Hond se gedagte. Kerneels Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach


Скачать книгу
het Plas haar daardie aand getroos. Maar vir die maande wat sy besig was met Katstert Nel se boek, het sy bly wonder of dit hierna ook haar toevlug sou bly. Haar gesprekke met Plas, die verloopte filosoof?

      Sodra sy die biografie gefinaliseer het, en niks verder met die proses van publikasie te make het nie, wat wag dan op haar? Sy kan nie dink dat sy ooit weer met enige van die lede van die Springbokspan sal kontak hê nie. Hoekom sou sy? Net ’n paar van die manne het haar geïnteresseer met hul opmerkings tydens hul onderhoude.

      Veral Gert “Big Time” de Clerque. Of BT, soos sy spanmaats hom noem. BT wat op ’n plaas naby Hoedspruit grootgeword het. BT wat alles sien binne die kader van jag. Hy en sy spanmaats is jagters – en soms die prooi.

      “Prooi is uniek,” het hy verduidelik oor ’n koppie koffie in Randburg se Waterfront. “Daar is net een persoon wat op enige gegewe oomblik die prooi is. Die man met die bal. Die res is jagters, of hindernisse.”

      “So eenvoudig?”

      “Jag is nooit eenvoudig nie.”

      “Jag jy – van die veld af?”

      “Nee.”

      “Nooit?”

      “Net wanneer daar probleme is met alleenloperleeus.”

      “Maar hoekom dink jy dan so baie aan jag?”

      “Omdat dit gepas is. Vir my. Dis hoekom hulle my Big Time noem.”

      Dit is eintlik eenvoudig om te verstaan, het sy agterna gedink. As jy jouself só kan instel. Dan is die jaag van die persoon wat die bal het, soveel heerliker. In plaas van hom dood te maak, plettervat jy hom. Soos BT maak. Hy is mal oor fisieke kontak. Hou van die groot oomblikke. Demp die vlam van geesdrif by enige opponent as hy hom inhardloop en grond toe boor. As BT jou gevang het, het Lektriek al vir haar gesê, bly jy gevang. Jy is syne. As jy weet hy gaan jou weer kom haal, raak jy liewer van die bal ontslae. Die pyn is té groot met die tweede en derde plettervat. BT geniet dit om die groot tackles nommers te gee. Losskakels hou nie lank genoeg om by nommer vyf te kom nie.

      “Wat dink jou vrou daarvan?” het sy gevra, daardie dag.

      “Ons praat nie oor rugby nie. Ons praat oor die kinders, oor die plaas, die diere se aanwas. Oor reën en weiding en so aan.”

      “O.”

      “Jy moet verstaan, rugby is nie alles nie. Ek hoef nie te speel as ek nie wil nie. Ek het ’n MBA en maak genoeg geld uit my portefeulje. My vrou is ’n frankofiel, so ek het ook leer Frans praat. Ons lees baie Franse boeke, kyk Franse flieks. Praat op Sondae net Frans met mekaar. Wie wil oor rugby praat met sy vrou as jy oor groter dinge kan gesels?”

      “Op Hoedspruit?”

      “Op Hoedspruit.”

      Sy het hom só gekyk. Die lang man, nog ’n kolos oorkant ’n tafel. Die littekens aan sy gesig – die medaljes wat ’n goeie agsteman noodwendig dra. Sy het gesien dat hy ligblou oë het, lig soos die Laeveld se hemel op ’n warm somersdag.

      Hy het vir haar verduidelik hoe Katstert se leierskap verskil van ander rugbykapteins s’n. Hy het haar uiteindelik laat verstaan wat die rol was van Flip Nel, Katstert se beroemde pa.

      Sy het Maurice vertel van haar stimulerende onderhoud.

      “BT?” Hy het gelag. “Almal is ’n bietjie bang vir hom. As hy aan die gesels raak, kom hulle agter hoe dom hulle is.”

      “Ons moet hom aan Plas voorstel. Hy het soveel kennis.”

      “Dit gaan nie net oor kennis nie. Dit gaan oor die waardes wat kennis bring. Sê Plas.” Maurice het haar een van sy kyke gegee. “Tog jammer hy is getroud.”

      11.

