Hond se gedagte. Kerneels Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach


Скачать книгу
anders. Elke laaste stoel van die altesaam 62 567 is deur betalende boude beset, met nog ’n verdere 5 000 wat op die veld self voor die tydelike verhoog saamdrom. Teen R500 per persoon beteken dit dat Corpus Christi se koffers vanaand op die minste R33 783 500 bruto sterker sal staan. Dit is die soort harde kapitaal wat laas met Angus Buchan se saamtrekke gesien is. Die stadion behoort aan Sarvu en Corpus Christi, weet Fleur. Dis hul huis hierdie – hulle huur nie. Die netto wins gaan skouspelagtig wees.

      Maar netto wins is sekerlik net in die gedagtes van enkele mense. Ander winste is ewe belangrik. Krystle se groot lojaliteitskema vir Corpus Christi se kerkgangers bereik vandag sy eerste kulminasie. Die afgelope jaar het die elektroniese aftasters by die stadions, danksy die Corpus Christi-implantate wat alle bywoners van hul dienste al sedert 2022 gekry het, weekliks dwarsoor die land geregistreer wie die Sondagdienste die getrouste bywoon. Die honderd lojaalste gelowiges is genooi om vandag ’n erewag vir die Springbokspan te vorm langs die pad na die verhoog – en ná afloop van hul verskyning, sal die span op pad uit met elkeen van hulle poseer vir selfies.

      Die stadion galm nou met die sing van “Jesus, wees U my arend”. Fleur weet dat dit ’n aanpassing is van die Golden Gate Quartet se vertolking van “Little David, Play on Your Harp”. Die Amerikaanse gospelgroep se blye galme is niks in vergelyking met die 67 567 siele wat nou uit volle bors hul blydskap en energie en liefde vir Jesus in een magtige samesang die lugruim bo Johannesburg instuur nie. Sy voel meegevoer deur die vreugde wat op almal se gesigte te sien is, in die hande wat telkens na bowe reik, reikend na Gods groot genade. Die gedreun van voete en geklap van hande skep selfs ’n ligte tinteling by Fleur. Die energie is aansteeklik, Fleur voel net jammer dat sy dit nie volledig kan ervaar in die gemeenskaplikheid van geloof nie.

      Wanneer die lied sy einde bereik, is daar ’n oomblik se stilte, byna so ysingwekkend soos daar gister was nadat die Australiërs twee drieë kort ná mekaar gedruk het, maar dan bars almal gesamentlik uit: “Halleluja!”

      Fleur is warm aangetrek, maar voel hoe die hoendervel onder die flenniehemp en warm jas rys.

      Daar is ’n roering onder die skare. Die spelers beweeg deur die lojaliteitserewag.

      Dan is hulle daar – op die groot videoskerm, en in lewende lywe.

      Die Springbokke.

      Die land se trots kom uitgestap na die verhoog wat opgerig is net voor die suidelike gestoeltes. Katstert Nel heel voor, netjies in die Springbokke se formele drag geklee, maar met sy weerbarstige krul wat oor sy voorkop hang, soos dit altyd op die veld ook doen. Die res is eksie-perfeksie. Baadjie, wit hemp en Springbokdas, donkervaal langbroek en swart skoene, almal gepoleer tot ’n hoë glans.

      Dis moeilik om te glo dat dit dieselfde span is wat die vorige dag ’n klipharde wedstryd gespeel het. Niemand loop hinkepink nie. Vanuit die persbank lyk hulle klein daar op die verhoog, maar die videoskerms verdryf dié persepsie. Die kamera bekyk almal effens van onder, sodat die stralende gesigte op die videoskerm na bo kyk.

      Besielend.

      Een van Corpus Christi se verhooghelpers kom nader met ’n mikrofoon. Katstert Nel neem dit met ’n groot glimlag, en staan effens vorentoe.

      Dit word stil in die stadion.

      “Die Springbokspan wat gister met Australië se beste span afgereken het,” begin hy, en moet net daar stop omdat die skare hul bewondering bulderend uitbasuin.

      Fleur druk haar hande oor haar ore. Die felheid van die klank laat hulle pyn. Stadigaan bedaar almal, en Katstert Nel lig weer sy mikrofoon. “Spelers, afrigters, medici, ondersteuningspersoneel.”

      Weer word hy onderbreek, hierdie keer met ’n ligter dreunende klank.

      Die kaptein breek ’n groot glimlag vir die skare oop. Hy laat sak sy hand, en streel die kop van sy Duitse herdershond.

      “En Dawk,” sê hy.

