Hond se gedagte. Kerneels Breytenbach

Читать онлайн книгу.

Hond se gedagte - Kerneels Breytenbach


Скачать книгу
se Dagjoernaal

      Donsie Rensburg (Beeld): Springbokke se groot terugslag: Die redder is uit! Slapogie se voet is op voorblad, lewensgroot. Lang berig, min nuwe feite.

      Jon-Jon Blake (The Eye, Londen): Krag, krag, krag. Ons weet wat om Saterdag van die Bokke te verwag. Ons is nie bang vir hulle nie, sê Engelse afrigter.

      Lirim Emini (The Wage, Sydney): Skok oor toets wat té lank was. Skeidsregter het die wedstryd toegelaat om drie minute langer te duur as wat reëls bepaal.

      Anthony Blumberg (Channel 7, Melbourne): Aussies se trots bly op die gras van Ellispark agter. Dit was geen vernedering nie.

      Sandy Duncan (Daily Witness, Londen): Engelse helde vier oorwinning oor Wallis. Nog net een struikelblok voor – en hulle het hul eie held verloor. Hy het ook ’n essay oor godsdiens en rugby.

      Chris Welch (The Standard, Londen): Klagtes oor hotel in Port Elizabeth waar Engelse tuisgegaan het voor wedstryd teen Wallis. Afrika wys sy alleraakligste gesig – vuil badkamers, stukkende beddens.

      Spencer Carlos (The Sentinel, Wellington): Franse staatmakers beseer. Ons moenie oorgerus raak nie. Maar ons glimlag. Ons gaan weer die beker terugvat Nieu-Seeland toe. Alles op koers, sê afrigter.

      Zac Going (The Auckland Advocate): Easy peasy. In hierdie laaste twee weke kan die Kiwi’s hul kuns afrond en vervolmaak. Ons het die beste span in die toernooi.

      3.

      Krystle en Jaap eet ontbyt saam met Kumalo op hul stoep. Die groot glasvensters en die ondervloerse verhitting hou die winter buite. Die vensters self is digitaal geaktiveer en vertoon ’n oggendtoneel langs die see, die satellietvoer deur Corpus Christi gefasiliteer, sodat die Schvantz-egpaar die rustigheid van die ongerepte natuur ten noorde van Ballito kan indrink, hulle selfs verbeel hulle hoor hoe die branders breek en die see klots.

      In Maurice se hart woed ’n storm. Hy is beangs en gee nie om dat Jaap en Krystle hom in hierdie toestand sien nie. Vandaar sy irritasie met die kalmte waarmee albei hom oor hul muesli en jogurt betrag.

      “Kan mens niemand vertrou nie?!” Maurice gooi sy servet langs sy koppie koffie neer. “Jissis.”

      “Nou nie ’n woord wat ons in hierdie omgewing uit plek uit gebruik soos jy nie, Maurice.” Dit lyk of Krystle wil glimlag, maar sy kry haarself nie sover nie. Sy hou haar hande besig deur die koffiekoppie ligweg te streel, ingedagte, asof sy die skouer van ’n minnaar onder haar vingerpunte voel.

      “Woorde! Wat maak dit saak. Daai twee slette gaan ons nog baie probleme verskaf!”

      “Hulle kan nie meer praat nie.”

      Krystle het al vroegoggend vir Schvantz op hoogte gebring met die stand van sake. ’n Noodwendige gevolg van ’n vertrouensbreuk tussen hulle en hul oppasser. Sy het so min as moontlik vir Schvantz gesê ná sy die oggend vroeg ’n oproep ontvang het. Hy hoef nie alles te weet nie.

      Kumalo ook nie. Krystle hou haar kaarte dig teen haar bors.

      “Wie het besluit om van die plan af te wyk?” Maurice is in sy gedagtes besig om inligting te versamel. Hy antisipeer baie vrae van die media. “Ek dag hulle sou nou in ’n vliegtuig op pad terug na Buenos Aires wees.”

      “Dit was nie ’n besluit nie,” sê Jaap Schvantz, eintlik ’n preweling.

      “Dit het seker net gebeur.” Krystle het hierdie gewoonte, laat Jaap nooit klaar praat nie. “Hulle wou seker die bal saamvat.”

      “En as die polisie die twee met Slapogie verbind?” Maurice se histerie lig sy stem tot net onder ’n falsetto.

