Hond se gedagte. Kerneels Breytenbach
Читать онлайн книгу.sit hy skielik regop, geen teken van ’n glimlag nie.
“Jy weet, tannie, daai man, dis hy, dis hoekom ons die ander spanne so smeer.”
“Tannie?”
Hy kyk haar verbaas aan. Dan glimlag hy, verleë.
“Fleur. Orraait.” Hy waai met sy hand, asof hy ’n wind gelaat het en die reuk van hom wil wegkry. “Katstert is dáár. Altyd. Hy weet wat gaan vir wat.”
Fleur kan dit nie help nie, maar sy laat ook haar blik oor sy lyf gly, die oomblik dat hy wegkyk na mense wat ’n entjie weg in die sitkamer sit.
Slapogie het geen vet aan sy lyf nie. Hy is nie ’n spierpaleis nie, eerder geseënd met lang bene en die klipharde spiere wat saamgaan met ’n lyf wat jare lank onderwerp is aan die rugbyveld van Vanwyksvlei. Hy dra ’n kortbroek in die winter, wit sokkies by sy blink goudkleurige stapskoene. Die trui wat hy aanhet, die Bokke se amptelike ontspanningsdrag, laat toe dat sy gespierde skouers goed vertoon, maar sy kan geen aanduiding kry van sy six-pack nie, vermoed net dat dit dáár is.
Wat sy van hom weet, is genoeg vir haar. Gebore op Vanwyksvlei, daar grootgeword. Rugby het hom in staat gestel om die dorp se kettings af te skud, en daarmee saam die kettings van armoede. Maurice het rieme en rieme kopie in die koerante gekry oor die armoede van Slapogie se mense, en hoe die borge geld na die dorp kanaliseer as deel van hul sosiale verpligtinge. Die provinsie het vir sy pa ’n plaas gegee om op te boer, maar dit het nie uitgewerk nie, en hy het dit in die hande van die plaaswerkers gelaat.
Maurice het vertel, een aand in Popol Vuh, dat Slapogie skynbaar geen begeerte het om ooit weer terug te gaan soontoe nie – en ook nie juis om sy astronomiese inkomste met sy ouers en ses sibbe daar op die plaas te deel nie. Corpus Christi kan maar blaar. Hulle is oud genoeg om na hulself om te sien, is glo Slapogie se siening. Hy is die Seventh Son, die gelukkige laaste kind wat nie meer hand-me-downs hoef te dra nie.
Fleur weet ook baie goed wat die perke van hul gesprek is. Maurice was baie duidelik daaroor, ná ’n vlaag sensasionele berigte die afgelope week in die Britse koerante. Niks vra oor sy berugte vermoëns as minnaar nie. Niks oor die sangeresse en TV-sterre wie se harte hy skynbaar op weeklikse basis gebreek het nie. Niks oor die Porsche wat hy afgeskryf het nie. Niks oor die balju wat al twee keer huise kom terugvat het nie. Niks oor die bakleiery in nagklubs nie.
Sy sou seker daaroor kon gepraat het. As sy hom toegelaat het om sy hand op haar been te hou. Maar sy het nie. En nou is daar net een onderwerp.
Net Katstert.
“Ek het gedag hy sou ’n etter wees. Hy kom uit die regte bloed. Sy pa was mos ook die kop …”
“Flip Nel?”
“Daais. En ek was nie in die Boland op skool nie. Ook nie varsity nie. Sommer net ’n soutnek uit Vanwyksvlei, sien? Maar Katstert … G’n etter hy nie. Hy’s die kop, dit weet mens duidelik. My soos my ouboet gevat en my vertel ek’s eintlik die kop … Sommer by my kom sit met etenstyd. Sy hond ook …”
Fleur het begrypend geglimlag. Slapogie was ernstig.
“Dawk het by ons voete onder die tafel gelê, my hand gelek as ek vir hom kossies aangee …”
“Watse naam is dit vir ’n hond?”
Slapogie het gelag.
“Vra dit … Soos hy met my is, so met almal. Of hulle nou saam met hom op skool was of hom op Loftus gemoer het. Op die veld luister ons vir Katstert …”
“Praat hy ooit oor sy pa?”
