Klikbek. Sidney Gilroy
Читать онлайн книгу.enorme boepens vorentoe te stu. Sy blik is ’n waarskuwing toe hy Sollie aangluur.
Sollie se ore gloei toe hy uitstap. Rhynveld se hoofstraat het merkbaar verstil. Twintig voor ses, wys sy horlosie. Die algemene handelaar en die klerewinkel het pas gesluit. ’n Taxi laai passasiers op.
Hy is nie kwaad nie. Hy is briesend. Hy is driehonderd-en-twintig kilometer van die huis af en hy het geen blyplek nie.
Hy kan na die township toe gaan en daar by ’n sjebeen inval. Dalk het iemand slaapplek teen ’n prys. Maar hy weet uit ondervinding dit gaan moeilikheid soek wees, hierdie is nie Bloemfontein nie.
Hy kan seker in die Corolla slaap …
Toe hy die tas in die kattebak terugsit, meet hy die agtersitplek. Vergeet daarvan. Afgesien van die feit dat hy nie ’n kussing of kombers saamgebring het nie, sal hy kwalik lêend daar inpas.
Hy staan verdwaald op Kerkstraat se hoek. Iemand loer vir hom deur ’n vuil venster van die drankwinkel. Hy gluur die agie kwaai aan, tot dié verdwyn. Hy is lus en klim in die kar en neuk terug Bloemfontein toe. Dan vang sy oog dit: op ’n gekreukelde vel papier langs die drankwinkel se deur word ’n gastehuis geadverteer. Hy moet binne navraag doen.
Die plek is leeg, afgesien van ’n paar laerskoolkinders en ’n dronkie. Die kinders hang in ’n bondel oor die toonbank waaragter ’n gesette vrou met rooi wange vir hulle wag om hul bestelling te plaas. Sollie gaan staan in die ry agter die mompelende man wat na bier ruik. Die voorbok onder die kinders klem ’n hand vol munte vas terwyl die res stry oor die lekkers in die plastiekhouers op die rak.
“Toe, toe!” por die vrou hulle aan. Haar wange is vol gebarste aartjies en haar hare kleef klam aan haar slape.
Langs haar op ’n stoel sit ’n jong man wat die kinders stip dophou. “Watse swiets gaan julle vat, hè?” vra hy en lag met ’n hoë hie-hie terwyl hy sy hande voor sy gesig druk.
Daar moet iets met hom fout wees, dink Sollie.
Uiteindelik plaas die voorbok die bestelling. Die vrou begin toffies, kougom en suigstokkies aftel.
“Ja, butle-butle!” waarsku sy toe sy die lekkers in die kinderhandjies uitkeer.
’n Toeter raas buite en die kinders maak haastig hul tasse bymekaar. Hulle verdwyn met ’n gekwetter by die deur uit.
Die klant voor Sollie bestel ’n Black Label quart. Die vrou haal dit van ’n rak agter die toonbank af en gee dit vir die jong man om in bruinpapier toe te draai.
Sy draai na Sollie. “Hoe help ons?”
“Ek kom navraag doen oor die gastehuis?”
“Was jy al by die hotel?” vra sy vriendelik. “Dis goedkoper as die gastehuis, maar by Bart kry jy drie etes per dag.”
“Hulle het nie vir my plek gehad by die hotel nie.” Sollie is te uitgeput om nog skaam te voel. Hy smag na ’n stort en ’n bord kos.
“Wat is jou naam?” Sy haal ’n telefoon onder die toonbank uit en pons ’n spul nommers in.
“Sollie, mevrou. Ek is van Bloemfontein se speurtak.”
“Tannie Gertie, asseblief,” help sy hom reg, en dan word haar oproep beantwoord.
“My naam is Seun,” neem die jong man sy kans waar. “Dis my ma.” Hy wys na Gertie.
“Hallo.” Sollie voel simpel waar hy staan, uitgelewer aan die man wat seker skaars op die ontwikkelingsvlak van ’n kind is.
“Ek het ook ’n seelplek gehad.” Seun glip van sy stoel af en waggel om die toonbank. Hy pluk sy skoen én sokkie uit en druk terstond sy sweterige voet in die lug.
“Kyk!” dring hy aan.
Sollie weet nie waar om te kyk nie. Die voet hang tussen hom en die toonbank.
“Kyk my seelplek.” Seun wikkel sy groottoon terwyl hy na die toonbank gryp om sy balans te hou.
