Klikbek. Sidney Gilroy

Читать онлайн книгу.

Klikbek - Sidney Gilroy


Скачать книгу

      Weer ’n klap met die plathand, hierdie keer teen sy oor. Dit brand soos vuur.

      “Wat is jou naam?” skree Matie, sy groot hand opgehef.

      “Tillman Wagenaar,” huil hy.

      Hy skop en spartel verniet toe hulle hom begin sleep. Die varke om die trog spat uitmekaar.

      “Wat is jou naam, vra ek?” Are bult op Matie se voorkop.

      “Ek is Tillman,” prewel hy bo die stink, modderige water. “Tillman Wagenaar.”

      Matie kry hom aan die hare beet en druk sy kop in die trog. Die koue skok deur hom. Hy du sy kop na agter toe die suurstof in sy longe opraak, maar Matie hóú. Die klank van die water verdof in sy ore.

      Net toe hy seker is hy gaan sterf, pluk Matie sy kop onder die vrotsige spul uit.

      “Wat is jou naam?!”

      Hy suig groot slukke lug in, knip sy oë totdat hy die bloekombome duidelik sien. Hy onthou die toneel asof hy daarvan gedroom het. Dan tref dit hom: hy het die bome gesien toe hy op die naat van sy rug hier ingery is. Agterop ’n trok.

      “Tillman Wagenaar.”

      Die woorde is onhoorbaar sag, maar Matie het sy lippe gelees.

      Hierdie keer baklei hy nie terug nie. In die stilte van die water onthou hy hoe hy hier beland het. Die vreemde boodskap oor die radio; die werkers wat hom na die spruit lok; die vloeistof wat hulle in sy keel afdwing. Hulle het sy verlamde lyf agterop die bakkie gegooi. En net voor hy sy bewussyn verloor het, kon hy sweer hy het haar parfuum geruik.

      Sy kop word opgepluk; hy snak na asem.

      “Wat is jou donnerse naam?” skree Matie.

      “Braam …” hoes hy die eerste woord waaraan hy kan dink. “My naam is Braam. Ek het gelieg.”

      “So gedink,” praat Matie selfvoldaan na sy makkers toe. “Die drugs is seker besig om af te wear. Vat hom na sy kamer toe en verduidelik vir hom die reëls. Ek sal nog besluit waar ons hom kan inspan.”

      Die lummels laat nie op hulle wag nie.

      “As hy moeilik raak, buig hom!” roep Matie agterna. “Isobel se instruksie.”

      Tillman lê in die donker en bewe onder die dun kombers. Sy hele lyf is seer. Buitekant woel en rumoer die plakkerskamp.

      Daar is ’n beweging by die deur. Danie kom in met ’n vars bakkie pap en ’n beker tee.

      “Is jy reg vir die job môre?” vra hy.

      Tillman sukkel regop. “Watse job?”

      “Ons oorleef hier deur by die publiek te bedel. Elke inwoner van die Goue Hek kry ’n kollekteblikkie waarvan net Isobel die sleutel hou. Daar’s foto’s op die kante van die blikkies.”

      “Van wat?”

      “Van die kondisies waaronder ons bly, van die kinders en oumense hier. Die foto’s help dat jy meer kan insamel. Dis goeie geld, solank jy elke dag jou target maak.”

      “Het elkeen ’n doelwit van wat hy móét insamel?”

      Danie knik. “Enigiets meer as driehonderd rand mag jy hou. Minder as honderd-en-vyftig en jy eet nie daardie aand nie. Fail jy drie keer in ’n ry, sal Matie jou beetkry. Dit gebeur baie.”

      Die hopeloosheid in die jong man se oë laat Tillman sy woorde sluk. Dis nie welwillendheid nie, kind, wou hy sê, dis skaamtelose uitbuiting.

      Toe Danie uitloop, lê hy lank na die kersvlam en staar. Saam met sy lyf is sy hart ook seer. Hy voel aan die eelte op sy vingers, bring sy hand tot voor sy gesig.

      Sy troupand is weg. Waar dit gesit het, kring ’n wit merk om sy bruingebrande ringvinger.

      Hoofstuk 5

      Voor Sollie na Rhynveld vertrek, sit hy en Nyandi vas.

