Ettie Bierman Keur 7. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman


Скачать книгу
kamer toe.

      Tinus haak by bladsy een vas; oor en oor lees hy dieselfde paragraaf sonder dat hy inneem wat hy lees. As hy môre nie gaan skryf nie, beteken dit nog ’n jaar van studie en ’n klein salaris. Dit kan hy nie bekostig nie. Hy probeer op paragraaf twee konsentreer. Bladsy twee. Bladsy drie … Dan staan hy op en gaan soek sy vrou.

      “As jy wil, kan ons êrens gaan eet.”

      “Ek is nie honger nie.”

      “Ek ook nie.”

      “Ek kan vir jou kerrie maak, as jy wil. Of spaghetti.”

      “Moenie moeite doen nie. Ek het beskuit geëet.”

      “Beskuit is nie voedsaam genoeg as jy môre moet konsentreer nie.”

      “Ek sal by die padkafee kos koop.”

      “Gaan jy uit?”

      “Biblioteek toe.”

      Biblioteek … Is dit wat Tinus se naam daarvoor is?

      Hy trek die kombers oor haar. “Sien jou later.”

      Carina se hoofpyn is erger. Sy krul haar in ’n bondeltjie op – haar arms om haar gevou en die kussing teen haar slape gedruk.

      Sy hoor nie toe hy middernag terugkom en eers teen dagbreek aan sy kant van die bed inskuif nie – versigtig om haar nie wakker te maak nie.

      Die volgende oggend verslaap hulle albei. Daar is nie tyd om gisteraand se argumente uit te stryk nie. Daar is nie tyd vir gesels of die glasskerwe op te vee nie. Elkeen soek klere en jaag net om betyds op kantoor te wees.

      Nadat Tinus haar inderhaas by die rooi verkeerslig afgelaai het, besef Carina sy het hom skaars gegroet en nie eens sterkte met die eksamens toegewens nie.

      Die silwerblou Mercedes staan op dieselfde plek as gister.

      “Weer sulke tyd? Of erger?” vra Rasmus toe sy uitasem by hom kom.

      “Ek is laat. Die wekker het nie gelui nie, of ons het hom nie gehoor nie. Dankie dat jy gewag het.”

      Rasmus hou van die deurmekaar meisie wat vergeet het om lipstiffie aan te wend. Warhoofdig, het ’n skrywer hulle eendag genoem. Hy onthou die held in die boek het ook manliker gevoel, omring deur warhoofdigdes, almal so mooi en begeerlik soos Carina Rheede.

      By nog ’n rooi verkeerslig trek hy haar hand nader, onder syne wat op die stuurwiel rus. “Is ek veeleisend? Moes ek nie vir jou gewag het nie?”

      “Jy moes. Dankie. Anders was ek laat. Gaan jy nie ook laat wees nie?”

      “ ’n Bietjie. Dit maak nie saak nie. Was daar weer oorlog?”

      “Tinus was so haastig, ek glo nie hy het jou motor raakgesien nie. Hy het tot laat gestudeer en ek het die verskriklikste nagmerries gehad, daarom dat ons verslaap het.” Sy lag verleë. “Volgende keer drink ek net koeldrank.”

      Rasmus is bly dat daar blykbaar wel ’n volgende keer gaan wees. “Ek voel ook nie te wel nie,” bieg hy.

      Carina se gedagtes is nog by Tinus. “Het jy gestudeer terwyl jy getroud was?” wil sy weet.

      “Afrikaans 111 en Engels 111 was erg genoeg. Ek sou nie nog ’n vrou ook kon hanteer nie.”

      “Tinus neem drie hoofvakke en nog byvakke ook.”

      “Dis straf.”

      “Hy skryf vandag boedelberedding.”

      “Ek hoop hy vaar goed.”

      “Hy sal seker ’n onderskeiding kry. Ek hoop so, want hy verdien dit. Hy werk baie hard.” Carina wag tot hy uit Andriesstraat afdraai en in die kelderverdieping parkeer. Dan vra sy: “Mag ek hom nou-nou bel – om sterkte te sê met die eksamen?”

      “Jou pos laat teetyd toe, etenstye, asook vrye gebruik van die telefoon.”

      Verbeel sy haar of is Rasmus se stemtoon skielik kil? wonder Carina. Sy moes seker nie oor Tinus aanhou praat het nie. Hy ken hom nie en stel nie in hom belang nie.