“Katstert praat nie eintlik oor synes nie. Hy praat oor ons. Oor ons tradisie. Ons is wenners. Daai is maar … As jy hom oor sy pa vra, sou hy seker chat, sal self nie kan …”
Fleur het in verskeie rigtings gebeur met haar vrae. Slapogie het hier gesit, opgestaan en bene gerek, weer dáár gaan sit. Maar sy kon geen stukkie wrokkigheid by Slapogie bespeur nie. Net heldeverering. Agting. Lojaliteit. Dit was die patroon, uiteindelik. Die Slapogie se bydrae tot die legkaart van Katstert Nel was nul. Die ander spelers het die puzzel vir haar aanmekaargesit. By Vanwyksvlei se grootste seun was daar geen nuwe inligting nie. Net oogkontak, teen die einde van hul gesprek. Hy het gesit-lê op die rusbank oorkant die tafel van haar af, sy bene wyd oop en sy gesig ’n ent verder bokant sy mik, sy oë wat hare gevind het en woordeloos ’n belofte gemaak het wat haar na haar goedjies laat gryp het.
Fleur het weggekyk.
Opgestaan, terwyl Slapogie saggies lag. Soos sy gewoonte is.
Hy het opgespring, sy hand na haar uitgesteek.
“Tot later aan,” en vir haar geknik.
1.
Fleur se Dagjoernaal
Donsie Rensburg (Beeld): Springbokke se groot terugslag: Hotel-fiasko!!! Hotelbestuurder sê die vuil badkamers en stukkende beddens is Engelse span se skuld. Alles was skoon en netjies toe die span aangekom het.
Mark Monteath – webjoernalis: Gesonde verstand sê die Engelse gaan Saterdag die Bokke looi.
Jon-Jon Blake (The Eye, Londen): Engelse afrigter het spioene by All Blacks se oefeninge. Engeland mik vir eindstryd, Bokke net ’n struikelblokkie.
Lirim Emini (The Wage, Sydney): Aussie-afrigter gaan saak maak teen skeidsregter.
Anthony Blumberg (Channel 7, Melbourne): Die geval van die vermiste Slapogie, die seksmasjien.
Sandy Duncan (Daily Witness, Londen): Interessante essay oor die verskil tussen moderne en primitiewe oorlogvoering, en hoe dit Saterdag op die rugbyveld sal uitspeel.
Chris Welch (The Standard, Londen): Suid-Afrikaner in Engelse afrigtingspan is ons geheime wapen, sê vrou van Engelse kaptein.
Spencer Carlos (The Sentinel, Wellington): Frankryk se hubris sal hulle ondergang bring.
Zac Going (The Auckland Advocate): All Blacks se meditasietegnieke voor wedstryde.
2.
Dinsdagoggend, die groot beplanning vir Saterdag se halfeindwedstryd lê voor almal. Pas ná sewe, met die wintersonnetjie wat net-net begin loer oor die mistigheid van die oostelike Hoëveld, stap Fleur die Hotel Bonheur binne. Sy ignoreer die toerbusse en sekuriteitsamptenary. Vasberadenheid is die beste kamoeflering. Sy haal diep asem en glip deur die swaaideur, haar kort donker hare en swart oë wat uit die deur se glaswand na haar terugkyk.
In Katstert en Slapogie vas.
Hulle staan in diepe gesprek op die rand van die sitkamergedeelte van die ontvangsruim. Dawk wat langs Katstert op sy hurke sit. Sy oë op Fleur, stert wat vriendelik waai.
Wat de hel, dink sy. Sy pyl op die Bokkaptein af. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Maurice in haar rigting dartel om haar te onderskep, maar Katstert glimlag en wink haar nader.
“Fleur!”
Sy laat hom toe om haar ’n drukkie te gee. Wanneer hy terugstaan, hou hy haar arm vas, sodat sy nie kan loop nie.
“Ek groet net gou vir Slapogie …”
Slapogie knik vir haar, sê iets binnensmonds. Hy staan half vooroor, steun op ’n kruk om sy gewig van sy seer voet te haal. Fleur kyk af. Die Bokke het almal die gips geteken.
“Moenie moed verloor nie, Slappes.” Katstert ontferm hom vaderlik oor sy heelagter. “Die voet sal regkom, en die ander dinge ook. Jy kan my woord daarvoor aanvaar.”
Voor Slapogie kan antwoord, is Maurice byderhand.
“Ons het ’n vlug na Kaapstad om te haal,” sê hy. Glimlag vir Fleur. Ons, maar sy weet Maurice vlieg nêrens heen nie. “Nou het jy Katstert se onverdeelde aandag!”
En daarmee hinkepink Slapogie na die deur en ’n wagtende Uber. ’n Portier sleep die toksak en Slapogie se ander reissakke. ’n Sekuriteitsman maak vir Slapogie