      “Ek verstaan nie hoekom jy moet gaan nie.” Sy vou haar arms voor haar bors en kyk hoe hy sokkies, onderklere en skoon hemde in sy tas pak.

      “Dis vir werk, Nyandi. Waar’s my badkamersakkie?”

      Sy volg hom tot in die badkamer. “Jy moes nooit voorheen weg van die huis af werk nie.”

      “Want voorheen was ek net ’n konstabel en nou is ek ’n speurder. Besef jy ooit hoeveel dit vir my beteken dat Brummels my met my eie saak vertrou?”

      Sy rol haar oë vir hom. “Rhynveld is nie eens ’n dorp nie. Agnass sê sy het nog nooit iemand van daar af ontmoet nie en Agnass ken almal in Phahameng. Wat presies gaan jy daar doen?”

      Toe hy opkyk, is dit vas in haar frons. Sy vrou is kwaad.

      “Ek gaan my werk doen. Dis ’n polisiesaak.” Hy ploeg deur ’n berg van haar rome en lekkerruikgoed om sy badsakkie te vind.

      “Het die ryk boere dan nie hulle eie polisiemanne nie?” Daar is asyn in haar stem.

      “Nyandi!”

      “Ek sê maar net.” Sy beduie na die sinkpondokke in die verte. “Hier is meer as genoeg diewe, verkragters en moordenaars in Mangaung vir jou om te vang. Hier waar jy jou vrou gaan los. Alleen. Op haar eie.”

      “Rhynveld se polisiestasie het ons hulp gevra. Ek is gekies om te gaan.” Hy maak sy stem streng, maar sonder om die vuur aan te blaas. Dit gaan hom nie baat om met haar te stry nie.

      “Hoekom juis jy?”

      Hy wil die koeksister van haar arms ontknoop. Sy kyk anderpad.

      “Ek moet die saak oplos, Nyandi. Dit gaan goed lyk op my rekord, die tyd vir bevordering is om die draai. Selfs die kommissaris is bewus daarvan dat ek aan die ondersoek werk.”

      “Die kommissaris … jou baas se baas?” ’n Flou opflikkering in haar oë.

      “Jip.” Hy weet sy volgende woorde sal genoeg wees om haar te ontlont. “Ek los die bankkaart vir jou.”

      Nou glimlag sy effens. Daar is lig aan die einde van die tonnel.

      “Oukei, Sollie. Ek gaan vir Agnass vra of sy saans by my sal kom oorslaap.”

      Hy voel amper skuldig. Hy vergeet soms dat Nyandi daaraan gewoond was dat mans vir haar vertel wat om te doen, dat hulle na haar omgesien het van kleuter tot tiener tot jong vrou. Haar broers vir wie sy in Phuthaditjhaba moes kook en was. Die ringkoppe van die kraal. Haar ooms met wie hy moes onderhandel toe hulle wou trou. Die ouer mans, énige mans. Nyandi is geleer om aan hulle almal onderdanig te wees.

      Hy vermoed dis omdat hy vroue as sy gelyke hanteer dat sy tot hom aangetrokke was – die vreemdeling met die lelike merk oor sy gesig. Hy is ’n man, ja, maar een met ’n agterstand, een met ’n gebrek wat hom nader bring aan haar vlak. Sy letsel is ’n vloek én ’n seën.

      “Ek sal laat weet as ek daar aankom.” Hy knip sy tas toe.

      “Waar gaan jy bly?”

      “Daar’s ’n hotel op Rhynveld. Ek het vinnig van die kantoor af geskakel om te hoor of daar kamers beskikbaar is.”

      Haar lyf voel nog stokkerig en styf toe hy haar by die motor omhels.

      “Wanneer sien ek jou weer?” vra sy.

      “Ek weet nie. ’n Paar dae, het die kaptein gesê.”

      Sy groet hom darem met ’n piksoentjie, en staan lank in die truspieël en wuif.

      Halfdrie, wys sy horlosie toe hy en die Corolla die snelweg vind. Die verkeer tot anderkant Maselspoort is druk, maar gou verdwyn Bloemfontein en word die pad ’n eentonige grys lyn wat voor hom uitstrek. Hy sluit aan by die stroom lorries en enkele motors op die N1. Met tye kraak die tweerigtingradio as hy verby radiotorings op die plase ry.

      Brummels


Скачать книгу