      “Ek maak selde private oproepe. Net as dit dringend is.”

      “Bel wie jy wil. Tinus in Timboektoe ook, as jy dink dis nodig.”

      Hy herinner haar aan Tinus toe hy die hyser se knoppie druk.

      “Mans …” sê Carina. “Die wêreld sou eenvoudiger gewees het as daar net vroue op aarde was.”

      Pleks van verslaap, het Rasmus die nag slapeloos in die vrykamer deurgebring, vol vrese en vrae; vanoggend het hy net ’n asbak vol sigaretstompies gehad, maar geen oplossings nie.

      “Maar vir wie sou ons nuwe rokke en lipstiffies gekoop het, as daar nie manne was om dit te waardeer nie?” skerts Carina.

      “Jy het nie hulpmiddels nodig nie, jy is mooi soos jy is.”

      “Half deur die slaap?”

      “Heeltemal deur die slaap is beter. In pajamas, sonder ’n klomp verf en nagrome.”

      Hy is self ’n getroude man, besef Carina. Nogtans draai sy verleë haar kop weg. Om te vergoed omdat sy te behep met Tinus was, probeer sy om ook in sy sake belang te stel.

      “Gebruik Anta nagroom en grimering?”

      “Net as sy uitgaan of gaste verwag.”

      “Is haar hare lank of kort?” waag sy dit.

      “Kort. Te kort. Seker prakties, maar onvroulik.”

      “Is sy ’n boekemens?”

      Ras druk weer die hyserknop. “Sy is ’n ma. Ma’s het nie tyd vir boeke nie.”

      Die hyser daag uiteindelik op. Rasmus wag ongeduldig dat die mense uitklim. “Ons kon net sowel met die trap opgeklim het, dan was ons gouer bo. Om die vrae wat jy nie gevra het nie, te beantwoord: ja, jy is mooier as sy. My vrou beskou dit nie as belangrik om slegs ter wille van haar man tyd aan haar voorkoms te bestee nie. Nee, sy lees nie. Nie boeke nie. Nie tydskrifte nie. Nie eens koerante nie. Dis waar die onaanpasbaarheid tussen ons ontstaan het. Twee onversoenbare pole, sonder begrip. Al wat ons nog bymekaar gehou het, was die kinders. Nadat Sulet matriek geskryf het, gaan sy universiteit toe. Koshuis toe. Daarna sal sy volwasse genoeg wees om dit te hanteer as haar ouers skei.”

      Skei? Carina is bang om verder daaraan te dink.

      “Tobie is ’n ander saak … Ek kan nie tien jaar wag, tot hy ook oud genoeg is nie. Op die oomblik is TV en videospeletjies in elk geval vir hom belangriker as sy pa.”

      “ ’n Jong seun het ’n vaderfiguur nodig.” Carina weet nie hoekom sy dit gesê het nie. Dalk omdat sy ook aan ’n skuldige gewete ly.

      Carina onthou hy het gesê hy voel nie goed nie en hy lyk vir haar moeg en oorspanne. Erger as ’n man wat gister te veel wyn gedrink het.

      “Nogmaals dankie vir gister se ete,” sê sy sag. Sy wens sy kan hom teen haar vashou, die frons tussen sy wenkbroue en die moeë lyne om sy mond wegstreel. Hom probeer troos en beter laat voel …

      Hy vee oor sy oë en gesig. “Daar is soveel ereskuld om te betaal, soveel verpligtinge om na te kom …”

      “Jy skuld my niks nie.”

      “Ek bedoel nie jy nie. Jy is die een ligpuntjie in my bestaan.” Sy blou oë is troebel en hy steek sy hand hulpsoekend na Carina uit. “Jy is ’n pragtige mens. Hoekom het ek jou nie eerste ontmoet, voor Anta en Tinus daar was nie?”

      Mense kom in die gang verby. Die hand waarmee Rasmus haar wou liefkoos, ’n verdwaalde krul uit haar nek wou vee, sak magteloos teen sy bobeen terug.

      “Daar is soveel wat ek wil sê, wil doen, voor wil vergoed … Ek wil jou nie in die geheim besoek nie. Ek wil openlik optree, teenoor die hele wêreld erken dat ek jou liefhet en dat ons ’n verhouding het.”

      Rasmus


Скачать книгу