Sewe-en-veertig. Irma Venter
Читать онлайн книгу.haar hande in die lug gooi, omdraai en na die voetgangerhek van die hoë woonstelblok loop.
Die Uno brul weg, rubber wat brand. Kan net ’n laaitie wees wat so ry.
Isolde maak die sekuriteitshek met ’n elektroniese kaart oop. Manor Place het tien verdiepings. Die woonstelle het elkeen ’n balkon wat see toe wys – nie dat hulle noodwendig verby die gebou voor hulle kan sien nie.
Die hek slaan toe dat die groen palissadeheining bewe.
Ek voel na die Parabellum in die holster onder my arm, bly dis daar.
Die BMW en Tatoevrou beweeg nie.
Ek stel die Audi se rugleuning agtertoe sodat ek gemakliker kan sit. Haal ’n pakkie wegsteekbiltong uit my baadjiesak.
Die onkoloog raas, en Sarah sal seker ook, maar wie sal nou weet?
SARAH
1.
Maandag 6 Julie, 20:19
“Wat sê Jaap?” vra Mosi ongeduldig.
“Hy’s in Seepunt. G’n mens weet wat Tatoevrou daar soek nie, maar ons sal seker gou genoeg uitvind.” Ek trap die sigaret dood en tel die stompie op.
“Het ek jou nou weer maak rook deur jou Kaap toe te laat kom?” mor sy terwyl ons na die hysbak in die parkeerterrein loop.
“Nee. Glad nie. Dis my eie skuld. Glo my.”
Sy neem die hysbak boontoe. Ek gooi die stompie in die asblik en klim die trappe na die sestiende vloer.
Sy wag vir my by die voordeur. Skop haar skoene uit toe ons by die Library inloop, haar toonnaels bloedrooi geverf. Ek trek ook my stewels uit, maar hou my lang bont kouse aan.
Ons stap na die rekenaarkamer, die masjiene se dreuning ’n gerusstellende geluid wat sag deur die gebou vibreer. My lyf huiwer verward tussen die moeg van vroeg opstaan en die gewone wakkerword hierdie tyd van die dag.
My foon pieng. Dis Steven, die man wat ek vanoggend uit my bed geskop het.
Waar is jy? Als okay?
Ek bêre my foon. Ek kan nie nou nog dít ook handle nie.
Mosi draai om, kyk na my met ’n geligte wenkbrou.
“Moenie vra nie.”
Deur ’n glasdeur. Nog een. Die lug wat ons skoonblaas.
“Hallo, Smittie,” groet Mosi.
“Smittie,” doen ek dieselfde.
Olga Smit staan op van agter die bank rekenaarskerms. Sy dra geskeurde jeans en ’n pers T-hemp wat teen die kurwes van haar lyf stry. Sy druk die pen in haar hand agter haar linkeroor in, weggesteek onder ’n warboel lang bruin hare, en gee my ’n omhelsing wat my ribbebene laat kraak. Haar glimlag laat kuiltjies in haar wange uitslaan.
“Ek het jou so lanklaas gesien. Jy wil nooit afvlieg om vir my te kom kuier nie.”
Mosi kry ’n klop op die skouer. “Jy lyk nice in jou mooi-moois.”
Mosi hou vanaand se geel skoene na haar uit.
“O, Louboutins … fancy. Dankie.” Sy neem die skoene. “En nog heeltemal splinternuut.”
Die droë opmerking registreer nie eers by Mosi nie, of dalk val sy net nie meer daarvoor nie.
“Ek het solank die slagofferprofiele saamgestel sodat julle daarna kan kyk.” Smittie beduie na die middelste skerm. “Ons is nog besig met die Isolde-vrou.”
Smittie doen haar doktoraat in programmering en toekomskunde by die Universiteit van Kaapstad. Mosi borg haar studies en betaal haar ’n redelike salaris om hier te werk terwyl sy swot. Nie sleg vir ’n girl van Atlantis met vier susters en ’n wegloopma nie.
Ek gaan sit voor een van die rekenaars. “Ons?” vra ek.
“Ek en die masjien.”
