Hond se gedagte. Kerneels Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach


Скачать книгу
“om tot verhaal te kom ná ’n oorwinning soos dié wat ons Saterdag oor die Australianers gehad het.”

      “Australiërs,” korrigeer Fleur hom saggies, vir niemand se ore bedoel nie. Haar taalliefde gee vir haar ’n lekker gevoel. Sy voel aangenaam verhewe bo die taalverminkers.

      Dawk kyk op na haar, laat sak dan weer sy kop tot op sy voorpote.

      “Ons het by ’n moeilike besluit gekom. Speeltyd was verby. Katstert kon kies. Tikskoppie, skrum – of pale toe. Moeilike besluit. Toe neem hy dit. Pale toe. En hy roep Slapogie. Die res is geskiedenis.”

      Hy kyk selfvoldaan van gesig tot gesig. Die plaaslike joernaliste wat hom al jare lank irriteer. En die buitelandse spul. ’n Klomp hooghartige skoorsoekers. Hoe meer ’n mens die stront roer, hoe meer stink dit.

      “En voordat julle my vra: Ek het nog nie besluit wie Slapogie se plek sal neem in die span vir Saterdag se semi-final nie.”

      Maurice leun oor na die bank mikrofone, asof hy met iemand elders praat.

      “Enige vrae?”

      Maurice ken die coach. Sy stiltes. Lektriek is nie lus om verder te praat nie.

      Die plaaslike joernaliste bestook hom met voorspelbare vrae. Nie ’n enkele vraag waaraan sy nie vooraf kon gedink het nie. Dit is ’n fees van selfverheerliking. Die plaaslike joernaliste baai saam met Lektriek in Slapogie se glorie. Nou, op hierdie oomblik, is die Springbokspan onuitwisbaar. Wat hulle betref.

      Lektriek antwoord met die stuurse nonchalance van ’n skoolseun wat sy eerste vry gevry het, asof hy nie werklik belang stel in die vrae oor sy span nie.

      Dan steek een van die Britte sy hand op, skuins voor Fleur. Gelukkig hoef sy nie na sy gesig te kyk nie. Sy het geen plesier aan neuse met brandewynspatare nie.

      “Coach, kan jy kommentaar lewer op die stories dat Slapogie se besering gekom het ná ’n nag van dwelmmisbruik saam met twee Argentynse sekswerkers?”

      Fleur sit regop. Sy probeer Lektriek se gesig lees.

      Lektriek konsulteer agter sy hand met Maurice. Maar sy oë boor die Brit met die intensiteit van ’n ontvangsdame by ’n reisagentskap, opgelei in die verleiding van kliënte.

      “Dis twak,” sê hy. “Slapogie het saam met die res van die span die oorwinning gevier, en is daarna hotel toe om te gaan slaap. Dit was ’n harde wedstryd en ’n vermoeiende dag.”

      “Ons het ’n skoon span,” voeg Katstert Nel by.

      Fleur kyk na die ry LED-liggies bokant Katstert en Lektriek se koppe. Sy sien geen stralekranse nie. Soms verwonder sy haar aan Katstert se pragmatisme.

      “En dit sal skoon bly. Ons roem ons op ons spandissipline,” sê Lektriek.

      “Dis nie wat ons hoor nie.”

      Almal kyk om na die prater. Lirim Emini, een van die mediamanne uit Australië.

      “Enige ander vrae?” Maurice kyk hoopvol na die plaaslike joernaliste.

      “Ons hoor Slapogie het sy toon in die bed gebreek,” hou Emini vol. “Een van die Kama Sutra se ingewikkeldste posisies …”

      “Probeer jy vir my vertel,” sê Lektriek, naakte verbasing wat sy gesig laat gloei asof hy bloos, “dat Slapogie sy toon gebreek het in ’n ingewikkelde seksposisie? Luister, pel, ek weet nie watse soorte mense julle daar in Australië is nie, maar ons gebruik ons tone vir ander dinge.”

      Die plaaslike media begin dadelik vir Emini koggel.

      “As dit dan al is …” Maurice maak sy dokumente, fone en tablet bymekaar.

      “Ons hoor dat hy glad nie geslaap het Saterdagnag nie …”

      Dawk gaap en staan op. Hy is op pad deur toe.

      “Ons sien mekaar weer Woensdag,” sê Maurice, en staan ook op. Lektriek en Katstert volg sy voorbeeld, en stap soos ’n drilpeloton saam met hom by die vertrek uit. Agter Dawk aan.

