Hond se gedagte. Kerneels Breytenbach
Читать онлайн книгу.moes hulle as Vader en Moeder aanspreek. Sy het hulle ge-u, tot satwordens toe. Eers ná haar mondigwording het Siena haar toegelaat om die hoflikheidsvorm te verruil vir ’n meer gemoedelike Ma en Pa. Maar toe was dit vir Fleur onmoontlik om die gewoonte van die hoflikheidsvorm af te leer. Rokkies altyd tot by die knieë. Bobby socks tot in standerd vyf gedra. Die enigste kind in die skool wat die outydse mode moes verduur. Sy kon haar vlegsel eers in standerd ses afknip. Siena se reëls vir die gepaste manier om teenoor seuns op te tree was legendaries in die gemeentes.
“Die meeste mense noem my sommer Siena.”
“Werklik?”
“Dis lekkerder so.”
Die ou nuwe ma.
Fleur vertrek ná ’n halfuur. Die gesels het opgedroog. Sy het gehelp om die kamertjie aan die kant te maak, haar ma se hare gekam. Meer kon sy nie doen nie.
In die motor dink sy nie aan haar ma nie. Sy dink aan Teacher. Hannes “Teacher” Gerber. Een van die stutte, sy kan nie onthou presies watter kant nie. Fleur het ’n teorie oor rugbyspelers. Hulle móét spanmense wees, maar elkeen het ’n eie fantasie oor homself, oor hoe hy anders is as almal. Haar gesprek met Teacher het haar van die geldigheid van haar siening oortuig.
Sy het in Hotel Bonheur se sitkamer met hom gesels. Die moeilikste van al die onderhoude oor Katstert.
Teacher praat nie. Of liewer, hy praat nie sinne nie.
Sy het koffie laat kom, wat hy van die hand gewys het.
“Water?”
Die kelner het teruggekeer met ’n groot karaffie vol water.
Fleur het vir haar koffie geskink uit die silwerpot.
“Sê my,” het sy die ys probeer breek, “hoekom noem hulle jou Teacher?”
“Kekkelbek,” het hy geantwoord.
“Altyd?”
“Veld. Wedstryde.”
“Met wie praat jy?”
“Die vyand.”
“Hoekom?”
Teacher het gebloos. So groot soos hy daar sit, al 130 kilogram van hom.
“Katstert. Instruksies.”
“Ek begryp nie.”
“Fisieke kontak. Water. Olie.”
Hy het sy glas vol water geskink, en dit met een lang sluk geledig.
“Maar is rugby nie ’n kontaksport nie?”
“Definitief.”
Teacher het nog ’n glas met water gevul. Hy het dit afgesluk, en vir ’n oomblik was sy tong los.
“Katstert sê ek moet praat, sodat ek vergeet van mense wat aan my raak.”
Hy het teruggesit.
Fleur het aantekeninge gemaak, en toe sy weer opkyk, sien sy hoe Teacher wegstap.
Sy het Katstert daarvan vertel.
“Een van die groot sportraaisels,” het hy geantwoord. “Die intelligentste man in die span. Maar hy haat fisieke kontak. Hoe verklaar mens dit? Ek weet nie. Hoekom speel hy rugby? Vir die geld, sekerlik, ja. Maar hy is só gespanne. En wanneer hy in die skrum sak, is dit asof hy bomenslike krag iewers vandaan kry. Hy sê hy probeer die skrum so gou as moontlik agter die rug kry. En jy moet dophou wanneer hy iemand tackle. Dis asof hy opspring om weg te kom agterna. Wat ideaal is.”
“Waar het jy die idee gekry om hom te laat praat?”
“Die skeidsregters was nogal ontsteld daaroor. Maar dit lei sy aandag weg. En gelukkig praat hy Afrikaans, so almal kan sien hy is ernstig, maar hulle weet nie waaroor nie. Die skeidsregters is meer geïrriteerd met die klankbesoedeling.”
“Werk dit?”
“Ons tjop nie in die skrums af nie.”
“Wat sal gebeur as hy Engels sou praat?”
“Hy sal nie. Maar ek kan jou sê, al die voories verstaan hom. Teacher is die man wat van hulle vegters maak. Ek staan ver weg van die skrums en lynstane. Teacher is ’n babbelende professor. Wie dink jy hits Solman aan om mense af te maai?”