Sy sê die laaste woord met dieselfde respek as Mosi. “Masjien” verwys nie na een rekenaar nie, maar eerder die netwerk van rekenaars, data en servers wat saamwerk om vir Mosi antwoorde te gee – al is dit nie noodwendig die antwoorde wat sy soek nie.
Ek weet nie altyd hoe gesond hierdie twee se verhouding met rekenaars is nie. Hulle het geen probleem met AI nie. Ek dink nie rekenaars moet leer en ontwikkel nie. Ek dink hulle moet doen wat jy vir hulle sê om te doen. Dit voel vir my stupid om jou plek boaan die voedselketting in gevaar te stel deur iets slimmers as jy te skep.
“Kon jy enigiets met die Stingray trace?” vra ek.
Smittie knik. “Die nommer wat julle my gegee het, het wel vir ons fake selfoontoring geval, maar julle vrou het nie veel gedoen nie. Sy was net op Google Maps om ’n roete Seepunt toe te check.”
“Is dit hierdie nommer?” Ek lees vir haar die een waaronder Tatoevrou die bespreking by die Blue Room gemaak het.
“Nee.”
So gedink.
Ek bel die nommer. ’n Bejaarde vrou antwoord. Sy bly in Upington.
Ek sit my foon op die tafel neer. “Nog ’n dead end. Kom ons kyk na die slagoffers.”
Smittie gaan sit voor die middelste rekenaar, steek vinnig die Bar-One-papier wat langs die sleutelbord lê in haar sak. Mosi maak asof sy nie sien nie, maar ek weet sy gaan later die plek ontsmet.
Die skerm voor Smittie kry lewe. Die beelde op die ander skerms voor, bo en langs haar vervaag.
Twee foto’s verskyn op die skerm. “Die eerste slagoffers was Franse,” sê Smittie. “Didier en Veronique Lamont. Hy was sestig en sy een-en-sestig. Hy het pas afgetree by ’n kombuiswarevervaardiger in Toulouse en hulle het Kaap toe gekom vir drie weke se vakansie.”
“Is al twee dood?”
“Yes. Dit was ’n groot hoe-ha omdat hulle toeriste was. Die polisie het ’n provinsiale taakspan saamgestel, maar hulle kon nog niks uitrig nie.” Sy haal die pen agter haar oor uit, tik die onderpunt teen haar ken. “Hulle het by Leeukop gaan stap. Mesaanval. Alles is gesteel: juwele, paspoorte, iPads, beursies. Lyk soos ’n rooftog.”
“Druk asseblief vir my die foto’s en die info uit?” vra ek. “Jaap gaan papier wil hê.”
“Maak so.”
Ek staan op, vat die drie velle papier wat die drukker agter ons uitspoeg en gaan sit weer.
“Die polisie sê dit het vinnig gebeur,” verduidelik Smittie. “En dis natuurlik nie die eerste keer dat mense op Leeukop aangeval word nie. Moord is wel skaars. Die polisie meen dis vorige aanvallers wat bloot geëskaleer het, of dat die Lamonts teruggeveg het.”
“Wanneer was die moorde?”
“Junie,” antwoord Mosi. “Die 19de.”
Ek onderstreep die datum op die uitdruk. “Wat van die tweede aanval?”
“Laura Garcia, van Peru,” sê Smittie.
“Peru? Dis ver. Wanneer?”
“Die 26ste Junie. Sy het laatmiddag op Bloubergstrand gaan stap. Sy wou Tafelberg afneem met die sonsondergang. Sy het blykbaar by haar gastehuis gesê Kaapstad is baie veiliger as Lima, so hulle hoef nie oor haar te worry nie.”
“Die datum is een van die dinge wat my opgeval het,” sê Mosi. “Daar was ’n week tussen die aanvalle.” Sy kom sit langs my, vou een lang been oor die ander. “En dis nou reeds Julie, amper twee weke later.”
“Dis nie al wat vreemd is nie,” sê ek. “Wat van Isolde? Sy’s nie ’n toeris nie.”
“Hmm-hmm,” beaam Smittie. “Isolde Bekker is ’n sukkelende aktrise wat nou en dan klein rolle losslaan, meestal in ads. Sy’s drie-en-twintig jaar oud. En sy hóéf nie as kelner te werk nie, want