      Nou ja, dink Fleur, daar het Geordie dit.

      Sy teks Geordie sommer uit die sitkamer van Hotel Bonheur.

      <Rokie en vuurtjie. Lektriek schtum. Jy het dalk iets beet oor Slapogie se dade duister.>

      Meer kan sy nie vir hom doen nie.

      6.

      Fleur se tweede onderhoud met Slapogie Losper was makliker as die eerste een, maar steeds nie verkwiklik nie. Sy het hom op Hermanus gaan sien. Die Bokke het hulle daar afgesonder vir een van die vroeë wedstryde van die toernooi in Kaapstad. Slapogie was een van die laaste spelers met wie sy meer moes gesels oor Katstert Nel. Fleur is nie seker of dit net haar natuurlike renons in windgatte is wat haar van hom laat wegsku het nie, of dalk Maurice se manipulasie van beskikbare spelers. Intuïsie versus Die Groter Agenda. Wie sou kon sê? Sy het niks teen die man nie. Weet net dat hul vorige gesprek goor was en dat sy glad nie van hom hou nie. Maurice, geseënd is sy fraaie siel, het nie oor sy voete geval om haar en Slapogie weer rondom ’n koffiepot bymekaar te kry nie.

      Die hotel self is een van daais. Gewoonlik vol bleek dwalende reste van die ou Empire. Hul plek skielik gevul deur rugbyspelers in variasies van heersende en vergete kleremodes. ’n Geroesemoes van lycra en katoen met elemente van eksotiese rubber op die vreemdste plekke, gewoonlik rondom die paar logo’s wat die Bokke se borge gelukkig hou.

      Slapogie was laat.

      Fleur had haar irritasie goed onder beheer. As hierdie biografie haar enigiets geleer het, was dit om geduldig te wag op rugbyspelers wat belangriker dinge gehad het om te doen as om met ’n skrywer te gesels sonder om daarvoor vergoed te word. Toe hy uiteindelik die hotel se sitkamer indrentel en rondkyk tot hy haar eenkant in een van die hotel se rushoekies sien sit, was Fleur al besig met haar tweede koppie koffie uit die groot silwerpot wat die kelner voor haar kom neerplak het. Slapogie het neergeval in die blomryke materiaal van die rusbank langs haar stoel, uitgestrek met een been bo-op die opgepofte kussings.

      Fleur het die pligplegings afgehandel: koffie aangebied en geskink, soos Siena in Die Regte Manier Om Te Lewe bepaal het – die melkbeker in die linkerhand, die koffiepot in die regterhand. Sy het die melk en koffie gelyktydig ingegooi, nogal ’n kuns, wat Siena by haar dogter ingeskerp het. Fleur maak seker om nie die melk ewe vinnig te skink nie, sodat die koffie net die regte sterkte sal hê. Tussendeur het sy geklets oor hoe wonderlik dit met die span gaan en Slapogie geprys vir sy aandeel daarin.

      Slapogie was nie ’n kletser nie.

      “Ag, dis … jy weet, dis die span …”

      Hy laat sy sinne onvoltooid hang, formuleer nooit volledig nie. Fleur, innerlik borrelend met irritasie, besluit dat hy besig is om ironies te wees.

      “Katstert moet julle seker baie besiel?”

      “Besiel?”

      “Met sy leierskap. Julle inspireer.”

      “O. Inspireer.” Die woord val tussen tonge en tande oor sy lippe, klanke op ’n nooiensvaart. “Ja! Hy’s die kop.”

      Fleur kyk vir ’n oomblik déúr Slapogie se ylblou oë. Sy soek iets, ’n teken van humor, insig, betekenis, maar al wat sy raaksien, is die pupille en die kleurlose irisse. Kleure verbleik in Vanwyksvlei se fel son.

      “Ek het al met die meeste van jou spanmaats oor hom gesels. Die boek is amper klaar.”

      “Ek’s nie eintlik ’n man wat baie chat nie …”

      “Jy sal verbaas wees watse insigte ek gekry het by ’n paar van die manne wat ook gedink het hulle is nie mense van woorde nie.”

      Slapogie se oë begin dwaal. Na haar laptop, na haar jeans, na haar bloes.

      “Katstert,” sê hy ná ’n ruk. “Hy’s lief vir honde.”

      Slapogie bars uit, lag vir sy eie spitsvondigheid.

      Fleur


Скачать книгу