Hond se gedagte. Kerneels Breytenbach
Читать онлайн книгу.nie?” Schvantz se ooglede sluit lui en gaan dan weer oop, asof die vars lug en die sonnetjie hom baie vaak gemaak het. Meer as tagtig somers en die ooglede begin tekens van traagheid wys. Sluit langer, open traer.
Fleur kyk na Krystle, nou weer die minsaamheid vanself.
“Is dit nie heerlik om deel te wees van ’n geskiedkundige paar weke soos hierdie nie?” Jaap Schvantz is vrolik.
’n Briesie beweeg oor die terras, veeg Fleur se hare in haar oë. Sy trek dit met ’n stadige sekerheid terug, kyk vlugtig na ’n groepie Japanse rugbytoeriste by ’n tafel verder aan, en Maurice Kumalo wat tussenin staan en teks op sy selfoon.
“Almal wat net rugby lees, slaap en leef.” Krystle sit haar hand op Jaap se arm. “En Sondae hul offers bring en dankbaarheid getuig?”
“Dink u nie ons land het ’n wesentlike transformasie ondergaan nie?” vra Jaap Schvantz. “Geestelik gesproke …”
“Wel ja, definitief.” Fleur veeg weer haar hare vererg uit haar oë. Sy praat nou al nes Katstert Nel.
“’n Radikale transformasie van die gees,” sê Schvantz.
Die tablet voor Krystle maak ’n geluid, soos iemand wat haar aandag met ’n gefluit wil trek. Sy trek dit nader, haar silwerarmbande wat klingel en haar vingers wat doelgerig oor die skerm beweeg.
Krystle kyk op. “Ons moet gaan.”
Sy en Jaap deel ’n blik en ’n glimlag. Nóg ’n spesiale oomblik. Nóg ’n herinnering.
“As jy verdere vrae het, stuur maar via Maurice aan,” sê Jaap Schvantz.
Hulle staan op. Laat Fleur met geen keuse as om hul voorbeeld te volg nie.
“Saterdag gaan ’n historiese dag wees.” Schvantz reik Fleur die hand. “Ons het alles voor ons weggevee. Saterdag kom die wêreldbeker terug Suid-Afrika toe.”
“Eers oor twee weke, Pappie.” Krystle glimlag fraai. “Saterdag eers Engeland afslag.”
Schvantz skud ook haar hand. “God sy gedank,” sê hy. “Onthou die konsentrasiekampe.”
In die wegstap draai hy nog vir oulaas om en met ’n knipoog lig hy sy regterhand en swaai soos ’n Romeinse keiser die duim na onder: “All Blacks,” vorm sy mond die naam van die vyand. Dan skuifel hy en Krystle agter Maurice Kumalo aan en verdwyn in die hotel se voorportaal.
Fleur staar hulle agterna. Oorbluf.
Tussen die lyfwagte deur sien sy die trae gang van Jaap Schvantz en die modieuse Krystle langs hom, haar arm op sy elmboog, en onthou hoe Maurice hulle in die begin aan haar verkoop het. Bouers van ’n magtige sakeryk.
Die bliksems het haar nie eens koffie aangebied nie.
3.
Krystle en Jaap sit agter in die groot Rolls-Royce Phantom, staar na weerskante by hul ruite uit. Die middelste baan van die N1 is die veiligste. Hulle flits verby enkele stadig bewegende vragmotors en afgeleefde bakkies, motors en eerstegenerasie taxi’s. Regs van hulle skiet die nouveau riche met hul sportmotors en Duitse wonderwerke een ná die ander luuksueus verby. Die bestuurder het die afskorting aangebring, sodat hulle privaat kan praat. Die N1 is nie te besig op die Sondagoggend nie. Die Rolls bestuur homself. Dit is eers wanneer hulle wegswaai en naby die Corpus Christi-kampus is, op die perseel van die ou Kyalami-renbaan, dat die verkeer toeneem en die bestuurder beheer terugneem.
“Sal ons die onderhoud toelaat?” Krystle moet effens harder praat as gewoonlik. Jaap se gehoor is nie meer wat dit moet wees nie, en die Rolls se klimaat- en lugbeheer is op ’n toonhoogte wat sy ore irriteer. Hy sukkel om enigiets in besonderheid te hoor.
