Hond se gedagte. Kerneels Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach


Скачать книгу
G&T.

      Plas maak nog een.

      “Vertel.” Fleur die journo. Sy weet rugbyspelers is ’n klomp drama queens, wat beuselagtighede opblaas tot apokaliptiese proporsies. Nou is die rugbystront buite verhouding belangrik gemaak deur die wedstryd wat oor twee weke gespeel moet word. Sy sal self besluit op watter skaal die ramp getakseer moet word. Moenie my vertel nie. Wys my.

      “’n Absolute gemors. Waar gaan ons ’n heelagter kry?”

      “Wat? Wat van Slapogie?”

      Van al die spelers met wie Fleur onderhoude gevoer het vir die boek, is die eerste gesprek wat sy met Slapogie Losper gevoer het, die een wat sy die graagste wil vergeet. Die man staan haar nie aan nie.

      “Sy regtergroottoon gebreek.”

      Sy trek ’n gesig. Slapogie is een van die span se verskeie stelskoppers. Spesialiseer in die lang skoppe, verkieslik vanuit sy span se helfte. Glo die natuurlike opvolger van die raaiselagtige plaaskind, Francois Steyn. Sy onthou hoe trots hy sy skoene uitgetrek het, sommer daar in die sitkamer van die hotel waar die Bokke tuisgegaan het vir hul wedstryd in die Baai. Die breë voete, tone met spasie tussen mekaar. Lelike tone, naels wat eers in rugbytoks begin ingroei het.

      “Ek het op grondvelde leer speel,” het hy gesê terwyl hy sy tone in alle rigtings van mekaar laat wriemel, “daar op Vanwyksvlei.”

      “Daar’s mos nie gras in jou geweste nie,” het sy gewaag.

      “Kyk, engel.” Hy was kreunend besig om sy voete weer in sy skoene terug te druk, het sommer een van die teelepels se steel as skoenhoring gebruik. “Het enigiemand jou al op Karoo-klipgrond getackle? Terwyl jy hardloop? Jy moet duidelik wees. Jy wil nie val nie. Die klippe is daar só hard mense teken daarop. Geweet niks sal dit breek nie. Ook nie iemand wat getackle word nie.”

      “Wat het dit met jou oë te doen?”

      “Die laaities van die Sharks reken ek loer dinge maar só. Soos ’n slap ogie …”

      “Oogprobleme?” Fleur sukkel met die streektaal.

      “Waar kruip jy uit? Slap, man, daai eenoog-gedierte wat styf in die pappot staan. Glibberig. Dis ekke daai. Laat nie aan my tackle nie.”

      Hy het sy hand op Fleur se knie neergesit.

      “Behalwe as dit jy is wat die tackle insit.”

      Hy het vir haar geknik. “Jy weet mos.”

      Fleur het nie sy hand weggeneem nie. Sy het vorentoe geleun en ’n groot glasbal met die hotel se logo van die tafel gelig.

      “As jy nie nou jou hand van my been vat nie, bliksem ek jou voortande hiermee uit. Verstaan jy?”

      Slapogie het sy hand weggeneem, en uitgebars van die lag. As sy nie so ernstig was nie, sou sy seker saam kon lag vir sy reeds uitgedunde gebit.

      Maurice bring haar terug na die hede. Ledig die glas met twee slukke. ’n Lange en ’n korte.

      “Hoe het die toon …?”

      “Die noodlot. Ek sê jou. Niks anders nie as suiwer noodlot.”

      “Jy weet hy het ’n ding aan die gang met die skoonheidskoningin?”

      “Verlede tyd, dearie. Maar sy was in elk geval nie naby nie.” Maurice sug. Lank. Fleur het hom nog nooit só gesien nie. “Slapogie is úit.”

      Fleur dink aan die groter konteks. Lektriek de Klerk, die span se afrigter, het groot moeite gedoen om haar te laat verstaan hoekom Katstert Nel iemand spesiaals is. En, soos sy verwag het, hoekom elkeen van die spelers presies pas in die skema van moontlikhede wat hy vir die span geskep het. Slapogie het ’n soort opvolger wat reeds lid is van die span se opleidingstruktuur: Socks Mulaudzi. Sy het afgelei, aan die manier waarop Lektriek se neus op ’n plooi trek toe hy die naam noem, dat Socks min steun van sy afrigter geniet. ’n Fenomenale verdediger vir die Sharks, vinniger as Lionel Wilson, maar stadiger as Hugh Reece-Edwards. Volgens Lektriek, en wie is sy om met hom te stry?

