Tweegevreet. Zirk van den Berg
Читать онлайн книгу.daar is dus minder suurstof as waaraan jy gewoond is. Boonop is dit nog droog ook.”
“En stowwerig.”
Blink stippels stof dryf tussen hulle, immer teenwoordig, die gewoonlik ongesiene partikels nou deur ’n sonstraal belig.
“Ek het vir jou iets gebring,” sê hy en gee vir haar die koevert.
Sy lig weifelend die flap en voel na die inhoud. Die foto gly stadig uit, onthul die middelpaadjie, die edele voorkop, dan die oë en dan die res van Manfred Eberhardt. Sy lyk gans verlore en Siegfried onthou hoe hy daarvan gedroom het om haar van haar hartseer te red. Nie meer nie, besef hy.
“Ek het dit by ’n fotografiese ateljee gekry, Manfred het dit nooit gaan afhaal nie.”
Haar hande bewe en sy sit die foto op die tafel neer, staar lank daarna, asof dit kan begin beweeg, lewe kry, met haar praat. Manfred Eberhardt se glimlag is gevries in tyd.
“Ek kan nie ophou om aan hom te dink nie. Ek hou aan dink oor sy laaste oomblikke, wat hy gedoen en gedink het toe …”
Siegfried kon nog nooit die beheptheid met mense se laaste woorde of oomblikke verstaan nie, asof menselewens gekomponeer word soos musiek of stories. Die laaste oomblikke van ’n lewe is soos die laaste woorde op ’n lukraak gekose bladsy in ’n boek, dit kan op enige banaliteit eindig, of selfs halfpad deur ’n sin. Maar hier sit sy, Traudl, besig om haar allerhande dinge in te prent, aan ’t wonder, op soek na betekenis en troos. Trane wel op in haar oë, kan enige oomblik losbreek en strepe op haar gepoeierde wange maak. Haar hande met die blou are is in haar sakdoek gestrengel.
“Ek het gehoor hoe dit gebeur het,” hoor Siegfried homself sê in ’n hees, opregte stemtoon. “Toe ek hierheen gekom het, is ek aan dieselfde eenheid toegedeel, en ek het die manne uitgevra.”
Hy voel Traudl se oë op hom. Tydens al daardie ure wat hy in Berlyn in haar geselskap deurgebring het, was sy die hele tyd gefokus op iemand wat nie daar was nie. Hier kyk sy nou uiteindelik na hom en hy voel niks van die emosionele stuimeling wat so ’n oomblik belowe het in die jare wat hy hom dit voorgestel het nie. Pleks daarvan voel hy hartseer en bejammering. Woede ook, omdat hy soveel omgegee het en sy so min. Sy verwag ’n storie, en hy het nie regtig iets te vertelle nie.
“Dit was daar bo naby Waterberg,” sê hy, sy verbeelding net ’n kortkop voor sy woorde. “Hulle was in ’n verdedigende stelling vasgepen. Elke keer as hulle probeer het om uit die skans te kom, het hulle vuur getrek. Daar was geen uitkomkans nie, en hulle water het lankal opgeraak.” Siegfried skep asem. Hy sal kan sê dat Manfred van dors omgekom het. Dit sal seker meer realisties wees as die storie wat hy uit sy duim suig. Maar dit is natuurlik nie wat sy sal wil hoor of eens sal kan aanvaar nie.
’n Bibbering pluk aan haar lippe. Dis asof haar hele wese na hom smag, gereed om te verorber wat hy onthul.
Hy trek ’n diep asemteug in en laat dit stadig uitkom, vorm dit in woorde. “Daar was geen manier waarop hulle almal kon oorleef nie. Jou Manfred moes dit besef het, want hy het opgespring en die vyandelike stelling bestorm, selfs al was dit duidelik dat dit futiel sal wees. Hy het so vinnig geskiet as wat hy kon, van rots tot rots gehardloop, herlaai, opgespring en dit weer gedoen. Hy is gewond, maar het aangehou om doelbewus die vyandelike vuur te trek. Dit het sy makkers kans gegee om weg te kom. En hulle het, almal van hulle – sy dapperheid het hulle lewens gered. Die laaste wat hulle hom gesien het, was hy op sy knieë, deurtrek van koeëls, maar nog steeds aan die skiet … Hulle sê hy het triomfantelik gelyk.”
Traudl hou haar oë toe en die trane wat tussen haar ooglede uit pers, raak melkerig soos dit met die poeier op haar wange meng. Sy snuif en gebruik haar deurweekte sakdoekie, maar dit help niks en Siegfried pluk sy groot mansakdoek vir haar uit.
“Dankie,” prewel sy in ’n stem wat wankel onder die gewig van emosie.