“Kan Maurice dit beheer? Ons kan nie toelaat …” Hy verlang só na die ou dae. Toe hy kon staatmaak op amptenare wat nie vrae gevra het nie. Wat as laaste uitweg gepraat het, wanneer die luisteraar se pyn ondraaglik was.
“Dis sy werk. Maurice móét dit eenvoudig maak werk.”
“Die afrigter sal saamwerk?”
Krystle lag sag. “Natuurlik. Hy is ’n goeie toneelspeler. Mos.”
Die Rolls-Royce swaai by die kampus se groot hek in. Al die ingeboude sensors in hek én motor sorg dat hul vordering seepglad is. Geen gewag vir hekke of sekuriteitsklaring nie. Krystle kyk met trots na die imposante weergawe van Nebukadnesar se beroemde Isjtar-poort. Krystle het die argitek Berlyn toe gestuur, om die poort in die Pergamon te gaan besigtig. Die argitek het dit effens aangepas by die omstandigheid. Die blou mure met goue inlegwerk is nog eie aan Nebukadnesar se ontwerp, maar die hek is baie verbreed en ’n venstertjie is aan die binnekant van die twee pilare aangebring, waaruit elke besoeker ’n digitale ontvangs en akklimatisering geniet.
Die motor beweeg statig en doelgerig in die laning na die voorhof van die kampus. Hier binne is hulle onbewus van die flitsende effek van die sonlig op die vensters, bewegende skadupatrone, gevorm deur die takke van die groot jakarandas.
“Indien nie,” sê Jaap Schvantz, “kan ons altyd …”
“Dit sal nie nodig wees nie.”
Krystle sien nie amptelik kans vir een van die “planmakers” uit Jaap se verre verlede nie.
Hulle sien hoe die deurwag naderbeweeg wanneer die motor tot stilstand kom.
“Ons moet net sorg dat sy met die boek besig bly,” mompel Krystle.
4.
Die dag is warm genoeg vir die Triumph. Fleur gebruik die deels gerestoureerde Bonneville om vinnig deur die Sabbatsverkeer te beweeg. Die Triumph is nie heeltemal so rats soos ’n moderne motorfiets nie. Fleur se arms ook nie heeltemal so sterk as wat sy wil hê nie. Maar dit neem haar maklik tien minute minder as ’n motor om van Hotel Bonheur tot by Popol Vuh in Parkhurst te ry. En dan het die motors nog die voordeel van die nuwe navigasietegnologie.
Nie eintlik Fleur se gebruik om op Sondag só vroeg daar uit te slaan nie, maar dis spesiale omstandighede. Die plek is nog leeg voor die noen. Fleur gooi haar helm en dinge neer op ’n stoel by haar tafel in die agterste hoek, keer terug na die toonbank, waar Plas Johnson reeds haar koppie flat white neergesit het.
Dít is vir Fleur die hemel. Popol Vuh met sy hoë staalplafon en baksteenmure. Die lang vertrek met die lig wat by die oop stoep instroom en nie die vertroostende skemering van die vertrek kan binnedring nie. Dis hier waar sy kan sit en die dinge wat haar balans versteur, een vir een wegskil uit haar gedagtes. Haar ma. Die biografie. Ook: Hoe lanklaas sy ’n verhouding aan die gang kon kry. Daar was belangstelling – maar nie van haar kant af nie.
Fleur buk vorentoe om die geur van die koffie te geniet. Haar blik gepen op die groot afdruk van ’n handgetekende plakkaat vir die film Aguirre – der Zorn Gottes, sigbaar oor haar skouer in die spieël voor haar.
Plas Johnson staan voor haar. Lig sy wenkbroue, die vraag onuitgesproke.
“Hulle hou daarvan.”
Hy glimlag. “Maar?”
“Ek moet nog werk daaraan.”
Plas is besig om die voorraad van koue bier onder die toonbank na te gaan. “Soos jy verwag het,” kom sy stem van agter die toonbank.
“Soos ek verwag het.”
Sy neem fyn slukkies van die koffie.
Plas kom orent. “En …?”
“Niks. Geen geheime nie. Hulle steek niks weg nie. Die afrigter is maar so eenkant. Dis hoe hy dinge doen.”
“Dis twee weke voor die eindstryd. As daar geheime is, sal hulle nou al só gewoond wees om dit te beskerm.”
“Dis hoekom ek nóú moet toeslaan.”
Plas het agter die toonbank uitbeweeg. Maak laaste verstellings aan tafels, skuif eetgerei reg, sorg dat servette