Ettie Bierman Keur 7. Ettie Bierman
Читать онлайн книгу.gaan agterdogtig word. Iewers in die een of ander laai het sy dalk ’n stukkie kougom … Sy mompel iets wat na ’n verskoning moet klink en vlug kamer toe, waar sy vinnig die deurmekaar bed opmaak, hare kam en tande borsel. Onder in haar handsak ontdek sy iets beter as kougom. ’n Suiglekker … peperment. ’n Aandenking aan die aand toe Tinus so vrygewig was om met sy laaste geld vir haar ete te koop.
Haar verdoeseling en geïmproviseerde noodmaatreëls het blykbaar langer geduur as wat Carina gemeen het. Toe sy in die sitkamer terugkom, lyk dit soos ’n biblioteek van al Tinus se handboeke.
Sy het netnou nie in sy vredespogings belanggestel nie. Elke navraag het skaars ’n kopknik gekry. Tog probeer Tinus weer. “Hoe gaan dit met jou ma?”
“Goed, dankie.”
“Jy moet haar bel. Plaaslike oproepe kos min en sy het jou aanmoediging nodig.”
Carina weet Tinus probeer. Hy verkeer onder meer druk as sy, maar hy probeer darem kop bo water hou, terwyl sy saam met ’n ander man gaan eet en wyn drink het. Terwyl sy in alle eerlikheid teenoor haarself erken dat sy die ander man op die oomblik opwindend vind – ’n beter proposisie as haar eie man.
Sy is skaam en berouvol. Met Ras du Toit op die agtergrond gedwing en haar enigste gedagte om teenoor Tinus te vergoed, dink Carina nie verder nie. Sy gaan staan by hom en tel ’n lywige eksemplaar van Boedelbereddering in Suid-Afrika op. “Lywig en indrukwekkend. Sal jy ons bedoel eendag self kan beredder?”
Tinus is bereid om dit as ’n vredesoffer te beskou. Na vanoggend en vanmiddag se rusie is hy bereid om net so ligweg te skerts en nog koffie vir haar te gaan maak. Aand-ete ook, as sy te moeg is om kos te maak. Maar skielik ruik hy die skerp pepermentgeur op Carina se asem.
Hy sit sy pen langs sy aantekeninge neer. “Is jy seker jy voel gesond?”
“Piekfyn.”
“Wat het jy so lank in die kamer gemaak?”
“Ek het die een en ander gedoen.”
Hy kyk met verskerpte aandag na haar. “Waarom het jy vyfuur in die middag geslaap? So vas dat jy nie gehoor het hoeveel keer ek klop, nie gehoor het toe ek die ruit breek om in te kom nie?”
“Ek het gehoor. Ek het kom oopmaak, het ek nie?”
“ ’n Uur na die tyd. Deurmekaar en deur die wind. Waar was jy vanmiddag, Carina?”
Skielik weet Tinus wat daardie vreemde reuk was wat hy netnou geruik het. Hy het vermoed dis omdat die woonstel die hele dag toe gestaan het, selfs dalk ’n nuwe haarsproei of parfuum wat sy gebruik. Nou besef hy dit was ’n ander reuk. Dis hoekom Carina pepermente suig.
“Waar was jy vandag?” dring hy aan.
Oplaas probeer sy uitkomkans soek. “Vra ek jou om van elke vyf minute van jou dag verslag te doen?”
Tinus is ontsteld. “Was jy by jou ma?”
“Hoekom vra jy?”
“Omdat ek wil weet. Is jy ook nou al …”
Sy of haar pa mag haar ma kritiseer, maar nie buitestanders nie. Dan is Carina op die verdediging. “My ma het aan depressie gely na Wynand se dood. Maar sy het behandeling ontvang en is nou beter. Sy makeer niks nie.”
“Dit lyk nie so nie. Dit lyk eerder asof jy ook aangesteek het.”
“Hoe sal jy voel as ’n kind van jou op so ’n gewelddadige wyse gesterf het?”
“Ek weet. Ek verstaan. Ek begryp. Ek veroordeel haar nie en was nog altyd simpatiek. Maar dit gaan nie om jou ma se aanpassings nie. Sy het dit oorkom. Dit gaan om jou, Carina. Jy het vanmiddag iets gedrink.”
Hy ruk dinge uit verband; jaag spoke op wat nie bestaan nie. Haar ma het Valiums gedrink en slaappille.