Hy sien haar skouers skud, onthou daardie verloklike holtes voor haar sleutelbene. Sy is ’n beeldskone vrou, maar nie meer ’n dwingende teenwoordigheid in sy lewe nie, besef hy. Hy kan haar nie van haar hartseer red nie. Miskien kan niemand nie, selfs Manfred Eberhardt sou dit nie kon regkry nie. Traudl het nog altyd na ’n weduwee in wording gelyk, besef hy, met die aura van iemand wat net wag voordat sy haar gesig agter ’n swart mantilla kan verberg, om kerse by ’n altaar aan te steek en haar eie lewe in olierige rooknewels op te offer. Deur vir haar hierdie leuens oor Manfred op te dis, is dit asof hy homself bevry het, asof hy sy pad uit ’n kerker oopgelieg het.
“Ek moet nou gaan,” sê hy.
“Wie het jou hiervan vertel? Waar kan ek nog uitvind?”
Siegfried staan op. “My bron is … nie meer met ons nie.” Sy lyk meteens so ontsettend kwesbaar dat hy byvoeg: “Jy sal ongetwyfeld nog amptelike bevestiging ontvang. Die dinge wat gebeur, gaan nie verlore nie.”
* * *
Toe hy die Hotel Stadt Windhoek verlaat, dink Siegfried oor die leuen wat hy vir Traudl vertel het. Dit het haar blykbaar vertroosting gebied. Miskien kan hy met oberst Adendorff se klerk met die een arm gaan praat, die een wat briewe vir die gesneuweldes se families skryf, en vir hom vra om een te skryf waarin hy dié storie bevestig. Die klerk sal straks onwillig wees en daar is die kans dat hy hom in oberst Adendorff sal vasloop, wat ongemaklik sal wees, maar as dit werk, onthef dit hom van enige verdere verpligting teenoor Traudl, voel hy. ’n Verhouding wat grotendeels fiksie in sy kop was, kan tot ’n einde gebring word deur ’n stukkie geskrewe fiksie. Miskien.
Maar dis iets vir later. Eers moet hy aandag gee aan ’n idee wat soos ’n borrel moerasgas uit sy onderbewuste opgekom het. In stede van regs draai met Hugelweg op na die fort toe, draai hy links in Gartenstrasse, dan regs in Talstrasse, na Bulowstrasse en die fotograaf se ateljee toe. Hy kan nie ophou dink aan die foto van die ander Stempsky wat hy gesien het nie. Leimbach het dalk die verkeerde naam agterop geskryf en daar kan ’n foto van Hans Stempsky in daardie kissie wees. Dit sal tog seker die moeite werd wees om uit te snuffel, sodat hy dit vir sy kollega kan gee.
Die winkel is verlate, maar die klokkie bring weldra vir Leimbach in die gang af, nog besig om sy mond met ’n gestreepte doek af te vee wat hy in die verbygaan agter die toonbank indruk. Hy kou nog toe hy vir Siegfried groet.
“Was die dame toe tevrede?”
“Dit is ’n mooi portret.”
“Ek kan jou ook so laat lyk.”
Anders as vanoggend, is Leimbach se moue nou opgerol. Dit tref Siegfried hoe deurskynend sy vel is. As jy hom op enige ander plek raakgeloop het, sou jy geraai het hy is ’n slagter – sy bonkigheid, die dik vingers en opgekrulde snor. Die fotograaf grou iets onder sy vingernael uit.
“Eintlik is ek hier oor iets anders. Vanoggend, daar agter, het ek ’n foto gesien.”
Leimbach se vingers vries op die plek, hou hulle posisie, en hy kyk op, sy oë blink krale tussen die voue vel.
Dalk dink hy ek soek een van sy swart nimfe, dink Siegfried, en haas hom om te verduidelik. “Daar was ’n man … Ek is nie seker nie, ek sal graag weer daarna wil kyk.”
“Jy gaan dit darem seker koop?” vra Leimbach.
Hulle herhaal die oggend se stappe. Sodra hy weer alleen is met die kissie onopgeëisde foto’s, is dit vir Siegfried maklik om dié waarna hy vroeër gekyk het eenkant te sit, en vind hy weer die een wat Stempsky gemerk is. Hy sit dit eenkant en begin dan deur die foto’s sif wat hy nog nie gesien het nie. Hy begin by die foto’s waarop niks geskryf is nie. Daar is geen waarborg dat hy iets nuttigs gaan aantref nie, en hoe langer hy soek, hoe belagliker voel dit om na vreemdelinge se portrette te kyk in die hoop om iets te sien, maar wat? Terwyl hy die een gesig na die ander bekyk, jong mans op die vooraand van volwassenheid, begin dit hom affekteer, al hierdie persoonlikhede, hierdie lewens, elk met ’n onbekende verlede en, met die uitsondering van dié wat gesneuwel het, ’n toekoms wat dag vir dag ontvou. Vir elke portret voor hom is daar iemand vir wie daardie gesig die een is wat hulle in die spieël sien. Dit is die hare wat onder ’n hoedband jeuk, dit is die ore wat in die snerpende oggendlug pyn, dit is die