Hond se gedagte. Kerneels Breytenbach
Читать онлайн книгу.oë en die langste wimpers wat sy nog aan ’n man gesien het.
Hy is getroud. Anjetta. Volgens Eggie.
Sy het hom gevra of dit moeilik was om in die huis van ’n lewende legende groot te word.
“Nee, definitief. Ek was nie baie tuis nie,” het Katstert geantwoord. “My pa-hulle het my vroeg al kosskool toe gestuur. Die politiek was nie lekker nie. My pa se sienings …” Fleur kon sien hoe sy oë in die vertrek beweeg, sy blik wat uiteindelik rus op ’n klein skildery tussen twee van die vensters, “en my ma was té vrygeestig vir sommige van die ooms in die Noorde. Boishaai was in sommige opsigte my ouerhuis. Maar ek verkwalik niemand nie. Kyk waar is ek!”
Sy het weer die aandag van sy oë gehad.
“Het jy jou ouers goed geken?”
“Natuurlik! Baie lief vir hulle. Maar jy moet miskien John Miles se Blaaskans gaan lees, as jy die volle prentjie wil kry. My pa het altyd gesê alle gelukkige gesinne is dieselfde, maar ongelukkige gesinne is ongelukkig op hul eie manier. Om jou die eerlike waarheid te sê, ek hou nie daarvan om oor hulle te praat nie. Dis vir my iets wat nie ander mense se saak is nie, jy weet.”
Sy manier van gesels het haar op haar gemak gestel. Warm en simpatiek, sy stem diep genoeg om haar te laat besef dat hy ’n uitstekende basstem in ’n koor sou wees. Katstert se rustigheid was ontwapenend. Sy het die toemaak van die deur op sy ouers se lewens aanvaar sonder om weer te probeer.
In die loop van daardie eerste gesprek het sy tog ’n beeld kon vorm van sy jeug, sy drome. Hy het gebabbel, as sy dit só kon beskryf. Sy kinderjare, liefde vir sy grootouers. Hoe hy leer fietsry het. Eerste liefde. Sy skooljare. Sy vakansies. Sy heldeverering vir Flip Nel.
’n Leiersfiguur gevorm deur sowel skool as ouerhuis.
Hy het ligweg gelag toe sy wegval met die een vraag wat sy móés vra: “Watse soort naam is Katstert? Is dit oor jou kuif?”
“Baie mense dink so. Maar eintlik is dit ’n verwysing na die plaas waar ek gebore is. Katstaertlaagte.”
Fleur het na haar tablet gekyk, gevoel hoe sy begin bloos. Sy was verniet negatief oor sy bynaam. Sy moes haar by haar vooropgestelde vrae bepaal het.
“Is jy gemaklik met die rol van kaptein?”
“Dis maar iets wat so met die jare saam aankom. Mens weet nie hoekom nie, maar mense kyk op na jou. Jy aanvaar dat dit só moet wees. Miskien is dit jou passie vir die trui waarin jy speel. Jy is dan die een wat besluite neem op die veld, en ander luister. Hulle is jou dankbaar vir die potensiaal wat jy in hulle ontsluit. Soms was daar spanmaats wat dwarsgetrek het, op skool. Maar ek was die wedstrydwenner.” Hy het verleë gelag. “Mense val makliker in agter wedstrydwenners.
“Ja, definitief is ek meer gefokus op die probleem op hande. Ek wil nie te veel oor die verlede nadink nie, want dan raak ek altyd oorbewus van die verantwoordelikhede wat daarmee saamgekom het. Dis al klaar erg genoeg soos dit is. Ek soek nie nuwe probleme met die ou verpligtinge nie.”
“Jy was al op skool kaptein?”
“Meestal. Skool is ’n uitskudproses.”
“Wat maak jou anders as ander kapteins?”
“Is ek regtig? Anders? Ek glo nie. Alle kapteins het dieselfde probleem.”
“En dit is?”
“Nie om te lei nie, maar om vyftien spelers saam te snoer tot een denkende organisme.”
“Is dit wat die Australiërs, Engelse, Franse ook doen? Die All Blacks?”
“Nee, definitief. Waar ons van mekaar verskil, is die manier waarop ons dit regkry om ’n span wat besig is om te verloor weer te laat glo hulle kan wen. In die hier en nou. Daai is die grootste toets. Want dit gaan oor selfrespek. As mens op die veld is, en jy begin verloor …”
“Dan is die kaptein die enigste een wat werklik vir elke speler omgee?”