      Fleur se oë skiet vol trane. Dit is vir haar ongelooflik hoe lief die harde rugbyspeler sy hond het. Gaan oral met hom saam – behalwe met wedstryde. Dan sit Dawk langs die afrigter.

      Dawk lyk nie of die gejuig hom enigsins aangaan nie.

      “Ons is hier om te getuig dat gister se oorwinning nie ons eie maaksel is nie. Ons dra ons vertoning op aan die Hemelse Vader. Aan God die eer!”

      Sy het nie gedink dis moontlik nie, maar die volume van die klank is beslis dubbel dié wat die Springbokspan gekry het.

      “Vir my,” gaan Katstert uiteindelik voort, “was elke besluit op die veld maklik, want ek het leiding van Bo gehad. Wanneer dit gevoel het die Aussies het ons aan die kele beet, het ons nuwe krag gekry. Skielik was daar harde momentum in elke tackle wat ons ingesit het.”

      Dan gee Katstert die mikrofoon aan na sy nommereen-stut, The Teacher.

      “Ek sou die skrum nie sonder my Skepper se hulp kon anker nie,” sê hy op Engels. Op die groot TV-skerms verskyn momenteel ’n greep uit gister se wedstryd, die voorrye wat inslaan in die skrum, The Teacher wat sy heupe effe laat sak en sy rug reguit maak. ’n Deel van die skare beantwoord dit met ’n luide “Halleluja!”.

      Die mikrofoon beweeg teen die ry af, elkeen van die helde wat getuig. Op die groot doek is daar kykweers van elke speler se beste oomblikke. Die skare doen mee, erken die oudiovisuele getuienis met langdurige applous, arms na bo gestrek soos hulle weer en weer “Halleluja!” laat galm.

      Dit is eers wanneer die heelagter moet vorentoe staan, dat dit tot almal deurdring dat Slapogie Losper nie teenwoordig is nie.

      Maar dan verskyn sy gesig op die TV-skerm, sy stem wat oor die openbare klankstelsel kom: “Ek wil net dankie sê vir die Here, Hy wat my gelei het toe ek daardie skop moes skop. Alles wat ek doen, is tot eer van my Hemelse Vader.”

      Op die doek kom Slapogie met sy kenmerkende skuins kraptreë nader na die bal. Almal sien hoe die voet weer eens deurswaai, en dan volg die kamera die bal op sy lang, roemryke pad, pale toe.

      “Halleluja!” juig die skare wanneer dit weer net-net oor die dwarslat trek. “Dis die Here!”

      Op die skerm spring Slapogie triomfantelik op en af, sy gesig vertrek in ekstase. Die aanbidders in Ramses Ellispark juig weer, hul regterarms wat na bowe gelig is, wysvingers wat na die Groot Gewer wys, hul stemme oorverdowend, amper 24 uur nadat Slapogie se skop die Springbokke die wedstryd laat wen het.

      Stadigaan kom hulle tot bedaring.

      Katstert Nel het weer die mikrofoon.

      “Ek bring vandag ongelukkig slegte nuus. Slapogie het vanoggend in ’n fratsongeluk sy toon gebreek.”

      ’n Geskokte stilte kom oor die skare.

      “Dit is vir ons ’n groot terugslag,” sê die Bokkaptein. “Maar dit is God se wil. Ons berus ons daarin.”

      Slapogie se gesig verskyn weer op die skerms.

      “Ek sal nie Saterdag teen Engeland kan speel nie. Ook nie in die final nie.” Die skare kreun. “Maar in my siel is ek reg vir nog baie rugby. As die Here my roep, dan draf ek uit! Vir Hom!”

      “Halleluja!”

      Almal staan nou op, soos een, wys met hul regterhande, wysvinger gepunt, na bo.

      “Dis die Here!” kom dit weer soos uit een keel. “Loof die Here!”

      Op die groot skerm sien hulle weer die span se twee drieë, en Slapogie se strafskop. Elk begroet met “Dis die Here!” en vingers wat wys waar ons heil vandaan kom.

      Teen die tyd dat die skerms verdoof, het Katstert Nel weer sy span en helpers afgelei van die verhoog.

      Hulle beweeg nou teen stadige pas deur die falanks van lojale gelowiges, vertoef een vir een by hulle vir selfies. Sekuriteitspersoneel beweeg soos skimfigure al om hulle heen, bedag op middeljarige gelowiges wat van die spelers probeer soen, jonger meisies wat aan hul boude probeer vroetel, e-en manlike aanhangers met soortgelyke intensies. Die selfone lig, die selfiefest neem effe langer as wat verwag is, sodat die groot


Скачать книгу