Rebecca. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Rebecca - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
in die luukse vertrek. “Maar dis my siening.”

      “Jy moet die vyftiende April oophou, dis ’n Saterdagaand,” verander hy skielik die onderwerp.

      “Waarheen gaan ons?”

      “Ek moet na ’n verjaardagparty gaan en ek wil hê jy moet saam met my gaan.”

      “Ek sal in my dagboek moet gaan kyk of ek beskikbaar is,” spot sy en hy trek haar hare.

      “Gaan dit ’n lekker party wees?”

      “Daar behoort genoeg kos en drank te wees en die helfte van die Kaap sal seker daar wees.”

      “Hm … ek sal jou laat weet. Wat is die drag?”

      “Duur, maar ek weet jy gaan jou nie noodwendig daaraan steur nie.”

      Rebecca rek haar uit en gaap. “As jy vir my wil kos gee, moet jy gou maak. Ek is vaak.”

      Sy vingers speel weer met haar hare. “Jy is deesdae altyd haastig.”

      “Nee, ek was nog altyd haastig. Jy is net vanaand in ’n slegte bui.”

      “Bly vanaand hier. Ons kan jou klere gaan haal.”

      Sy rol haar oë dakwaarts. “Hier gaan ons al weer. Dis tyd dat jy ’n vrou kry. Nie ’n speelding nie, ’n regte vrou.”

      Hy leun oor en druk ’n soen teen haar lippe. “Jy is nie ’n speelding nie.”

      “Maar ek is ook nie die vrou vir jou nie.”

      “Mis jy nie die goeie tye nie?”

      Sy sluk die laaste wyn in haar glas. “Die lewe gaan aan.”

      Sy blik versober. “Sal jy eendag vir my sê waarom jy so skielik weg is? Die regte rede en nie al daardie verskonings wat jy destyds gegee het nie.”

      “Ons was toe alreeds geskiedenis, Gert. Wat maak dit saak waarom ek weg is.”

      “Omdat ons vriende is en waarskynlik altyd vir mekaar sal omgee.”

      “Jy is baie ernstig vanaand,” probeer sy die oomblik verlig.

      “Wat van een keer for old times’ sake?” Sy oë lag skielik weer toe hy haar hand vang en probeer om haar terug te trek op die rusbank.

      “Ek wil regtig nie uitsoekerig klink nie, maar nee dankie, Gert. Ek was al daar en ek het ’n paar T-hemde om te wys.”

      Hy staan ook op. “Ek wonder of jy aldag self weet wat jy wil hê.”

      “Op die oomblik wil ek ’n blyplek op my naam hê. En as die plek dalk ’n redelike konstante voorraad warm water het, sal ek niks meer vra nie.”

      “Foeitog, sy is met so min tevrede.” Hy tel sy motorsleutels van die tafel in die portaal op. “Kom, laat ek vir jou gaan kos gee. Ek wil nie hê jy moet nog hongerte ook by jou vele ontberings tel nie.”

      “Wat sal ek sonder jou gedoen het?” Rebecca haak by hom in toe hulle in die hyser staan.

      “Ek weet ook nie.” Hy hou sy kop skuins en bekyk haar skielik met meer aandag. “Mis jy nie seks nie?”

      Rebecca lag diep uit haar maag. “Wie sê vir jou ek het nie seks nie?” Sy vee trane uit haar oë.

      “Ek ken jou, Becca. Jy slaap nie rond nie, maar jy is ’n sensuele wese. Deesdae is daar egter ’n hardheid of ’n afsydigheid teenoor mans, wat ek nie verstaan nie.”

      “Daar is niks om te verstaan nie. Elke mens se lewe gaan deur fases en ek is op die oomblik met ander dinge besig.”

      “Dis nie normaal nie.” Hulle stap uit die hyser en in die parkeergarage onder die gebou in.

      “Ek het nie gesê ek lewe selibaat nie,” lag sy.

      “Jy hoef dit ook nie te sê nie, ek ken jou goed genoeg om te weet jy slaap alleen.”

      “Ek was nog nooit bang om alleen te slaap nie en in elk geval, jy is ’n beter vriend as wat jy ’n lover was,” sê sy tergerig.

      “As jy ooit daardie stelling in die openbaar herhaal, dagvaar ek jou vir laster. Die laaste ding wat ek in my lewe nodig het, is ’n klomp vriendinne!”