“Absoluut.”
Katstert het afgekyk na sy hande. Fleur het sy oë gevolg, die pragtige lang vingers gesien wat die suikerpotjie al in die rondte draai.
“Selfrespek,” herhaal hy. “Selfrespek en die maklikste manier om jou ego ondergeskik te maak aan die spangees.”
“Gees. Nie ’n lekker woord nie.”
Katstert het geglimlag. Fleur het ongemaklik in haar stoel geskuif – Katstert het gesien hoe sy haar neus op ’n plooi trek.
“Ja, gees. Waarsonder ons nie kan nie.”
“Ek verwar dit miskien met gees rondom die braaivleisvure.”
Katstert het geglimlag.
“Ongetwyfeld,” antwoord hy uiteindelik. “By die span is daar baie gesigte van die gees. Houding. Bravade. Windgatgeit op die veld. Ondersteuning van spanmaats. Die viering van drieë. Jy sal in die toernooi sien dat ons met al die omhelsery en rituele wegdoen. Ons sal eenvoudige dinge doen, want ons weet dit is nie ons wat die eer verdien nie.”
“Wie dan?”
“Ons Skepper.”
“Is jy ernstig?” het Fleur gevra.
Hy het vir haar geglimlag, en sy kop bevestigend geknik.
Fleur het na die lagplooitjies by sy oë gekyk, en toe die blou oë gevind, besig om haar te takseer.
“Ek het gewonder oor die invloed van Corpus Christi,” het sy effens verbouereerd geantwoord.
“Corpus Christi is mensgemaak, ’n maatskappy. Ons, ek praat nou van die Bokke, ons sekerheid spruit uit ons geloof.”
Sy het afgekyk na die stapel persverklarings wat Eggie haar gegee het, Katstert Nel se geskiedenis in keurige taal. Van sy laerskooldae tot by die aankondiging dat hy Springbokkaptein is. Sou haar gevoel oor Katstert Nel en rugby in die algemeen meer positief gewees het as sy gelowig was?
“Raak dit nie ’n probleem,” het sy die rigting van die gesprek probeer verander, skielik oorbewus van die rysige figuur oorkant die tafel, en hoe klein haar skeptisisme haar laat voel, “wanneer jy die span moet motiveer om meer aggressief te wees nie? Om geweld met geweld te beantwoord nie?”
“Ja, definitief. Ons is nie dwepers nie. Maar jy moet onthou, ons het gees. Die Gees. Met ’n hoofletter G.”
Sy antwoord het nie dadelik by haar begin spook nie. In elk geval, nie waarvan sy bewus was nie. Maar dit hét.
9.
Fleur op die Triumph, voorwaarts na Ramses Ellispark, vir die middag se diens. Die tweede keer op hierdie wintersdag doen sy iets heeltemal teen haar sin. Corpus Christi het haar ’n vrypas na alle wêreldbekerwedstryde gegee. ’n Klein implantaat in haar arm wat haar by al die aftasters by die hekke laat registreer as ’n ex officio-bywoner. Natuurlik is die dankseggingsdienste op die Sondae ná die Springbokke se wedstryde vir haar oop. Fleur vind haar weg na die persbanke, waar net enkele veterane vandag aan diens is. Joernaliste praat altyd oor twee dinge: die freebies, en die kropgevoel. Albei moer op die maag. Gister was die persbank volgepak, vir die wedstryd teen Australië. Nou sit net ’n paar van die ou hande met botteltjies water voor hulle. Dit het nog nie heeltemal tot almal in die media deurgedring dat dankseggingsdienste waarlik deel is van die groter rugbykonstruk nie. Dis moeiliker om oor geloofsbetuiging te skryf as oor rugbywedstryde.
Maar ná vandag sal hulle nie weer durf wegbly nie.
Sy gryp haar foon. Teks aan Geordie:
<Sorg dat jy iemand by Ellispark kry. Nou!>
Dit is nie die eerste dankseggingsdiens wat Fleur bywoon nie. Sy moes sekere opofferings maak vir die skryf van Katstert Nel se biografie. Jare laas in die kerk, nou skielik elke week saam met ’n moderne gemeente. Elke keer dat sy haar vir die diens aangemeld het, was sy verbaas oor die opkoms. Ramses Ellispark het gister 60 000 betalende bywoners gehad,