp het. Ek het haar gehelp omdat ek gedink het dis die regte ding om te doen. Maar noudat ek daaroor kon nadink …”
“Ja?” por Sollie.
Bart bly stil asof hy iets verkeerds gesê het en iemand gereed staan om hom te oordeel.
“Renate Wagenaar is ’n anderste tipe mens,” sê hy oplaas.
“Hoe bedoel jy?”
“Onvoorspelbaar. Daar’s net iets omtrent haar wat die Rhynvelders ’n ander pad laat kies as sy op straat verskyn. Dalk is dit haar kilheid teenoor dié wat minder as sy het, maar selfs die tuinbouklub se vroue vermy haar. En sy’s die voorsitter van die blerrie klub!”
“Weet jy van spesifieke probleme