      “Wat van Socks?” vra sy beleefd.

      “Dis nie die punt nie,” mompel Maurice.

      “Rugby is nie alles nie,” kom dit van Plas.

      “Ag bol …” brom Fleur.

      “Dis waar,” dring Plas aan. “Haal af jou oogklappe.”

      “Slapogie sou die middelpunt wees van ons groot uitbreidingsprogram na die Noord-Kaap.” Maurice frons, staar verby haar skouer.

      “Ons …?”

      “Corpus Christi, my skat.”

      “En sy voet gaan hom hoe verhinder om dit steeds te wees?”

      Maurice antwoord nie. Hy sug en stap by Popol Vuh uit sonder om te groet. Fleur wil nog agterna, maar haar foon keer haar.

      Geordie Saayman. Nuusredakteur van die NPA – die Nasionale Pers-Agentskap, laaste reste van die eens kerngesonde Nasionale Koerante.

      “Was jy al vanoggend by die span?” Geordie neem die kortste moontlike aanloop.

      “Hoekom?”

      “Ek hoor stories oor die heelagter.”

      “Ek wou vanmiddag na Ellispark gaan. Hoor hoe hulle getuig.”

      “Die heelagter, Fleur.”

      “Geordie. Jy weet van die kontrak wat ek moes teken. Vir die boek oor Katstert Nel? Hoekom moet ek jou weer herinner dat dit ’n vertroulikheidsklousule het?”

      “Ag fok, man.”

      “Al hoor ek iets, kan ek dit nie vir jou sê nie.”

      Aan die ander kant van die toonbank staan Plas vir haar en glimlag. Filosofies.

      Joune ook, dink sy.

      8.

      In die begin van die projek nege maande gelede het Fleur besef, nog voor sy ’n woord in aantekening kon neerskryf, dat Katstert Nel sou bepaal of dinge vir haar maklik in plek sou val. Katstert se agent, Eggie Visagie, had vir haar ’n klompie persvrystellings wat hy deur die jare vir Katstert laat skep het. Die verhaal van sy kinderjare, enigste seun van die legendariese Flip Nel. Eggie se styl was op knock-and-drop-peil. Mens sou sweer die man is gedoop Die Legendariese Flip Nel. Rieme kopie oor Flip, maar niks oor Katstert se naam nie.

      Dan ook Katstert se opkoms as rugbyspeler op Hoër Jongenskool, Paarl. ’n Gebore losskakel.

      Met al dié inligting sou sy ’n geraamte kon gee, maar die vleis sou sy net deur persoonlike onderhoude kon invul. Katstert is té jonk om ’n stel primêre en sekondêre bronne te kon genereer. Naas onderhoude was daar net koerante, tydskrifte, TV- en radio-onderhoude tot haar beskikking. Boonop kon sportjoernalistiek nou, met die era van Trump en Zuma ’n onaangename herinnering van die onlangse verlede, nie van diepgang beskuldig word nie. Sportjoernalistiek sukkel.

      Fleur het Katstert ontmoet by Eggie se kantoor op Stellenbosch. Dit was een van daardie vroeë lentedae, dae van sublieme sonskyn wat onverwags oorgehewel het in ’n dag van aanhoudende reën, die nat strate swart onder die donker eiketakke met hul groen uitlopers. Lewende David Botha-skilderye.

      Hulle het sonder die agent onder Katstert se sambreel oorgestap na ’n koffieplek in Kerkstraat. Sy kon agterkom uit die manier waarop almal op straat na haar kyk dat sy nie heeltemal die modieuse persoon is wat die publiek verwag om aan Katstert Nel se sy te sien nie. Maar die tinteling, die opwinding wat sy gevoel het deur net so naby aan die aantreklike reus gesien te word, dít was vir haar uniek. Gereflekteerde glorie.

      Oorkant die koffietafel was die lenige spiere, die gemaklike tred van sy stap net ’n herinnering. Nóú is dit sy gesig wat haar aandag trek, met sy bekende diepbruin katstertkrulletjie-kuif wat soms oor sy voorhoof val, net om weggeveeg te word deur een van sy enorme hande. Oor sy aantreklikheid het sy nie getwyfel nie. Sy kon dié soort


Скачать книгу