      Rebecca lig plegtig haar twee vingers in die lug. “Scout’s honour.”

      7

      Die volgende maand vervaag vir Rebecca in nuwe gesigte, nuwe ervarings, indrukke waaroor sy saans in haar bed tob, en ’n nuwe lewenswyse. Sy is dikwels net na sewe-uur al op kantoor en gaan selde voor sewe in die aand huis toe. Dikwels raak dit selfs later. Sy is saans moeg en verduur gelate haar vriende se gespot omdat sy nie meer so laat kan kuier nie.

      “Gee my net kans om fiks te word,” raas sy een aand toe hulle weer wil uitgaan. “Ek is nog besig om ’n ritme te probeer vind!”

      By die kantoor luister sy en lees alles waarop sy haar hande kan lê en algaande leer sy hoe die maatskappy werk. Hoe al die verskillende onderafdelings en menigte filiale inmekaarsteek en wie vir wat verantwoordelik is.

      Sy dra vir Julian koffie en tee aan, maak notas en speel bode, maar sy kla nie, al vermoed sy haar voorganger het nie die take vir hom gedoen nie. ’n Sesde sintuig waarsku haar dat sy op dun ys loop. Dit keer haar egter nie om soms uitgesproke haar mening te lug of kommentaar oor iets te lewer nie. Sy kla net nie.

      Sy begin vergaderings saam met hom bywoon en kry begrip vir hoe hy ’n doktorsgraad voor sy dertigste verjaarsdag kon verwerf het. Hy het ’n vlymskerp verstand en ’n indrukwekkende geheue. Hy draai nie doekies om nie en laat dikwels mense in ’n vergadering sweet. Sy kom egter ook agter daar is mense wat hom toe-oë sal volg en dalk nog oor ’n afgrond ook vir hom sal loop. Hy glimlag maklik, maar handhaaf terselfdertyd ’n afstand en sy emosies word selde in sy oë weerspieël.

      Hulle ontwikkel ’n taal en ’n kommunikasiewyse en vind ’n patroon. Hy drink soggens vroeg sy koffie terwyl hulle die dag se reëlings bespreek.

      “Moet jy dit nie neerskryf nie?” onderbreek hy een oggend homself terwyl hy besig is om vir haar ’n lys opdragte te gee.

      “Ek was jare lank ’n kelner; my geheue is baie goed ontwikkel.”

      “Hierdie is nie ’n bestelling vir hamburgers en chips nie.”

      “Ek het nie in hamburgers-en-chips-plekke gewerk nie, maar ek sal in die vervolg notas maak,” het sy met ’n glimlag geantwoord. Haar een voorneme van die begin af was om hom nie toe te laat om haar te ontstel nie.

      Sy ontdek dat hy ’n klein gimnasium en badkamer langs sy kantoor het, asook ’n privaat hyser. Dit verklaar sy klam hare soms vroeg in die oggend en die feit dat hy ongesiens kan kom en gaan.

      “Dit moet gerieflik wees om nie ’n hyser met die gepeupel te deel nie,” laat sy ingedagte hoor toe sy die eerste keer saam met hom daarin ry.

      “Dit het sy voordele,” het hy niksseggend geantwoord.

      Hulle is soos twee boksers, besluit sy een aand voor sy aan die slaap raak. Hulle dans om mekaar asof elkeen enige oomblik ’n hou verwag. Sy kan nie dink waarom hy so voel nie, want hy het beslis letterlik en figuurlik die gewigsvoordeel. Sy het ’n vermoede háár neus kan eerder bloei of sy kan ’n blou oog opdoen.

      “Wat sou jy graag met jou lewe wou doen as jou van nie Hoffman was nie?” vra sy een aand toe sy hom gaan groet.

      ’n Oomblik lê daar verbasing in sy blik, voordat sy oë weer versluier. “Wat wil jy met die brokkie inligting maak?”

      “Aan die Sondagkoerante verkoop.”

      “Dis wat ek gedink het.”

      “Jy weet ek is nie ernstig nie,” het sy haar onthuts verweer.

      Hy het sy baadjie begin aantrek. “Ek weet, maar jy verdien nog nie die antwoord op daardie vraag nie.”


Скачать книгу