“En sy bynaam?”
“Dit pla hom nie. Hy sê dis sy skuiling. Net solank sy ma en pa hom Hannes noem.”
“Dis alles, nè?”
“Nee, definitief. Jy weet mos, Fleur, hoe mens voel as mense naby aan jou jou naam saggies uitspreek.”
5.
Fleur de Villiers woon alle funksies by wat Maurice vir die Springbokke en hul afrigter reël. Met ’n renons groter as die een wat sy koester vir mans met aknee op hul rûe. Veral die mediakonferensies. Soos gebruiklik net ná middagete, wanneer niemand op hul skerpste is nie.
’n Foltering van die suiwerste soort.
Vandag sit sy weer daar, tussen die bleskoppe van die radio, die verloopte sportsterre van TV en die vrydenkers van die koerante. Die ouens wat die sport soveel beter as sy ken. Almal rasend jaloers op die entree wat sy die afgelope maande tot die span gehad het.
Waar is Felix Jordaan? wonder sy. Mediakonferensies nie vir hom interessant nie? Of snuffel hy elders vir ’n exposé van ’n sangeres se skandknaap?
Die lokaal wat by Hotel Bonheur ingeruim is vir die perskonferensie, ken sy goed. Dit is maar net een van hoeveel soortgelyke vertrekke in hotels dwarsoor die land. ’n Tafel met groen velt beklee, glase vir water en karaffies vol water. Geen skryfblokkies en penne en plakette met die Hotel Bonheur se naam prominent nie. Daardie dae is verby. Almal gebruik die hotel se wi-fi, wat tyd-en-plek-stempels by alle kommunikasie aanbring. ’n Digitale reklamefees, ook teen die muur agter die tafel, waar ’n groot skerm om die beurt Corpus Christi en die hotel se reklamevideo’s vertoon. Teen die ander binnemure is daar TV-skerms waar skilderye van Suid-Afrika se voorste kunstenaars roteer, met Pieter van der Westhuizen een van die herkenbare bydraers. Niks baie helder nie, maar alles lyk só goed. Die media sit op rye stoele, hul skootrekenaars en tablette op hul skote gebalanseer, onsigbaar verbind aan die gratis wi-fi wat Corpus Christi verskaf. Die enigste konstante in ’n land waar elektrisiteit en water nie altyd ’n noodwendige gegewe is soos in Europa nie.
Almal gereed vir die groot oomblik van illuminasie rondom die onderwerp van die dag.
Wat aanbreek met die aankoms van die Bokafrigter, Lektriek de Klerk, en kort op sy hakke Maurice en Katstert Nel, die Bokkaptein.
Lektriek gaan sit by die gerf mikrofone wat die media op die tafel neergesit het. Katstert se hond, Dawk, kom ook ingeslenter. Hy gaan lê voor die tafel op die mat, staar die persmanne aan met oë wat al alles gesien het wat ’n hond kán sien en glad nie beïndruk is deur die nuwe vlaag van visuele stimuli nie.
Maurice Kumalo is ’n soort seremoniemeester, as hy die geringste kans kry. Hy hou daarvan om mense te lei. In sy rol as skakelhoof staan hy meestal terug, sodat Lektriek en Katstert die leiersrolle kan neem, die “gesigte” van die Springbokspan word. Dit verhinder hom nie om op ander maniere die aandag op hom te vestig nie. Lektriek en die spelers is almal in die Springbokke se amptelike gemaksdrag geklee, oorwegend in kleure van groen, geel en wit. Maurice het teruggegryp na die ontwerpe wat Eric Crabtree in die sestigs gemaak het vir die Staatspresidentswag se step-outs, maar wat nie deur die Weermag aanvaar is nie omdat die gevoel was dat dit té uitspattig is. ’n Wit langbroek, ’n groen baadjie wat lyk asof dit ’n mengsel is van militêre drag en sweetpaktop, met geel sakke en epoulette. Die geel sakke het geen groot embleem of borglogo’s nie, maar as mens naby hom staan, sien jy simmetriese rye van klein goue stiksels, almal in die vorm van die bekende springbokkie.
Mens sien Maurice raak, al hoor jy hom nie. En wanneer hy praat, luister almal. Fleur verwonder haar opnuut aan die stil gesag waarmee haar vriend situasies domineer.