      “Onvermydelik.”

      “Kan ons nie iets doen nie …?”

      “En die toepassing van die reg verydel?”

      “Slapogie … Die arme kind.”

      “Sy loopbaan sal ’n rukkie tot stilstand kom.” Jaap Schvantz glimlag.

      “Maar dan sal hy kans kry om hom voor die volk op die grond neer te werp, en vergifnis te vra vir sy dwaling,” sê Krystle.

      “’n Tragiese held,” Schvantz krap ’n kolletjie net regs van sy kroontjie, “sou mens kon sê.”

      “’n Mens sou kon,” antwoord Krystle, “veral as hy weer span kry ná ’n dramatiese belydenis voor ’n vol Nuweland een Sondagmiddag wanneer die son reeds agter Tafelberg se rug gesak het …”

      “Dramaties en oeroortuigend,” sê Schvantz. “Sy trane sigbaar op die groot skerm, in kykweer op kykweer.”

      Maurice se skouers hang.

      “Julle het dit reeds uitgewerk?”

      Sy blus is uit. Maak nie saak hoe hard hy werk nie, Jaap en Krystle is hom altyd een voor.

      Die egpaar glimlag albei goedig.

      Buite in die tuin kom hul pou aangestap, sy vere bymekaargetrek agter hom.

      Wanneer Kumalo wegdrentel, hoor hy Schvantz vra: “Weet jy wat presies gebeur het?”

      Laat Krystle maar die ou Spook hanteer, dink Maurice. Net sy en die Here weet wat gebeur het.

      4.

      ’n Verpleër neem Fleur na haar ma se kamer. Sy is al gewoond aan Huis Avondrus se lang gange, en die klank van televisiestelle wat iewers skel in die sitkamertjies waar die mense hul dae deurbring. ’n Eindelose herhaling van sepies vir mense wat geen draad meer kan volg nie.

      Haar ma wou vandag nie sitkamer toe gaan nie, lig die verpleër haar in. Niks uitsonderliks nie. Soms voel die oumensies nie lus vir ’n gedrang nie.

      Triestig, só triestig.

      Sy vind haar ma voor haar wasbak, besig om hande te was.

      “Moeder?”

      “Wie vra?”

      “Fleur.”

      “Fleur?”

      “Jou dogter.”

      “O.”

      Die nuwe ritueel in haar lewe.

      Ontkenning, verduideliking. Onwillige aanvaarding.

      Dis ’n klein vertrek: bed, bedkassie, leunstoel, kas, en tafeltjie waarby sy kan sit en lees. Of wat iemand wat nie meer kan lees en skryf nie ook al by ’n tafel doen. ’n Deur lei na ’n bad, wasbak en toilet. Wat Siena de Villiers nog gebruik, op haar eie. Soms met hulp.

      Fleur sit in die gemakstoel en kyk hoe haar ma hande was. In ’n winterspakkie, met haar kamerjapon oor haar skouers.

      “Sal ek Moeder help met die naels?”

      Siena vee haar hande droog, kyk na die naels.

      Dan draai sy die kraan weer oop, maak haar hande nat en seep hulle in.

      Fleur staan op, help haar ma om haar hande af te droog, lei haar na die gemakstoel.

      “Jy kan my Ma noem as jy wil.”

      Fleur voel hoe haar skouers swaar word. Sy gaan sit op haar ma se bed.

      “Goed. Ma.”

      Hoeveel keer, wonder sy, is sy in haar kinderjare gestraf omdat sy nie haar ouers op die korrekte manier aangespreek het nie? Moeder en Vader? Die korrekte manier van dinge doen, het Siena altyd met haar ysigste stem verklaar, is die enigste manier om dinge te doen. “Toon respek, Fleur. Ons is jou ouers. As jy ons nie behoorlik ag nie, hoekom sal die mense in die gemeente dit doen?”

      In die jare ná haar pa die sending verlaat het en weer ’n wit gemeente gehad het, het Siena toegeslaan. Siena de Villiers is ’n etiket-nazi. Dit het Fleur op skool al skaam gemaak vir haar ma, veral weens die handleiding Die Regte Manier Om Te Lewe wat Siena geskryf en verpligte leesstof onder die gemeentelede gemaak het. Tydens Fleur se universiteitsjare


Скачать книгу