Sollie moet vooroor buig om te kan sien. Die merk op Seun se harige groottoon is ’n sentimeter lank.
“Hoe het jy seelgekly?” vra Seun besorg.
Sollie het nie die vaagste benul wat van hom verwag word nie. Hy loer senuagtig na Gertie. Sy knipoog gerusstellend vir hom en gesels lustig voort.
Hy deins te laat terug toe Seun se vinger uitskiet en op sy wang land. Die hand so naby aan sy neus ruik na grond en Marmite. Hy weet nie of hy kwaad, hartseer of verskrik moet reageer nie.
Dan vertrek Seun se gesig asof hy pyn verduur terwyl sy vinger stadig oor die letsel gly. Hy volg die merk tot waar dit onder Sollie se ken eindig en al die pad terug tot teen sy haarlyn. Sollie staan versteen. Niemand, nie eens Nyandi, het dit al ooit gedoen nie!
“Seun!” raas Gertie van agter die toonbank, haar hand oor die gehoorbuis van die foon.
“My seelplek gesond wôd.” Seun wys weer na sy voet. “Is joune nog seel?”
“N-n-nie meer nie,” is al wat Sollie kan uitkry.
“Ek het ook ’n ladio!” bokspring Seun se aandag. “Kom kyk!” Hy draf opgewonde na die agterkant van die winkel, beduie wild met sy arm.
Gedwee volg Sollie hom tot in ’n stoorkamer. Daar, vasgebout teen die muur, is ’n tweerigtingradio. ’n Omgedopte bierkrat met ’n kussing daarop bied sitplek.
“Is dit jou radio?” vra Sollie verbaas.
“Ja! Ek jou da-ô loep!”
’n Demonstrasie volg. Sollie is verbaas om te sien dat dit nie net ’n speelding vir ’n kind is nie. Die radio raas en kraak soos Seun deur die frekwensies soek.
“Ek een by die huis ôk,” verklaar hy trots.
Gertie verskyn in die deur. “Reg, Bart het vir jou plek, Sollie.” Sy hou ’n skeursel papier na hom uit. “Hier’s die adres. Dis net twee strate weg.”
Sy kry Seun aan die skouers beet en boender hom sonder seremonie by die stoorkamer uit.
“Jammer oor dié een,” sê sy sag. “Hy skrik mense soms af, maar almal in Rhynveld ken hom so. Party dae dink ek mos hy verstaan meer as wat hy voorgee.”
“Geensins,” glimlag Sollie. “Dankie vir die hulp.”
Terug agter sy motor se stuur kyk hy na die adres. Huis Brinkman, Piet Uys-straat.
Seun staan voor die drankwinkel vir hom en waai. “Ek loep jou!” Hy wys na die lugdraad op die Corolla se dak.
Hoofstuk 6
Bart Brinkman werk in die donker aan sy stokperdjie. Die knyptangetjie in sy hand is glibberig en hy moet ’n paar keer na die vel fotopapier gryp. Met groot konsentrasie trek hy dit heen en weer deur die plastiekbak waarin die chemikalieë golf. Elke hoekie moet deurweek word. Ingedagte druk hy die stuk kougom verby sy lippe, ontspan sy tong, suig dit dan terug tot agter sy valstande. Die peperment verdoof die skerp reuk van die chemikalieë.
Hy loer na die muurhorlosie. Nog ’n paar minute.
Versigtig vind sy skoenpunte die bekende buitelyne van sy werkbank. Hy beweeg skuifelend in die rooi skemer van die donkerkamer tot voor die beligter. Vir oulaas verstel hy aan die negatief, plaas ’n nuwe, skoon vel papier op die oppervlak, draai die knop om die beeld te vergroot. Die buitelyne van die figure in die foto vertoon nou vlymskerp. Sonder om daarvoor te soek, reik hy na die vergrootglas op die rak. Hy verstel aan die fyner detail van die beeld. Met ’n staalliniaal raam hy die mense. Hy is tevrede.
Sy vinger bewe tot by die skakelaar. Wit lig val in ’n sirkel om hom. Hy tel af. Drie, twee, een. Die wit verdwyn en die rooi skynsel in die vertrek keer terug.
Met die papier in sy hand haas hy hom na die plastiekbakke op die verste punt van die werkbank. Met presisie dompel hy dit om die beurt in die verskillende bakke chemikalieë.