      Krystle kyk uit op die grasperk van die Schvantz-erf in Saxonwold. Sy probeer om oor die vyftig tree tussen haar stoel en die Angus Taylor-beeld by die koidammetjie die fyner detail van die beeld se gesig te sien. Onmoontlik. Tog kan sy dit in haar herinnering oproep, sodat sy nie hoef op te staan en die hele lang pad oor die gras daarheen te stap nie. Hoe nader sy aan die beeld kom, hoe minder bevredigend sal die komposisie vir haar wees. Die sipresse wat in ’n laning aan die Dieretuin se kant van die erf staan, vorm nóú die pragtigste raam. Naderby verdring hulle die epogmakende beeld van ’n veewagter onderweg.

      Sy en Jaap vind hierdie paar uurtjies aan die einde van Sondagmiddae altyd die beste. Dan sit hulle terug in die groot stoele van delikaat gevlegte Bali-rottang, sak weg in die kussings wat ’n vrou van Fordsburg vir haar geborduur het met eksotiese Oosterse motiewe rondom ’n vergulde ankh.

      Elk met sy Tanqueray G&T, altyd só nuttig as die gedagtes dwaal. Soos nou. Hulle is albei ontsteld oor Slapogie. ’n Groot verlies vir die span, vir gans Suid-Afrika, maar ook ’n teleurstelling om uit te vind van sy dwelmmisbruik. ’n Potensiële katastrofe as die buitelandse pers sou agterkom wat presies gebeur het. Die plaaslike media kan beheer word.

      “Hanteer Kumalo dit?”

      Dis die tweede keer dat Jaap dié vraag stel. Krystle se kop ruk soos sy na Jaap swaai, soek vir tekens dat hy besig is om haar te terg. Geen.

      “Natuurlik! Maurice mis niks.”

      Verbeel sy haar of het die dreuning van vanmiddag se skare by die dankseggingsdiens in haar ore vasgeslaan?

      “En die twee … vriendinne?”

      Krystle gril. Vandat sy gehoor het presies hóé Slapogie gister se oorwinning gevier het, lei haar verbeelding haar ’n lewe. Miskien omdat sy nooit self deel had aan ’n tritsie nie.

      “Albei vanaand op ’n vliegtuig terug na Buenos Aires.”

      “Wie is die kinderoppasser?”

      Sy kyk doelbewus nie na hom nie. Mens sal dit nie glo as jy na hom kyk nie, maar Jaap Schvantz se oë sien alles raak wanneer hulle oop is.

      “Een van Kumalo se mense.”

      Hy vroetel met sy sakdoek. Hoes daarin, steek dit dan met ’n bewende hand in sy baadjiesak.

      “Rugbybal?”

      “Sekuriteit het dit. Ons sal die inhoud laat opveil anderkant Leeukoppen.”

      Krystle se iPad lui ’n diskrete klokkie. E-pos van Maurice af.

      “Maurice? Persverklaring?” Jaap Schvantz ken die ritmes van die media, die mag van ’n persverklaring Sondagaand net voor ses.

      “Die held van Ramses Ellispark sal aanstaande Saterdag se halfeindwedstryd teen Engeland op TV moet volg. Josephus Losper, beter bekend as Die Slapogie, het sy regtergroottoon Sondagoggend in ’n fratsongeluk in die stort gebreek.

      “Slapogie kon nie die dankseggingsdiens by Ramses Ellispark bywoon nie. Die skare van meer as 60 000 siele by dié diens het geskok gereageer op die nuus, en Slapogie by herhaling staande toegejuig toe sy beroemde strafskop in Saterdag se wedstryd teen die Wallabies op die groot skerm gewys is.

      “Die Slapogie het sy lot gelate aanvaar. ‘Ek wil net dankie sê vir my Skepper dat ek sover gekom het in hierdie toernooi. Aan my spanmaats wil ek net sê, Hasta la vista in Christus, my dudes!’”

      Krystle laat sak haar iPad.

      “Só hartseer?” ’n Sweem van ’n glimlag op die Schvantz-lippe.

      “Kumalo classique,” antwoord sy.

      Hulle geniet die namiddag. Die verfrissende smaak van die G&T en die effense warmte van die Hoëveldse wintermiddag. Sy het baie geld in haar tuin belê, sodat dit groen en somerig lyk. In skrille kontras met hul Saxonwoldse bure, wat onderwerp is aan die kleurlose doodsheid wat die winter altyd hierheen bring.

      Sy dink aan haar pa, Adriaan Bosch, wat nooit op Sondae drank naby hom geduld het nie. Buiten dié geleenthede waar hy pligshalwe sy vrou, Martha, moes ondersteun. Jy kan die man uit Genadendal haal …

      Krystle


Скачать книгу