“ ’n Bietjie droë tafelwyn,” erken sy. “Drie glasies … Is dit ’n misdaad? Almal doen dit. Dis sosiaal.”
“Jy is nie almal nie. Of wil jy sê almal was by dié sosiale partytjie?”
Kan sy sê dit was ’n partytjie? Iemand by die kantoor se verjaardag? Dit sal so maklik wees. Maar nóg leuens en nóg oneerlikheid?
“Fokus wou vergoed omdat ek in my vrye tyd ekstra werk vir die firma gedoen het.” Selfs dit klink nie reg nie, want sy het die feite verdraai om dit ’n beter kleur te gee.
Carina wou oor begin, haar woorde beter kies. Maar sy het vergeet Tinus Rheede studeer in die regte en weet hoe om deur die kamoeflering te sien; kortpad te neem om by die kern van die saak uit te kom.
“Fokus? Of Du Toit? Het hy jou vir ete uitgeneem?”
“Net om dankie te sê vir die jeugboek. Ek het selfs die proewe gelees en ons kunstenaar ’n idee vir die stofomslag gegee. Daardeur het ek Fokus geld bespaar. ’n Ete as vergoeding was min onkoste.”
Tinus stel nie in besparings belang nie.
“Is dit waarom jy weggeskuif het toe ek langs jou op die bank kom sit het? Waarom jy weggedraai het toe ek wou uitvind of jy siek voel? Omdat jy die hele middag met die vent geflankeer het, niks met my te doen wou hê nie?”
“Ek het nie met hom geflankeer nie. Ek het hoofpyn gehad en ek was vaak. Ek het weggeskuif, nie omdat ek hom bo jou verkies nie, omdat ek bang was jy ruik ek het wyn gedrink en raak omgekrap, soos gewoonlik. Soos jy wél gedoen het.”
“Een of twee glasies tafelwyn is niks. Dis die feit dat jy drie gehad het – saam met Du Toit – en dit vir my weggesteek het, wat my ontstel.”
“Jy sê ek flankeer met ander mans. Vee eers voor jou eie deur. Waar was jy en Annerie vandag?”
“Op kantoor. Hoekom?”
“Omdat ek uitgevind het jy wás nie. Nie jy nie; ook nie sy nie.”
“Het jy gebel? Liza het my nie die boodskap gegee nie.”
“Ek het nie ’n boodskap gelaat nie, want ek wou jou nie in ’n verleentheid stel nie. Ek wou nie hê julle moet saam ’n plan prakseer om my te bedrieg nie. Sy mag dink dis pret om ’n man van sy vrou te probeer afrokkel. Ek vind dit pynlik en vernederend.”
“Afrokkel? Waarvan praat jy?”
“Van elfuur vanoggend, toe jy uit was. Sy ook. Nie een van julle was die hele dag op kantoor nie.”
“Ek was by die assuransiemaatskappy in verband met ou oom Truter se pensioengeld.”
“Saam met Annerie?”
“Nee. Dit was ’n uur. As jy twaalfuur weer gebel het, was ek terug.”
“Al dink jy jou werk is baie belangriker as myne, is ek ook bedags besig. Ek het nie tien keer ’n dag tyd vir private oproepe nie … of om te luister hoe Lise of Liza suggereer Annerie van Wyk sal weet waar jy is nie.”
“Liza het geen reg gehad om enigiets te suggereer nie. Maar jy kan nie verwag dat ’n onervare meisietjie op die skakelbord almal se doen en late moet onthou nie. Die skakelbord lyk gewoonlik soos ’n kersboom, met al die liggies van inkomende oproepe. Daarom het ek gesê sy moet mense na Annerie verwys indien iemand my soek. Annerie is kalm en rustiger en kan selfs onder druk beter onthou.”
Liza is onervare, maar vir Annerie tree hy in die bresse en sy is alles wat goed is …
“Behalwe as Annerie van Wyk nie daar is nie. As sy elke keer dieselfde tyd as jy uit is.”
“Dit was toevallig. Ek weet nie waar sy elfuur was nie. Waarskynlik in die argief om ’n vorige saak na te slaan.”
“Of besig om jou werkopdragte te tik.”
Tinus skryf môre eksamen oor boedelbereddering en het nog twee handboeke om vannag deur te werk. Maar Carina se belange kom eerste. Hy probeer sê wat hy dink sy wil hoor.
“Karrietjies … Carrie, Rina … Jy is die beste kok en